Die Papkuilsfontein-gasteplaas lê lepel reg teenaan die Oorlogskloof-natuurreservaat in die Nood-Kaap. Hierdie paradys bied nou splinternuwe aktiwiteite vir avonturiers, skryf Jacques Marais.
Papkuilsfontein is nou al jare lank op my radar, maar ten spyte van al die jakkalsdraaie wat ek oor dekades deur die land gegooi het, was daar nog nooit 'n kansie om daar te gaan inloer nie. En toe kry ek so 'n paar weke terug 'n los gelukkie!
Ek was besig om van die ikoniese watervalle in die Namakwa-Weskus-streek af te neem en besluit toe om gou teen Vanrhynspas op te suiker. Jy kruie tot bo-op die eskarp, daar waar die Cederberge met die Hantam-reeks kopstamp en met die wa-wye ooptes van die Knersvlakte aan jou voete.
Swenk suid deur Nieuwoudtville verby die Hantam Botaniese Tuin (net voor jy die skrape van oer-gletsers in die rotsbodem kan bewonder) en draai dan ná 23 km regs na Papkuilsfontein. Alrie of Jaco van Wyk sal jou heel moontlik hier met 'n groot glimlag en 'n koppie van hulle rooibostee inwag, maar dis maar net die begin van die lekkerte wat hier gaan ontvou.
Ek kan 'n boek skryf oor dié ongetemde stuk aarde. Dramaties is nie die woord nie. Heide en proteas en restio pronk tot op die rantjie van die eskarp, waar klipskeure en roesbruin kranse en watervalle tot doer onder in die dieptes van die Oorlogskloof tuimel.
Klipspringers, rooikatte en reusekese baljaar hier in die bergveld, terwyl bleeksingvalke teen die blou van die hemel spiraal. Fenomenale bergfietsroetes en wilde wandelpaaie wag op dapper stappers en trappers, en voëlkykers, veldblom-foendies en fotograwe sal hulself hier heeltemal verloor.
Papkuilsfontein het onlangs - in samewerking met die Tafelberg-trustfonds - 'n nuwe via ferrata teen die steil afgrond bokant Oorlogskloof opgerig. Dié "ysterweg" is geskoei op kabel-klimroetes wat onder meer tydens die twee wêreldoorloë deur soldate in Europese berge gebruik is.
Deesdae lok via ferratas avonturiers wat veilig wil klim, en dis juis Jaco se plan met my. Ons trek gou harnasse en valhelms aan en 'n paar minute later klouter ons met 'n digte kloof na benede. Knoetsige kiepersolle en bottelgroen olifantore laat dit soos 'n sprokieswêreld voel.
Ons katvoet met 'n nou rotslysie langs, klouter teen 'n sandsteenmuur op en wurm deur 'n skeur, met die drama van Oorlogskloof wat soos 'n Imax-moewie rondom ons afspeel. Elke nou en dan dawer daar 'n boggom-brul deur die soel middaglug, maar 'n mens fokus net op daardie dun ketting . . .
Die hoogtepunt is 'n superheldswaai, waar jy van 'n rotslysie afspring om oor die afgrond uit te pendulum, terwyl jou "Joegaai!" tot teen die oorkantste kranse eggo. Gaan doen dit, al maak dit jou lam in die knieë, want jy lewe net een keer.
Besoek www.papkuilsfontein.com vir meer inligting.
1: Swaai en lawaai

Papkuilsfontein is sowat 23 km suid van Nieuwoudtville. Volg die Moedverloor-pad en kyk uit vir die naambord na die plaas aan jou regterkant. Die lente - blommetyd - is die beste tyd om daar aan te doen, maar die geheime "groen seisoen" - tussen Mei en Augustus - is mooi verby. Dit kan in dié tyd wel ysig raak en nou en dan reën, maar daar is 'n kaggel, rooiwyn en lekker mense.
Die via ferrata se superswaai is 'n 100%-adrenalien-inspuiting.
Ek het dié foto met die Insta 360 X3 geneem (monteer die 360°-kamera op 'n selfie-stok en hou dit sommer in een hand vas terwyl jy swaai).
Die tegnologie gebruik twee wyehoeklense om alles rondom jou vas te vang, en jy kan ná die tyd die hoek en raam kies wat die beste werk.
Die beste van alles is dat die sagteware sommer die stok in jou hand "wegtoor".
Fotodata:
- Kamera: Insta 360 X3
- Sluiterspoed: 1/840 sek.
- Lensopening: f2.6
- ISO: 184
- Lens: 11 mm (35 mm-ekwivalent)
2: Lugdraad

Soggens net ná sonop kry jy die mooiste lig op Papkuilsfontein.
Die bonus was dat daar geen briesie was nie.
Hierdie heining wat in 'n plaasdammetjie weerkaats, het my oog gevang terwyl ek foto's van geelbekeende geneem het en die onwerklike gevoel van die komposisie laat my voel asof ek te veel tequila gedrink het.
Fotodata:
- Kamera: Sony a7R4
- Sluiterspoed: 1/1600 sek.
- Lensopening: f5
- ISO: 400
- Lens: 126 mm (op 'n 100-400 mm-zoemlens)
3: Wonderwaterwêreld

Dit was vrek koud die oggend toe ek bietjie die plaas op 'n fiets gaan verken het. Dis sulke tye wanneer aksiekameras nuttig is: Hulle is kompak en pas sommer in jou baadjiesak, is waterdig en modder-bestand en jy kan hulle met jou stem beheer wanneer jy self in die foto wil wees! Plus, die dinamiese sensors en gehaltelense beteken dat dié klein buksies jou toelaat om jou avonture in hoë definisie vas te vang.
Fotodata:
- Kamera: Insta360 Ace Pro
- Sluiterspoed: 1/350 sek.
- Lensopening: f2.6
- ISO: 100
- Lens: 16 mm (35 mm-ekwivalent)


















