Reis

Leser liries oor blomtyd in Velddrif

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Elsje van der Linde-Deetlefs en Felicity Strohfeldt, van die Vriende van die Suid-Afrikaanse Visserye-museum, ontspan in die Vriendskapstuin in Velddrif nadat hulle op Mandeladag saam met die museum in dié tuin gewerk het.         Foto: VERSKAF
Elsje van der Linde-Deetlefs en Felicity Strohfeldt, van die Vriende van die Suid-Afrikaanse Visserye-museum, ontspan in die Vriendskapstuin in Velddrif nadat hulle op Mandeladag saam met die museum in dié tuin gewerk het. Foto: VERSKAF

Elke liewe jaar wat die Vader gee, sien natuurliefhebbers uit na blomtyd! Of jy nou aan die Weskus woon of nie. Blomtyd in Velddrif is altyd iets om na uit te sien.

Die eerste blomme wat hulle spierwit blomblare vertoon, is die wit madeliefies. Hulle gedy op alle oop erwe binne die dorp en op sypaadjies. Die eerstes begin nou al oopmaak. Laat in die seisoen is dit weer die beurt van die oranje gousblomme, wat saam met die pers vygiebosse blom. Wat 'n gesig om te beleef!

Mens is geneig om net so in die ry na die verskillende kleure van veldblomme te kyk, maar dan sal jy nooit weet van al die heerlike geure wat 'n groot verskeidenheid blomme versprei nie. Die groen kalkoentjie, die bobbejaantjie en die aandblom is van hierdie geuriges. Klim uit en loop tussen die blomme rond!

Dis nie net die eenjariges wat hier aan die Weskus blom nie, maar ook 'n groot aantal meerjarige struike. Die meeste van hulle het geel blomme met baie interessante name: bobbejaankool, biedou, harpuisbos en ossiebossie. En dan is daar nog die skerp geur van die kruidjie-roer-my-nie wat jou neusgate prikkel. 'n Ander meerjarige struikie met rooi blomme is die geneeskragtige kankerbossie.

Is dit alles nie genoeg om julle uit te nooi om die Weskus in blomtyd te kom besoek nie?!

  • Elsje van der Linde-Deetlefs is 'n inwoner van Velddrif.
Elsje Van Der Linde-Deetlefs

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM