Langs die oorbekende paaie in Engeland lê 'n byna versluierde landskap wat toeriste nie raaksien nie. In dié landskap kronkel ou waterweë uit 'n era vóór daar behoorlike paaie was: die Teemsrivier en sy kanale.
Ek en my vrou, Anna, het by ons seun, Alwyn, in Engeland gekuier. Met die wisselkoers in gedagte wou ons iets lekkers en bekostigbaars doen saam met hom en sy Britse meisie, Lisa.
Ons besluit toe op 'n vier dae lange boottoer op die Teemsrivier. Jy bestuur self die boot, wat jou ryding én slaapplek is.
'n Mens vorder stadig op die rivier, maar soos wanneer 'n mens te voet of per fiets reis, kry jy van die water af 'n gans ander perspektief en ervaar soveel méér van die land.
Voordat jy jou kom kry, bevind jy jouself in 'n sonderlinge landskap met heelwat minder toeriste.
DAG 1
By die dorpie Benson, sowat 77 km oos van Londen, klim ons ná 'n kort opleidingsessie aanboord. Hier het ons geleer hoe om vas te meer, op 'n sikspens om te draai ('n maneuver om die boot op een plek in die rondte te draai), by bootverkeer verby te vaar, en hoe die enjins, elektriese kragstelsel en watervoorraad beheer word.
Dit klink eintlik meer ingewikkeld as wat dit regtig is. Jy kan op jou eie tyd stroomop of -af vaar, mits jy die boot betyds terugbring.
Ons plan is om van Benson af te vaar tot by die universiteitsdorp Oxford en terug, sowat 35 km op die water.
By die eerste kronkel in die rivier stuur ons na die kant toe, want ons wil oefen om aan die wal vas te meer. Later sou ons dit meermale doen, en selfs tussen ander bote parallel "parkeer".
Ons vaar rustig (teen vyf myl per uur) en met groeiende selfvertroue stroomop terwyl die landskap in die laatmiddag verkleur.
Ons bereik die eerste sluis net vóór die opsigter van diens gaan en hy maak vir ons oop om deur te vaar.

Net anderkant die sluis lyk na 'n goeie plek om te oornag: langs 'n veldbunker uit die Tweede Wêreldoorlog, onder 'n heuwelvesting uit die Ystertydperk.
DAG 2
Hier's blyplek vir vier mense op ons boot, die 39 voet lange (sowat 12 m) Caprice, in twee redelik ruim slaapkajuite met 'n toilet en stort elk.
Hier is nog twee slaapplekke op sitbanke, maar dis eerder vir kinders.
Verder het ons 'n toegeruste kombuis met 'n yskas, stoof en mikrogolfoond, 'n gerieflike sit-eetsalon, sondek en stuurkajuit.
Danksy die goeie weer verkies Alwyn deurentyd om eerder die wiel op die boonste dek te gebruik as die een in die stuurkajuit.
Ons stuur Caprice rivierop voordat die son uitkom. 'n Digte mis hang oor die spieëlgladde water. Bote lê vasgemeer tussen donker oewerbome, soos iets uit 'n spookagtige sprokie.
Meteens doem die sluis by Clifton Lock op, en dinge lyk nie pluis nie: die sluisdeure staan halfoop.
Ons kry dit nie oop of toe nie. Dis net voor sewe en die opsigter gaan waarskynlik eers teen negeuur hier aankom.
Ons besluit om maar aan boord ontbyt te maak: tradisionele Cumberland-varkworsies, eiers, kaas en roosterbrood met aarbeikonfyt en tee wat ons by die Tesco-supermark op Reading gekoop het.
Uiteindelik herstel 'n tegnikus die hidrouliese stelsel en ons vaar verder. 'n Hele flottielje bote het agter ons opgedam. Twee uur is daarmee heen, maar dis 'n mooi sonskyndag en niemand mor nie.

Langs die water sien jy gereeld 'n hengelaar sit. Caprice gly geruisloos onder deur talle antieke brûe, verby plase, geskiedkundige dorpies, elk met 'n klipkerkie, en pragwonings in troeteltuine - reg uit die glansblaaie van Home & Garden.
Ons vaar verby die dorpies Appleford, Sutton Courtenay en Culham tot op Abingdon-on-Thames en maak vas langs 'n boomryke park, duskant die Nag's Head-restaurant, gebou in 1686.
Op die oorkantste oewer staan die St. Helen's-kerk - hier word glo al sedert die jaar 995 op dié kol kerk gehou.
Die dorp maak daarop aanspraak dat dit die oudste in Engeland is.Ons gaan verken. 'n Tantetjie wys ons die Abingdon Abdy se Long Gallery wat uit 1455 dateer. Hier word later die dag troue gehou en die gaste geniet egte Britse vis-en-tjips.
Digby is 'n skool wat ene John Roysse in 1563 gestig het. Ons gaan maak keel nat by The Old Anchor Inn, wat in 1884 gebou is, betreklik "jonk" vir die geweste.

DAG 3
Ons besef daar is nie genoeg tyd om tot by Oxford en terug te vaar nie. Die mis is beklemmend, maar ons maak die toue los vir die terugvaart.
Ná sowat 'n uur meer ons in heerlike sonskyn onder die brug by Clifton Hampden vas.
Hier kry ek 'n kolwyntjie met pienk versiersel vir my verjaardag en ons gaan klink 'n glasie by The Barley Mow, gebou in 1352 - presies 600 jaar vóór ek gebore is.

Jerome K Jerome verwys in sy komiese reisverhaal Three Men in a Boat na hierdie einste Engelse kroeg: "without exception the quaintest, most old-world inn up the river on the right of the bridge, quite away from the village. Its low-pitched gables and thatched roof and latticed windows give it quite a story-book appearance, while inside it is even still more once-upon-a-timeyfied…"
Ons vaar verby mooi ou bote - sommige bloot riviervragbote omskep as waterwonings - elegante huise, brûe en die bekoorlike hotel by Shillingford.
Caprice neem ons tot by die dorpie Wallingford waar die bekende misdaadskryfster Agatha Christie gewoon het.
Die dorpie was een van die laaste vestings van koning Charles I se magte in die burgeroorlog in die middel 1600's.Oliver Cromwell se soldate het Wallingford se eens imposante kasteel in 1652 verwoes.
Die kasteel was 'n koninklike woonplek tot die dorp deur die Swart Dood van 1349 getref is. Van die kasteel se klip is later jare gebruik om Windsor-kasteel te herstel.
Ons drentel deur die smal straatjies, koop lekkers by Mr Simms Olde Sweet Shoppe, bewonder die Ou Poskantoor wat nou 'n koffiewinkel is, en bekyk die George Hotel, waar die berugte struikrower Dick Turpin in die 1700's deur 'n venster gespring en op sy getroue merrie Black Bess ontsnap het.
DAG 4

Ons moet Caprice vanoggend 9 vm. terugbesorg op Benson. Vir drie sonnige dae het ons die Oxfordshire-omgewing op haar verken.
Alwyn parkeer behendig die groot boot stertkant teen die kaai, netjies tussen die ander motorbote.
Ons betaal vir die bietjie brandstof wat ons verbruik het en haal 'n taxi na Reading.
Ek mis reeds die lewe op die kanaalboot.
Kontakleboat.co.za
Só ry die trein Besoek dié webwerwe vir treinpakkette en spesiale aanbiedinge: railcard.co.uk, thetrainline.com, my trainticket.co.uk
Hierdie artikel het oorspronklik in Maart 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.


















