Reis

Reik na die sterre in Sutherland

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Besoek Sutherland hierdie wintervakansie, daar’s hope te sien en doen.          Foto: IStock
Besoek Sutherland hierdie wintervakansie, daar’s hope te sien en doen. Foto: IStock (IStock)

Die wintervakansie is om die draai en terwyl sommige van ons reeds 'n opwindende wegbreek bespreek het, is daar ander wat dalk nog nie 'n plan van aksie het nie. Om meer te leer oor ons sterrestelsel en nog vele ander interessanthede, besoek gerus die Noord-Kaapse dorpie Sutherland. Mauricia Petersen vertel oor haar ervaring.

Ja, dit is winter en jy wil heel moontlik voor die kaggel of op die rusbank voor die televisie sit met lekker warm drankies en eetgoed.

Maar miskien moet jy dit eerder oorweeg om hierdie winter 'n avontuur aan te pak en dalk iets interessants te leer.

Die perfekte winterwegbreek is 'n reis na Sutherland. Dit is nie net 'n interessante plek nie, die roete daarheen is ook iets om te aanskou.

Sutherland, 'n dorpie in die Noord-Kaap, is bekend om twee dinge: dit is die plek waar sterre bestudeer word en ook die koudste dorp met die laagste temperature in die land.

Ek het in Junie self die pad na Sutherland aangedurf en dit was 'n asemrowende ervaring. Ek het een dag gery, 'n nag oorgeslaap en die volgende dag teruggekeer.

Die dorp is in 1723 gestig met slegs 'n kerk en markplein wat die omliggende skaapplase bedien het. Teen 1872 kon Sutherland "spog" met 138 inwoners wat in 19 huise op die dorp gebly het. In 1899 is 'n groot Nederduits Gereformeerde Kerk in die dorp gebou waar daar steeds kerk gehou word en wat ook dien as 'n besienswaardigheid op die dorp.

Vandag is Sutherland 'n lewendige dorp met soveel meer om te bied. Daar is volop gastehuise en selfsorgeenhede, en natuurlik ook die legendariese Sutherland-hotel waar jy kan tuisgaan.

Daar is ook deesdae genoeg winkels en vulstasies om van te kies, so jy sal beslis nie hier gestrand raak nie.

Wanneer jy die dorpie inry, voel jy dadelik tuis. Hier groet mense nog vriendelik, al is jy 'n vreemdeling, en jy sien dis 'n bedrywige dorp.

In die hoofstraat sien jy sommer klaar 'n hele paar interessante geboue wat jou laat wonder wat daarbinne aangaan, dan vind jy vinnig uit daar is heelwat om in en om Sutherland te doen en ervaar.

Interessante plekke om te besoek:

Moenie vergeet om by die Sutherland-planetarium te gaan inloer nie.
Moenie vergeet om by die Sutherland-planetarium te gaan inloer nie. (Mauricia Petersen)

Sutherland-planetarium

Die Sutherland-planetarium bied 'n verskeidenheid 3D vertonings wat alles met astronomie verband hou. Die nuutste vertoning wat ek gaan kyk het, Rising Star, handel oor die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (Salt) en die MeerKAT-radioteleskoop. Tydens die 3D vertonings leer jy 'n paar interessante dinge oor die sterrestelsel met sy planete en die geskiedenis daarvan. Dit kan wel koud raak binne, maar hulle voorsien warm komberse. Dit is 'n opvoedkundige en vermaaklike ervaring vir die hele familie.

Die Sutherland-planetarium bied ná elke vertoning ook astrofotografie-sessies vir jou slimfoon aan.

Vir meer inligting oor die 3D vertonings en sterrekyk by die Sutherland-planetarium, besoek http://www.sutherlandplanetarium.co.za/.

Sterrekyksessies word elke aand aangebied, dwarsdeur die jaar.
Sterrekyksessies word elke aand aangebied, dwarsdeur die jaar. (iStock)

Sterrekyk in Sutherland

Daar is meer as een plek waar jy in die aand deur teleskope sterre kan kyk. Jy moet egter bespreek en ook die weer in ag neem voordat jy gaan.

Sterland en die Sutherland-planetarium is die twee plekke waar jy sterre kan gaan kyk. Volgens Jurgen Wagener, wat Sterland Sterrekyk al 20 jaar lank bedryf, is enige tyd goed om sterre te kyk, maar dit is beter wanneer daar min of geen maan is nie. Wagener sê hoe minder maan daar is, hoe helderder skyn die sterre.

By Sterland word jy 'n koppie koffie of 'n glasie sjerrie aangebied terwyl jy 'n kort les kry oor waarna jy daarna gaan kyk en ook oor die Salt.

Jy kry ook toegang tot 'n fossieluitstalling.

Vir meer inligting oor sterrekyk in Sutherland, besoek gerus Sterland se webwerf by https://sutherlandinfo.co.za/ of die Sutherland-planetarium se webwerf byhttp://www.sutherlandplanetarium.co.za/.

Die indrukwekkende Salt.
Die indrukwekkende Salt. (IStock)

Salt

Die Salt is 'n paar kilometer buite die dorp op die ou Fraserburg-pad geleë.

Dit is een van die grootste teleskope ter wêreld en is op die perseel van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag (SAAO).

Salt staan ook bekend as die 11 meter-teleskoop omdat dit 'n deursnee van 11 meter het.

Met 'n besoek aan Salt sal jy meer leer oor die geskiedenis van die heelal en sterrestelsel. Een interessante plek wat ek ontdek het tydens my besoek aan Salt, was die Sonkamer, waar hulle die maan en die son toets.

Indien jy van geskiedenis hou, sal jy ook die SAAO se galery geniet.

Op die perseel is daar altesaam 24 teleskope van verskillende lande. Dit wil sê, astronome van oor die wêreld heen bestudeer die sterre vanaf Suid-Afrika. Uit die 24 teleskope behoort vyf aan Suid-Afrika. Jy word dan ook vir 'n toer binne die grootste teleskoop geneem.

Vir meer inligting besoek gerus SAAO se webtuiste by https://www.saao.ac.za/.

Ander plekke

Benewens bogenoemde trekpleisters is daar ook verskeie museums, die Sutherland-begraafplaas en die NG kerk om aan te doen.

Moenie hierdie winter in 'n stoelpatat verander nie. Vat die pad en verken die asemrowende Sutherland!

Het jy geweet?

  • Die son is so groot dat meer as 'n miljoen mane daarin kan pas.
  • Sterre het ook 'n lewensiklus met 'n begin en einde. Terwyl rooi by ons simbolies van hitte en helderheid is, en blou van koue, is dit die teenoorgestelde in sterrekunde. Hoe rooier 'n ster is, hoe laer is die energievlak en is dit besig om tot niet te gaan. Blou sterre is jonger en het 'n hoër energievlak, wat beteken dat dit nog warm brand.
  • Die Salt bestaan uit 91 primêre spieëls van een meter elk, wat beteken dat dit 90 keer dieper in die heelal kan sien - so diep dat dit 'n R1-muntstuk op die maan kan bespeur!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM