Reis

Leser vertel: Die reënwoud wink!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bedags lyk die Benirivier en die omliggende Amasone-oerwoud soos groot pret, maar snags klim jou stresvlakkewanneer daar oral om jou bootjie krokodiloë in die water blink en jy weet onder die oppervlak wag die piranhas...
Bedags lyk die Benirivier en die omliggende Amasone-oerwoud soos groot pret, maar snags klim jou stresvlakkewanneer daar oral om jou bootjie krokodiloë in die water blink en jy weet onder die oppervlak wag die piranhas...

Ek en my vrou, Karen, is mal oor Suid-Amerika, en veral die Amasone het ons nog altyd bekoor.

Ons was lus vir 'n avontuurvakansie, en nadat ons navorsing op die internet gedoen het, was ons rugsakreis deur Peru en Bolivië 'n werklikheid: Ons het die eerste aand se slaapplek bespreek; die res van die vakansie sou ons elke dag besluit waar om oor te bly.

Uiteindelik was ons op pad na die Amasone!

Hekse, hoogtes en hoendervleis

Ons avontuur begin in La Paz, aan die Boliviaanse kant van die Titicacameer wat oor die grens tussen Peru en Bolivië strek.

La Paz lê in die Andesgebergte en is op 3 650 m bo seespieël die hoogste hoofstad ter wêreld (Pretoria lê maar 1 272 m bo seespieël.)

Die suurstof is min en sommer van die eerste dag af is ons kortasem.

La Paz is meer as 400 jaar oud, groot en bedrywig. Dis egter nie 'n baie mooi plek nie, want die lug hang vol rook en uitlaatgasse.

Boonop is dit só koud dat jou sinusse brand en jou longe gedurig oortyd werk om genoeg suurstof in te neem.

Die mees bisarre deel van die stad is sonder twyfel die heksemark. Hier is hordes toordokterwinkeltjies waar onder meer verskillende kruie en eksotiese plante te koop aangebied word!

By die heksemark in La Paz, Bolivië, kan jy vir omtrent enige kwaal 'n doepa koop.
By die heksemark in La Paz, Bolivië, kan jy vir omtrent enige kwaal 'n doepa koop.

Om by die Amasone in Bolivië uit te kom moet ons van La Paz af tot by die dorpie Rurrenabaque op die oewer van die Benirivier reis.

Daar's twee opsies: Die Pad van die Dood, 'n 20 uur lange busrit op 'n kronkelpad deur die Andesgebergte, of 'n 40 minute lange vlug oor die berg in 'n ligte vliegtuig.

Die oorspronklike pad, El Camino de la Muerte, word as een van die gevaarlikste paaie ter wêreld beskou.

En selfs al is daar intussen 'n nuwe pad van La Paz af tot onder in die reënwoud gebou, gee die rit 'n mens glo steeds nagmerries! Die besluit is maklik: Ons vlieg.

Warm aangetrek klim ons op 'n koue oggend in die dubbelskroefvliegtuig. E

k hou my asem op terwyl die vlieënier die vliegtuigie se neus skerp lig om ons oor die laaste sneeubedekte spitse van die Andes te kry.

Oral om ons staan bergkruine só naby, dit voel asof jy daaraan kan raak. Dan tref ons die wolke… en die vreeslikste turbulensie.

Ons kan niks rondom ons sien nie, en ek voel paniekerig oor hoe naby daai berge pas was! Terwyl ons rondskud, is dit tjoepstil binne-in die vliegtuigie.

Is dít dalk hoe ek en Karen aan ons einde gaan kom? Ek hou haar hand styf vas en sien beelde van die fliek Alive voor my oë verby flits.

Sê nou maar ons stort neer en moet soos die Uruguayse rugbyspan in die fliek in die sneeu probeer oorleef deur dié wat omgekom het te begin eet…

Maar dan bars ons gelukkig deur die wolke en die vliegtuigie se neus duik skielik af. Hy mik reguit vir die groen massa van die Amasone, en binne sekondes is ons van bo-op die Andes tot onder in die woud.

Die vlieënier pluk die neus op en die tuigie land met 'n stamp en 'n swaaiende stert op 'n grasaanloopbaan. Ek slaak 'n sug van verligting.

Welkom in die suurstoftenk

Toe die vliegtuig se deur oopswaai, oorrompel die hitte en humiditeit ons in die kajuit. Ek en Karen klim op ietwat wankelrige bene uit en staan verstom: Ons word omring deur 'n oorweldigende groen muur van bome - groter en meer indrukwekkend as wat dit ooit op 'n foto of televisie kan lyk.

Skaars 'n uur gelede was die lug nog droog en besoedel; nou is dit só skoon en vogtig dit voel asof ek met elke asemteug eers daaraan moet kou.

Die oerwouddorpie Rurrenabaque is goed ingerig vir toeriste - hier kry jy enigiets van muskietgoed tot poncho's, en daar's talle eet- en drinkplekke. Die verblyf wissel van backpackers tot hotelle.

Daar is baie toeragentskappe in Rurre, soos die locals die dorpie noem, wat 'n verskeidenheid toere aanbied, en ons besluit op vier dae in die oerwoud by Madidi Travel se Eco-lodge.

Al is dit visplakkiewarm, moet jy waterstewels aantrek die oomblik as jy van die boot af klim - die Amasone is 'n modderige affêre!
Al is dit visplakkiewarm, moet jy waterstewels aantrek die oomblik as jy van die boot af klim - die Amasone is 'n modderige affêre!

Gewapen met waterstewels, 'n reddingsbaadjie en twee liter drinkwater elk klim ek en Karen saam met vier Engelse, twee Duitsers en 'n Franse vrou in 'n houtbootjie wat - nadat al die bagasie ingelaai is - gevaarlik laag in die Benirivier se waters lê.

Die opwinding loop hoog en die drie uur lange vaart stroomaf verloop vinnig. Op die oewer sien ek tropiese voëlsoorte, plek-plek 'n krokodil en ook hier en daar 'n capybara, die wêreld se grootste knaagdier. Dit lyk soos 'n dassie, maar is so groot soos 'n labrador!

Ons kom aan by Serere, 'n private beskermingsgebied van 40 km² noordoos van die Madidi- nasionale park. Dit word uitsluitlik deur Madidi Travel gebruik, en ons is die enigste groep besoekers in die hele reservaat!

Aan wal is dit tyd om waterstewels aan te wikkel, jou rugsak oor te swaai en die oerwoud in te vaar.

Die lodge waar ons vir drie nagte gaan bly, is 2 km van die Benirivier af. Dit is drukkend warm en die modder in die voetpad suig om my stewels vas.

Ek voel soos 'n ware ontdekkingsreisiger, betower deur die skaal van die groot ou bome en struike rondom ons.

Saam met die humiditeit is die reuke oorweldigend: Tropiese vrugte, klam grond en eksotiese plante wat op die oerwoudvloer lê en vermolm.

Die logde is 'n dubbelverdieping-houtstruktuur. Hier is hangmatte bo en 'n kombuis en eetsaal onder.

Die slaaphutte staan los van die lodge en dit voel asof jy heeltemal alleen in die ruigtes woon.

Elkeen is 'n entjie bo die grond op 'n houtplatform gebou, met 'n grasdak en gaaspanele pleks van mure om die muskiete uit te hou.

Net die en suite-badkamer (eenvoudig maar skoon) in die een hoek het 'n houtmuur vir privaatheid.

Heelnag lank hoor ek die bosdiere en voëls hier bý my. Party kan ek uitken - die gesuis van insekte, die geroep van ape - maar dis die onbekende klanke wat sorg vir opwinding én 'n bietjie spanning!

Diere net waar jy kyk

Ons gids, Milo, se kennis van die bos is verstommend. Hy lei ons groepie elke dag in 'n ander rigting die oerwoud in en vertel ons nie net van die streek se kultuur nie, maar ook van diere en insekte en die medisinale gebruike van plante: Hier kry jy enorme miere wat jy - baie versigtig! - kan optel en hulle só oor 'n snyplek posisioneer dat hulle knypers aan weerskante van die sny vasknyp.

Dan breek jy die lyf af en los net die kop en knypers daar om die wond soos steke toe te trek.

Die spinape het gou met Karen maats gemaak. Hulle is baie oulik en dis moeilik om vir hulle koebaai te sê.
Die spinape het gou met Karen maats gemaak. Hulle is baie oulik en dis moeilik om vir hulle koebaai te sê.

Ons het ook gaan brulape soek. Die brulaap is die landdier wat die hardste geluid maak - jy hoor hom tot 3 km ver. Sy roep is 'n spookagtige gedruis, amper soos 'n woeste wind wat deur bome waai.

Sover ons agter die klank aanstap en 'n pad deur die bosse oopbeur, breek Milo takke af sodat ons weer die roete terug sal vind.

Skielik lig hy sy hand en ons steek in ons spore vas, tjoepstil. Die brulape is hoog bo ons in die bome te sien, maar hulle beweeg gou weer verder.

Op 'n ander staptog is ons in 'n uitgeholde boomstomp oor 'n sytak van die rivier tot op 'n eiland waar 'n klompie spinape woon. Hulle is almal wesies wat van vooraf moet leer hoe om in die oerwoud te oorleef. Party is taamlik mak, en kort voor lank klim hulle met hulle lang arms en bene oor ons.

Milo wil ook vir ons die rivier se naglewe gaan wys, en weer is ons in 'n boomstomp-kano uit.

Terwyl ons rondvaar, vang hy piranhas aan 'n handlyn om vir ons te wys hoe dié vissoort lyk, en nadat die son gesak het, kan ons hoor hoe skugter kaaimans voor die bootjie padgee.

Maar die grieselrigste is die krokodiloë wat gans te naby blink wanneer Milo 'n flitslig se straal oor die water vee.

'n Uitgerekte vaarwel

Ná vier avontuurlike dae in die oerwoud is dit tyd om op ons spore terug te reis. Maar op die laaste aand moet ons hoor daar is 'n moontlikheid dat die boot ons óf glad nie gaan kom haal nie óf baie laat gaan wees: Daar was iewers 'n protesaksie en geen petrol kon van La Paz af in Rurre uitkom nie.

Ek, Karen en 'n paar Duitsers wat ook by die lodge oornag het, stap die volgende oggend ná ontbyt optimisties die 2 km tot aan die oewer van die Benirivier.

Die boot is toe nie baie laat nie, maar die skipper het 'n kleiner enjin gemonteer om petrol te bespaar.

Dit beteken ons terugvaart Rurre toe gaan twee keer so lank neem. Dié slag is daar ook nie reddingsbaadjies aan boord nie, en soos ons stroomop sukkel, vrek die pieperige enjintjie kort-kort.

Terwyl die bemanning sukkel om dit weer aan die gang te kry, druk die vinnig vloeiende water die boot dwars en terug stroomaf. D

ie son sak al hoe laer, en toe begin dit reën. Eers liggies… en toe volg 'n donderstorm. Die boot wieg heen en weer en die rivier word ál rowwer.

Terwyl jy by die Eco-lodge in die Madidi- nasionale park in 'n hang-mat lê, maak die sjef lekker plaaslike geregte, en sjokoladekoek van die kakaoboom se bone (die boom in die voorgrond).
Terwyl jy by die Eco-lodge in die Madidi- nasionale park in 'n hang-mat lê, maak die sjef lekker plaaslike geregte, en sjokoladekoek van die kakaoboom se bone (die boom in die voorgrond).

Een van die ouens probeer die water wat inspat, met 'n emmer uitskep.

Naderhand is dit pikdonker en die stuurman kan nie meer mooi sien waarheen ons op pad is nie.

Elke nou en dan tref die boot 'n sandbank, dan druk die stroom ons weer in 'n ander rigting of die enjin ruk dood.

In die lig van sy flits blink daai ogies weer oral om ons, en ek gryp die emmer en begin water uitskep - híér wil ek nie vanaand sink nie!

Ná wat soos 'n ewigheid voel, verskyn Rurre se liggies in die verte en ek raak kalmer. Ons het dit gemaak.

Genadiglik was die terugvlug La Paz toe ook veel rustiger as met die komslag.

Ondanks al die drama en spanning was die Amasone 'n onvergeetlike lewenservaring, en sonder twyfel my hoogtepunt in Suid-Amerika!

Beste tyd om te gaan?

April en Mei lê tussen die reënseisoen en die warmste tyd van die jaar.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #63 (Augustus 2014) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

Johann du Plooy

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM