Reis

Kuberkuier: E-pos uit Besancon, Frankryk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Hoekom Frankryk?

Ek het 'n oerliefde vir die Franse taal, en waar beter as in Frankryk self om meer daarmee te doen te hê? Ek het 'n graad in tale op Potchefstroom verwerf, met Frans een van my hoofvakke.

My liefde vir tale kom uit my kinderdae waar ek voortdurend blootgestel is aan veeltalige kinderboekies en opvoedkundige sagteware.

Ek onthou goed hoe ek en my sussie een middag in 'n boekwinkel ingestap het, doelgerig op soek na nóg 'n speletjie. Ons is opgewonde daar weg met 'n CD, Talk Now: French!.

Met die vasberadenheid van 'n nuuskierige kind het ek daar en dan besluit om eendag Frans te leer.

Ek het as student gehoor van Campus France, 'n organisasie wat Suid-Afrikaners help om in Frankryk te gaan swot met 'n beurs van die Franse regering.

Ek digitaliseer ou geskrifte tydens my internskap by Huis van het Boek in Leiden. Foto: Arnoldia Pienaar
Ek digitaliseer ou geskrifte tydens my internskap by Huis van het Boek in Leiden. Foto: Arnoldia Pienaar

So beland ek in Augustus 2021 in Besançon in die ooste van die land, waar ek in Junie verlede jaar my meestersgraad in antieke geskrifte en digitale geesteswetenskappe voltooi het.

Besançon se pragtige ou katedraal is in die twaalfde eeu gebou. Foto: Getty Images
Besançon se pragtige ou katedraal is in die twaalfde eeu gebou. Foto: Getty Images

Dit het my nie lank geneem om verlief te raak op die plek nie. Besançon is 'n pragtige ou stad, gebou uit die mooiste wit stene met 'n interessante geskiedenis.

Dis naby die Switserse grens, in die kromming van die Doubsrivier teenaan die Jura-bergreeks en bekend as die groenste stad in Frankryk.

Die promenade langs die Doubsrivier. Foto: Arnoldia Pienaar
Die promenade langs die Doubsrivier. Foto: Arnoldia Pienaar

Dit spog met 'n sitadel wat oor die stad uittroon, verskeie forte en Romeinse ruïnes, soos 'n amfiteater en triomfboog. Die sitadel en forte, wat deur die bekende leëroffisier en ingenieur Vauban in die tyd van Louis XIV gebou is, is 'n Unesco-erfenisterrein.

By 'n opvoering in Besançon se lieflike teater. Foto: Arnoldia Pienaar
By 'n opvoering in Besançon se lieflike teater. Foto: Arnoldia Pienaar

Besançon is 'n belangrike stad in die Franche-Comté-streek, ten opsigte van militêre, politieke en godsdiensgeskiedenis, asook horlosiemaak. Vandag spesialiseer dit in verskeie mikrotegnologieë.

Wat maak Frankryk so besonders?

So baie dinge: die kos en wyn, die ryk geskiedenis, gesofistikeerde argitektuur, literatuur en kultuur, die modes en goeie smaak.

Maar vir my is dit iets anders: Is dit nie opmerklik dat 'n land met soveel "knorrige" mense so 'n betowering vir die wêreld inhou nie? Die feit dat so baie mense jaarliks hierheen kom, óndanks die Franse se onbehulpsaamheid, getuig dat liefde geen voorwaardes het nie.

Die Franse het 'n punt beet met hul gesegde "she's got that je ne sais quoi".

Hoekom, kan ek nie sê nie, maar ek wil keer op keer hierheen terugkeer.

Hoe ervaar jy die mense?

Dit wissel van streek tot streek. My belewenis is beperk tot die noordooste van die land.

In vergelyking met Suid-Afrikaners kan die Franse voorkom as gereserveerd, diplomaties en nie-verwelkomend.

Aan die ander kant het hulle 'n unieke vernuf om alles in 'n delikate kuns te verander. Hoe hulle alledaagse dinge doen, soos gesprek voer, of kos berei, is alles so weldeurdag.

Ook hul klein "ritueeltjies", soos die apero (spreektaal vir apéritif), waar 'n groep vriende of familie net voor ete bymekaarkom om southappies en 'n drankie te geniet.

Dit is dan verkieslik om sekere onderwerpe te vermy, ter wille van 'n lighartige atmosfeer.

Hulle is ook baie geheg aan hul seisoenale feeste, wanneer geliefde kosse berei word by restaurante en opelugmarkte. Dis hierdie oog vir detail waarvan ek baie hou.

Kan jy vlot Frans praat?

Dit hang af wie jy vra! My familie sal sê ek praat perfekte Frans. Die Franse sal sê ek praat beter as wat hulle verwag het. Ek dink self dat ek nooit regtig vlot sal praat nie, want ek leer omtrent elke dag 'n nuwe woord.

Mense vergelyk dikwels die aanleer van 'n taal met bergklim. Vir my is dit eerder soos om 'n klomp opeenvolgende koppies uit te stap.

Party dae praat ek beter as ander, maar ek praat die mooiste as ek my ophou bekommer of mense my foute opmerk.

Kosse wat 'n toeris móét probeer?

Kersliggies by 'n mark in Besançon. Foto: Arnoldia Pienaar
Kersliggies by 'n mark in Besançon. Foto: Arnoldia Pienaar

Omtrent alles hier is 'n smaak-avontuur. Kaas en baguette staan uit. En die soetgebak is onweerstaanbaar en onmoontlik om van te kies!

Franche-Comté word baie beïnvloed deur sy buurstreek Elsas met sy Duitse invloede.

In die omgewing sal jy delikatesse kry soos tartiflette (aartappel, spek en uie met 'n sous van witwyn en reblochon-kaas), cancoillotte ('n loperige kaas), mont d'or ('n ryk kaas, dikwels gemeng met witwyn en voorgesit met aartappels).

Vir vleisliefhebbers, choucroute (gefermenteerde kool bedien met varkvleis).

'n Besançonse kroeg oor Kerstyd. Foto: Arnoldia Pienaar
'n Besançonse kroeg oor Kerstyd. Foto: Arnoldia Pienaar

Kersfees is daar die geliefde galette des rois, "koningskoek" gevul met frangipane, 'n soet amandelvla. Dit word gebak met 'n klein porselein-speelding in, en word verkoop met 'n papierkroon. Die een wat die speelding raak byt, word as die koning gekroon.

Franse klerestyl is . . .?

In Parys, al die kombinasies van die mooiste Pinterest-uitrustings wat jy nóg gesien het.

Hier waar ek bly, subtiel, sjiek en strategies stylvol. Selfs in ysige weer kom hulle elegant voor. Terwyl ek dan soos 'n pikkewyntjie in 'n pofferjas rondskuifel.

Neem die drie verskillende winterjasse in die winkels: 'n baie warm pofferjas, 'n mediumwarm woljas, en 'n ligte trenchjas.

'n Franse vrou wat net één kan kies, sal 'n mediumwarm woljas in 'n neutrale kleur koop en dit dan meer of minder formeel laat lyk met juwele, skoene en handsakke.

Die jas word met klere in lae aangepas by wisselende temperature. Ek het die dikste jas gekies, een wat nie baie vleiend is nie en hopeloos te warm vir warmer dae.

Vertel oor die openbare vervoer.

In die ou centre-ville van die stad, met 'n trem op die agtergrond. Foto: Arnoldia Pienaar
In die ou centre-ville van die stad, met 'n trem op die agtergrond. Foto: Arnoldia Pienaar

Soos tipies in Europa, is dit uitstekend en taamlik bekostigbaar. Daar is bus- en tremlyne in omtrent al die stede, en Parys het die maklik navigeerbare metro. Die hoëspoedtreine wat oor die hele land en party grense beweeg, is wel minder bekostigbaar.

In my stad is die busse en trems soms geriefliker as om per motor iewers heen te ry - veral na die middestad.

Besançon se munisipale biblioteek. Foto: Arnoldia Pienaar
Besançon se munisipale biblioteek. Foto: Arnoldia Pienaar

Die woord "middestad" is eintlik nie 'n gepaste vertaling vir die Franse centre-ville nie. Baie stede het oor eeue heen ontwikkel uit 'n kern van markpleine, geboue en keisteenpaadjies, soms verder terug as die Romeinse tyd.

Die centre-ville is vandag kosmopolitaans met unieke winkels en boetieks, maar die paaie nog die oorspronklike.

Dis byna onmoontlik vir motors om deur te beweeg en die hobbelrige ou paadjies is dus hersoneer net vir voetgangers, busse en trems.

Hoe warm of koud word dit daar?

Sneeu by Besançon. Foto: Arnoldia Pienaar
Sneeu by Besançon. Foto: Arnoldia Pienaar

Dit kan verbasend warm raak, met temperature soms tot hoog in die dertig. Die omringende berge veroorsaak ook dat dit buitengewoon humied kan raak en omtrent regdeur die jaar reën.

Die huise is almal goed geïsoleer teen die koue, wat ongelukkig die hitte binne vaskeer sodra dit warmer word.

In die winter wissel dit tussen 8 °C en -3 °C en soms kry ons sneeu. Winter bly vir my moeilik. Die isolasie help, maar dis onvolhoubaar om heeltyd verhitting aan te hê.

Smeltende sneeu tydens 'n staptog. Foto: Arnoldia Pienaar
Smeltende sneeu tydens 'n staptog. Foto: Arnoldia Pienaar

Wat my egter die meeste vang, is dat die son basies verdwyn. Partykeer reën dit tot twee weke aaneen, óf dis bewolk. Ek moet die son kan sien!

Wat mis jy van Suid-Afrika?

Omtrent alles, maar veral braaivleis, my familie, speckled egg-lekkers, biltong, samesyn, vriendelikheid, die son.

Ek sou dit nooit dink nie, maar ook sokkie.

Enige Suid-Afrikaanse kuier. Die warmte, die optimisme, die gewilligheid om met 'n vreemdeling te dans. Dit is vir my tipies Suid-Afrikaans en so spesiaal.

Ná byna vier jaar oorsee besef ek Suid-Afrika is die plek waar ek die veiligste voel.

Onbewustelik was ek op soek na oorblyfsels van my herkoms op plekke soos Frankryk en Nederland. Maar daar het ek net Franse en Nederlanders gevind. Nou kan ek met trots erken alles wat Suid-Afrika en haar mense vandag is, is uniek.

Afstand het my dit laat besef.

Vreemdste wette?

Op openbare plekke, ook skole, word godsdienssimbole verbied. Jy mag byvoorbeeld nie 'n kruisie om jou nek dra of 'n bidsnoer in jou hand hou nie. Selfs boerkas is verbode.

Frankryk is streng sekulêr en probeer só vooroordeel of konflik weens geloof verhoed.

Is jy 'n reisiger?

Reuse-waterlelies by die Leidense botaniese tuin. Foto: Arnoldia Pienaar
Reuse-waterlelies by die Leidense botaniese tuin. Foto: Arnoldia Pienaar

In my hart is ek, maar ek reis minder as wat ek graag sou wou. Ek was al in Switserland, op Korsika en het internskappe in Nederland en België voltooi. Leiden, in Nederland, was die grootste verrassing met al sy parkies en kanale.

'n Uitstalling by Le Bon Marché, Parys. Foto: Arnoldia Pienaar
'n Uitstalling by Le Bon Marché, Parys. Foto: Arnoldia Pienaar

Die Franse stede is elkeen mooi op hul eie manier, soos Straatsburg met sy unieke argitektuur. En natuurlik Parys!

Ek en my sus, Monica van der Walt, by die Eiffeltoring tydens 'n vakansie in 2022. Foto: Arnoldia Pienaar
Ek en my sus, Monica van der Walt, by die Eiffeltoring tydens 'n vakansie in 2022. Foto: Arnoldia Pienaar

Snaaks hou nogal min Franse buiten die Parysenaars self van die stad.

Die natuurskoon is . . .?

Delikaat en misterieus. Veral die eeue oue woude in die noorde met bome wat toegerank is en elke seisoen van kleur verander. Baie geboue is van die klipsteen uit die omgewing.

Oral in Frankryk kom jy af op ou stede, dorpies, kastele en geboue wat uit die pragtige ou stene "groei". Dit staan al so lank daar dat dit soos deel van die natuur lyk. Dit voel of dit stories fluister uit die verlede.

Sokker is die nasionale sport?

Les Blues is baie geliefd en word as 'n sterk span beskou. In Besançon is daar egter verbasend baie rugbyondersteuners.

My van, Pienaar, roep gereeld 'n sekere speler op in gesprek. Ek was selfs al genooi om 'n wedstryd te kyk saam met 'n Bok-fanatikus, wat met trots gespog het met sy vintage Springboktrui.

Oor vyf jaar gaan ek . . .

Arnoldia Pienaar
Arnoldia Pienaar

Waarskynlik terugkeer na Suid-Afrika nadat ek goeie ondervinding opgedoen het.

Ek sal graag nog 'n ruk in Europa wil werk. Daar is soveel van die leefwyse waarvan ek hou.

Maar ek glo nie ek sal vir altyd hier wil bly nie. Daarvoor mis ek my land en sy mense te veel.

Liesel Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM