Reis

Vir die voëls: Die fassinerende verhaal van die tarentaal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Ek is gaande oor voëlkyk, maar ai, die vroegopstanery kry my onder... Ek's eintlik 'n naguil.

Tot ounag toe wakker bly om te verf? Geen probleem, maar om saam met die son (soos die meeste voëls) op te staan is 'n pyniging. Veral in die middel van die winter.

Dis juis op 'n winteroggend dat ek al swetsend kombuis toe strompel, op soek na 'n kafeïen-inspuiting. Terwyl ek vir die water wag om te kook, trek ek nog half deur die slaap die gordyne oop.

'n Ongewone toneel groet my: Donkergrys voëls marsjeer in enkelgelid. Bisarre skepsels met plat lywe, veerlose blou koppe, lelle onder die snawel, keratienhorings op die kop, en elke veer 'n konstellasie van wit sterretjies.

Die regiment lyk gefokus op hulle sending. Die dominante mannetjies, regop van statuur, heel voor en die wyfies met hulle plat pote wat die swerm van agter aanhits.

Die doelwit? Dieselfde as myne.

'n Tarentaal se heel eerste dagtaak is 'n opstaandrankie. Nadat hulle dors geles is, volg kuiertyd - die mannetjies pronk en doen allerlei toertjies, insluitend 'n komiese vertoning waar een sy rug op 'n boggel trek.

Twee koppies koffie later voel ek wakker genoeg om te stort. In die tuin begin die tarentale ook hulleself opdollie. Dit behels 'n energieke stofbad, gevolg deur die noukeurige gepluis van vere om myt en huidparasiete te verwyder.

Kort daarna begin skoffel en skrop hulle vir sade, bolle en goggas. Ná 'n middagslapie in die skaduwee, en dalk 'n laaste skemerkelkie, verkas hulle na 'n kol hoog in 'n boom, gewoonlik dieselfde een. In 'n krisis sal 'n kragdraad ook deug.

Tarentale kom net in Afrika voor. Afhangende van hoe jy hulle klassifiseer, is daar ses tot agt spesies, elkeen vreemder as die eerste een: Voëls met rooi gesigte en 'n wit bors wat lyf wegsteek in die woude van Sentraal-Afrika, pikswart voëls wat rondkruip in die onderbos in Wes-Afrika, een wat lyk asof dit gekruis is met 'n aasvoël op Oos-Afrika se droë savanne, 'n groep punk rockers met bonsende mohawks en, natuurlik, die goeie ou gewone tarentaal wat in jou tuin raas.

Die eerste tarentale wat toentertyd mak geword het, was uit Wes-Afrika (vandaar die "guinea" in Engels). Hulle word steeds mak gemaak vir hulle vleis (droër, met 'n wilder smaak as hulle hoenderneefs). Hulle is glo ook uitstekende sekerheidswagte, wat indringers met 'n luidkeelse gekekkel aankondig.

Dié mak tarentale sal dan soms ontsnap en by wilde swerms aansluit. Maar met hulle vere wat gedeeltelik wit is, bleek gesigte en oranje pote staan hulle uit. Die gewone tarentaal se wetenskaplike naam, Numida meleagris, het ook 'n interessante storie.

Die genus-gedeelte is afkomstig van Numidiërs - 'n antieke koninkryk in Noord-Afrika waar die Romeine en Grieke tarentale vir hulle kulinêre en godsdienstige offers bekom het. Die spesienaam kom van Meleager - 'n mitologiese Griekse figuur wie sy ooms vermoor het en toe as vergelding deur sy eie ma vermoor is.

Meleager se susters was só ontsteld deur die gebeure dat Artemis, die godin, hulle in tarentale verander het - met die wit kolletjies wat die bedroefde susters se trane verteenwoordig.

Ek en my vrou, Ronel, het 'n paar van daardie einste mooi vere met die wit kolletjies nodig gehad vir die tafellopers op ons troue. 'n Paar dae voor die groot dag ry ons toe- vallig verby 'n dooie tarentaal op die N2.

Ek wonder steeds wat die verbygaande motoriste gedink het toe ek die dooie voël onseremonieel op die agtersitplek gooi!

Terwyl ek sit en dié woorde tik, hoor ek die skril gekek-kek-kek van 'n tarentaalwyfie wat nie kan slaap nie.

Sy moet eerder in die bed klim, want die môrestond het immers goud in die mond vir haar spulletjie!

Faansie Peacock

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM