Die Van Stadens-veldblomreservaat mag nou wel piepklein wees, maar dié parkie van 600 ha net buite Gqeberha is ongetwyfeld een van die Oos-Kaap se groen geheime, skryf Jacques Marais.
Suid-Afrika se ikoniese Tuinroete begin amptelik net 35 km wes van Gqeberha. Moet beslis nie hierdie reservaatjie op die rand van die Van Stadens-ravyn misloop nie.
Hierdie betowerende blomparadys, geleë reg op die oostelikste grens van die Kaapse blommeryk, is 'n toeganklike en veilige toevlugsoord vir mense wat graag van die stad se gejaag wil ontsnap. Reisigers wat gees en liggaam wil herlaai ná 'n lang tog op die N2 kan gerus hier aanklop vir 'n kosbare uur of twee se natuurterapie.
Van Stadens is alombekend as die mees oostelike punt van die fynbos-bioom, met proteas en erikas wat 'n kerndeel vorm van hierdie fynbosstelsel.
Jou enigste probleem is dat jy langer gaan wil talm, want hier is net te veel wegsteekplekkies om te ontdek.
Goed 'n dosyn staproetes wag om verken te word, met alles van vinnige 30-minute-uitstappies tot tegniese voetpaadjies wat teen die regaf hange van die ravyn langs kronkel.
Stappers kan rustig wandel al met goed gemerkte roetes wat luilekker deur inheemse fynbos draai, of kan ook fiets opsaal om met die reservaatpaaie langs te trap. Om elke hoek en draai wag daar poskaart-mooi panoramas en jy kan altyd 'n blaaskansie neem by een van die voëlskuilings of op die oewer van 'n lelie-bedekte dammetjie.
Ruwe klowe en digbegroeide inheemse bos voer stappers tot in die immergroen hart van 'n sprokieswoud. Bosreuse - besnoer met oumansbaard en bottelgroen mos - beur hier na bowe, met kruine wat nou en dan in die mis wegraak.
Dit is hier waar 'n mens werklik die Van Stadens-veldblomreservaat se wilde kant betree. Nou en dan gewaar jy - net vir 'n oogwink - 'n bosbok of duiker en jy hoor die boggom-blaf eggo van bobbejane wat bo teenaan die loodregte kranse roggel.
'n Kuifkop-arend mag dalk op die wind verby jou swiep, en Knysna-loeries en bosloeries lawaai hoog in die takke terwyl hulle op bessies in eeu-oue geelhoutbome feesvier. Sampioene en fungi spruit in goudgeel en oranje uit verrottende boomstompe, en 'n mens verwag half dat een van Lord of the Rings se kabouters magies uit die skadu kan materialiseer.
Meer en meer fietsryers bring deesdae hul ysterperde om die reservaat te verken, want die terrein is toeganklik genoeg vir beginners en families. Die vloei is gemaklik en glad nie tegnies nie, maar daar is wel 'n paar kort, opwindende stukkies enkelspoor vir meer ervare ryers.
Hierdie roetes is egter meer geskik vir veld-hardlopers of stappers en jy gaan vir seker jou kuite voel wanneer jy draf, stap of trap.
Asemrowende uitkykpunte, geskiedkundige Khoisan-rotskuns, miskien 'n rooikat of selfs 'n bosvark . . .wie weet wat op jou wag?
Besoek www.fovs.co.za vir meer inligting.
- Marais is 'n avontuurskrywer en bekroonde fotograaf van Kaapstad.
Die Vriende van Van Stadens is 'n groep mense wat saam met die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit help om die reservaat te onderhou. Dis 'n lushof vir fotograwe. Hier is my drie foto's

Brug uit die lug
Fotodata:
- Kamera: DJI Air 2
- Sluiterspoed: 1/8 sek.
- Lensopening: f2.8
- ISO: 330
- Lens: 24 mm (35 mm-ekwivalent)

Douvoordag-juwele
Wanneer ek lig en vinnig wil beweeg, pak ek altyd my klein Sony a6600 met sy APS-C-sensor. Die kamera weeg omtrent niks, pas in die kleinste sakkie en lewer foto's van puik gehalte, veral wanneer jy dit saam met 'n gehaltelens soos die TTArtisan 40 mm f2.8 Makro inspan. 'n Lae hoek en kort fokusafstand - met die son wat net oor die horison loer - verander doudruppels in diamante.
Fotodata:
- Kamera: Sony a6600
- Sluiterspoed: 1/3 200 sek.
- Lensopening: f2.8
- ISO: 100
- Lens: TTArtisan 40 mm f2.8

Goud in die mond
Die skrywer en sy fiets net voor sonsopkoms in die Van Stadens-veldblomreservaat. Aksiekameras soos die Insta360 maak dit maklik om 'n selfie te neem wanneer jy op jou beste in Moeder Natuur kuier. Plaas die kamera op die grond, stel die afteller, en druk net die sluiterknoppie!
Fotodata:
- Kamera: Insta360 Ace Pro
- Sluiterspoed: 1/200 sek.
- Lensopening: f2.6
- ISO: 266
- Lens: 16 mm (35 mm-ekwivalent)
Padlangs
Volg die N2-hoofweg, neem afrit 710 en draai wes op Van Stadenspas-weg. Ná ongeveer 2 km sal jy die ingang na die reservaat op jou regterkant sien. Die beste nuus ooit? Toegang is gratis! Maar jy kan natuurlik ietsie skenk aan die Vriende van Van Stadens wat help om die pragtige plek in stand te hou. Dis 'n plek waar jy heeljaar kan kuier. Desember tot laat April is dit redelik warm, maar daarna raak die dae matig tot koel. Koue en nat weer tydens Junie tot Augustus kan verwag word.


















