Daar staan sy in haar volle glorie . . . selfs nóg groter as wat ek verwag het. Vir 'n paar oomblikke is ek stomgeslaan. Al wat ek kan dink is wow.
Ek staan op die passasiersterminaal by die hawe in Lissabon, Portugal, en aanskou die Norwegian Viva, 'n luukse passasierskip wat deel is van die Norwegian Cruise Line (NCL) se vloot.
Die opwinding borrel oor binne my, want vir die volgende week gaan dié "seehotel" my tuiste wees. En wie droom nié van 'n vakansie op 'n luukse boot nie?
Met die intrapslag op die skip beleef ek reeds my tweede wow-oomblik.

Voor my is 'n atrium van drie vloere hoog, bewegende ligte en glinsterende stervorms van glas wat van die dak hang. Die elegante klanke van 'n jazz-orkes vul die lug terwyl 'n warboel van mede-passasiers om my skarrel om die regte rigting na hul kajuite te vind. Dis te verstane, want met 'n verstommende 20 dekke (vloere op 'n skip) en meer as 1 600 kajuite vat dit jou 'n tydjie om jouself te oriënteer.
Ek vind my kajuit op dek 16 en neem 'n oomblik om alles in te neem.

Die dekor is 'n stylvolle palet van turkoois, room en sandkleur, met spatsels goud en vlootblou. Daar is 'n dubbelbed, rusbank en klein lessenaar. 'n Balkon kyk uit oor die see.

Ná 'n vinnige verkenningstog op die skip bestel ek vir my 'n drankie en keer terug na my kajuit. Ek skop my skoene uit en gaan sit op die balkon, gereed om behoorlik te begin ontspan.

Toe ek weer sien, is ons aan die beweeg. Jy voel dit skaars. Net die bewegende kuslyn en 'n sagte geritsel van branders verklap ons vertrek.

Soos 'n sprokie seil ons stadig en statig die sonsondergang in. Ek kan myself knyp: Wat 'n absolute droom!
Die lewe aan boord

Vir dié roete doen die Norwegian Viva verskillende hawens op die Spaanse kuslyn aan.

Bedags gaan ek aan wal en verloor myself in die straatlewe van stede op die vasteland soos Cádiz, Sevilla en Barcelona asook Palma op die eiland Majorka.

Die skip bied 'n magdom begeleide toere by elke bestemming aan vir dié wat daarvan hou om die dinkwerk van reis aan iemand anders oor te laat.

Smiddae en saans geniet ek die lewe op die skip, want daar is vermaak soos min en sowaar iets vir álmal om te doen aan boord.

Vir die jongspan (en jonges van gees) is daar 'n speletjiesarkade, virtuele-realiteit-sentrum, twee glybane en selfs 'n volledige go-cart-resiesbaan, terwyl volwassenes kan uitsien na 'n musiekteater, karaoke- en komediekroeg, veerpyltjies, minigholf en twee jacuzzi's - om net 'n paar hoogtepunte te noem.

Vir etes het jy 'n keuse uit altesame 15 eetsale en spesialiteitsrestaurante. Die eetsale is komplementêr en bied buffets en à la carte-spyskaarte met enigiets van burgers, pizza en steak tot seekos, sushi en kerries.

By die tema-restaurante kan jy jou verlustig in globale smake soos Mexikaans, Mediterreens, Frans, Italiaans en Japannees.

'n Groot trekpleister vir skeepsvaart is die feit dat elke generasie tuis sal voel op die skip, sê Nirosha Sidat, bestuurder van die NCL in Suid-Afrika.
Jy kan jou vakansie dus 'n behoorlike familie-affêre maak omdat ouma en oupa, ma en pa, tieners, jonger kinders en selfs kleuters altyd iets sal hê om te doen. Daarby is dit gerieflik en moeiteloos. Jy sien die wêreld en kry die kans om 'n verskeidenheid bestemmings te verken terwyl jy jou tas net een keer in en uit hoef te pak.
Welstandsreis in die mode

Deesdae is bootreise ook as welwees-wegbreke gewild.
Die afgelope vier jaar - sedert die einde van die Covid-pandemie - floreer welstandstoerisme soos reisigers bestemmings en aktiwiteite uitsoek wat hul fisieke en geestesgesondheid ondersteun en bevorder.
Volgens 'n verslag deur die Global Wellness Institute het welstandsreise tussen 2020 en 2022 jaarliks met 30 persent toegeneem, terwyl toerisme in die algemeen met 28 persent gegroei het.
Daarby het 'n peiling deur die internasionale reisagentskap Virtuoso bevind dat tot 94 persent van hul reisigers selfsorg by hul vakansie inkorporeer.
In dié bedryf is welstandsbootreise besig om die voortou te neem. Die togte wys dat luuksheid nie net oordaad beteken nie, maar ook ervarings bied wat jou liggaam vernuwe en jou siel verkwik. Jy hoef dus nie jou oefenprogram, gesonde dieet of meditasieroetine prys te gee om 'n onvergeetlike vakansie te geniet nie.
Welstand kom in verskeie vorms. Van tyd saam met familie en vriende tot nuwe bestemmings ontdek, stil oomblikke met 'n boek, of dans onder die sterre. 'n Bootreis bring al hierdie ervarings bymekaar - Nirosha Sidat, bestuurder van die NCL in Suid-Afrika
Aan boord van die Norwegian Viva in die Indulge Food Hall, een van die skip se komplementêre eetsale, is daar 'n toonbank met 'n verskeidenheid van slaaie, soppe, Hawaise poké- en boeddha-bakkies (klein porsies vars vegetariese bestanddele) spesiaal vir gesondheidsbewustes.
Ook ander eetsale en restaurante wat ek besoek het, het altyd 'n hele rits hoë-gehalte- proteïenryke geregte beskikbaar gehad, sowel as vegetariese en veganistiese opsies.
Ek het twee vroegoggend-jogaklasse bygewoon in die moderne gimnasium - die perfekte endorfien-inspuiting voor 'n dag van verkenning.
Die groot welstandsbederf is egter die Mandara-spa, wat aan die voorkant van die skip sit en spog met 'n ontspanningskamer (lounge) wat uitkyk oor die see.

Met die intrapslag nooi 'n elegante dubbelvolume-watervalmuur en binnenshuise verhitte swembad jou om jou bekommernisse by die deur te los en jou oor te gee aan die kalmte van die water.
Deur die loop van die week benut ek die spa-fasiliteite ten volle: Ek spandeer graag 'n paar minute in een van die vier saunas en volg dit op met 'n yskoue stort in die yskamer, 'n ritueel wat goedvoelhormone vrystel, stres verlaag, bloedsirkulasie bevorder en inflammasie in die lyf teenwerk.

Ek gaan ook vir 'n unieke massering waar 'n warm seewiermasker met natuurlike detokseienskappe oor my hele lyf aangewend en ná sowat 'n halfuur afgesluit word met 'n ontspannende massering.
Die ‘magic' van water
In sy boek Blue Mindskryf die marinebioloog Wallace J. Nichols oor die blue mind-teorie.
Hy voer aan dat ons brein instinktief in 'n meditatiewe toestand verkeer wanneer ons in, onder, op of naby water is. Hierdie toestand bring 'n diepe ontspanning mee, verlaag jou hartklop en oorspoel jou brein met goedvoelhormone soos oksitosien en dopamien.
Jy ervaar 'n spesiale vorm van aandagtigheid waar jou kreatiwiteit en probleemoplossingsvermoë gedy; waar jy die wêreld om jou ten volle inneem sonder dat die fokus daarop is dat jy iets moet dóén.
Hierdie fenomeen het ek eerstehands beleef.
Op 'n mistige oggend, terwyl ons van die Spaanse stad Motril na die eiland Ibiza vaar, gaan lê ek in die spa se ontspanningskamer en kyk uit oor die see met sy nimmereindigende horison. Ek drink 'n koppie kamilletee en het 'n leesboek saamgebring.

Maar by lees het ek nooit uitgekom nie, want ek sukkel om my fokus weg van die horison te verskuif.
Skielik is my altyd-warrelende gedagtes stil en daar daal 'n rustigheid oor my neer wat ek die afgelope jaar as nuwe ma lanklaas ervaar het . . .
Daar is darem maar net iets magies aan water en ons oseane, en ek besef opnuut hoe noodsaaklik dit is om dié natuurwonders te respekteer en bewaar.
Tot weersiens

Op dag sewe is die afklim bittersoet, maar ek is diep dankbaar vir 'n week waar die beste van twee wêrelde naatloos bymekaargebring is: die ontdekking en opwinding van nuwe bestemmings, gekombineer met oomblikke van diep ontspanning, kalmte, gesond voel en teenwoordig wees.
Vir my is dít waar die waarde van die bootreis gelê het. Jy kan jou verstand, lyf en gees voed, alles terwyl jy moeiteloos 'n verskeidenheid van bestemmings in een reistog besoek.
Interessante feite
- Die Norwegian Cruise Line-vloot bestaan uit 'n indrukwekkende 20 luukse passasierskepe wat na 450 bestemmings reg oor die wêreld seil. Die Norwegian Viva, waarop ons geseil het, is in 2023 te water gelaat.
- Die Norwegian Viva kan tot 3 195 passasiers en 1 506 bemannings-lede inneem.
- Die nuutste skip, die Norwegian Aqua, het in Maart haar eerste vaart onderneem.
- Die vele kombuise op die skip gebruik sowat 10 000 eiers 'n dag!
- Daar is verskeie volhoubaarheidsinisiatiewe aan boord, en sekere surpluskosse word elke dag as bestanddele in unieke skemerkelkies ingespan.
- SARIE was 'n gas van Norwegian Cruise Line en Big Ambitions. Kontak 'n NCL-reisagent by 021 200 6586 of besoek ncl.com
Bronneglobalwellnessinstitute.org, forbes.com, blueminding.com, skift.com



















