Of dalk spring jou gedagtes dadelik na die kolkatte van Phinda en Mkhuze in KwaZulu-Natal, of Nossob en Mata Mata in die Kgalagadi.
Hierdie luiperds is almal lywig - die mannetjies weeg gemiddeld rondom 80 kg en wyfies sowat 40 kg. En waar die habitat baie geskik is, kan hulle bevolkingsdigtheid so hoog wees as 12 luiperds per 100 km².
Daar is egter nóg luiperds in SA waarvan heelwat minder mense bewus is - die sku katte van die Kaapse Plooiberg in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap.
Hierdie geheimsinnige luiperds is die toonbeeld van wildernis - hulle oorleef in ongelooflik ru en ongenaakbare terrein. Hulle staan bekend as die"spookkatte" van die berge en word selde gewaar.
Die Cape Leopard Trust, 'n organisasie wat hom toespits op die bewaring van luiperds in die Kaapse streek, maak staat op strikkameras om hierdie luiperds te bestudeer.
Hierdie belangrike toerusting neem foto's van dié katte in die berge en omliggende laaglande van wildernisgebiede soos die Sederberg, Klein-Karoo, Outeniekwaberg en Baviaanskloof.
En - glo dit of nie - ook in die berge naby Bolandse en Overstrandse dorpe soos die Paarl, Stellenbosch, Grabouw, Gordonsbaai en Hermanus.
Die luiperds wat in die Kaapse berge hou, is kleiner en weeg heelwat minder, met mannetjies wat die skaal gemiddeld op 35 kg trek, en wyfies wat sowat 20 kg weeg.
Hulle kom teen laer bevolkingsdigthede voor (minder as 2 luiperds per 100 km²) en het aansienlik groter tuisgebiede as die luiperds elders in SA.
As gevolg van hierdie verskille verwys baie mense na hulle as "Kaapse luiperds", maar dié benaming is verwarrend.
Tans is alle luiperds in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap dieselfde subspesie as wat ons elders in Afrika aantref, naamlik Panthera pardus pardus.
Hoewel luiperds in die Kaapse gebergtes geografies redelik afgesny isvan ander bevolkings in SA en ook unieke morfologiese, ekologiese en genetieseeienskappe het, is dit nie genoeg om hulle as 'n aparte subspesie teklassifiseer nie.
Ons praat dus liewer net van die "luiperds van die Kaap" of "luiperds van die fynbos" eerder as van die "Kaapse luiperd" wat soos 'n soort van sy eie klink.
Volgende keer wanneer jou vlug op pad na die Kaapstadse internasionale lughawe begin daal en jy die ondeurdringbare woesteny van die Kaapse Plooiberg mooi van bo af kan bekyk, hou in gedagte dat hier steeds - byna 400 jaar nadat Europeërs aan die Suidpunt geland het - luiperds vry rondloop.
Mag dit vir nog lank die geval bly!
Die Cape Leopard Trust doen 'n beroep op die publiek om waarnemings vanluiperds (soos spore en mis) of bedreigings soos strikke, aan te meld by app.capeleopard.org.za. Enige navrae kan gerig word aan clt@capeleopard.org.za.






