Reis

Vlam-filosoof: Leon Botha se liefdesbrief aan die kampvuur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

As kinders het ons ons ouers blindelings geglo: As jy te veel koffie drink, gaan jy vlooie in jou maag kry; as jy kougom insluk, gaan jou derms knoop; en, ja, as jy met vuur speel, gaan jy jou bed natmaak. Vandag weet ons dit was sommer net bangmaakstories, hoewel ons maar alte goed besef jy moet inderdaad nié met vuur speel nie. Maar dit bly 'n aangename ding wanneer hy brand... veral in die kampplek. '

n Mens kan die kampvuur as die hoeksteen van die kampwêreld beskou - en dit geld vir oud en jonk. Watter kind het nog nie gevra om die vuur in die kampplek aan te steek nie? Hier sit ek vandag, dekades later, en het al meer kampvure aangesteek as die aantal somers wat 'n mens oor jou leeftyd gaan sien. Net soos wat 'n mens in 'n kampgesin grootword en lief raak vir die natuur en die buitelewe, besef jy vinnig die waarde van 'n kampvuur.

Dis die middelpunt van wat ook al op jou staanplek gebeur. Dis een van die eerste tekens dat aandete op pad is - en nie sommer enige kos nie, want 'n mens sou kon argumenteer dat braaivleis dalk selfs belangriker is as die vuur self.

Die een kan nie sonder die ander nie. Die braaivuur verdien ook al die lof vir die reuk van braaivleis. Wie het nié al tuis gesit en buurman se braaiwalms kom oor die muur gewaai en jy slurp omtrent al die lug op van lekkerte nie? Niks kom by die reuk van 'n braaivleisvuur nie, hoewel die aroma van 'n oggendkoffie wat brou, ook nie te versmaai is nie.

Al leef ons vandag in 'n moderne wêreld, is 'n vuur eintlik ou nuus wat uit die oer- jare kom. Maar in dié sin is daar iets merkwaardigs aan 'n vuur. Al kamp die mensdom nog skaars 'n eeu in woonwaens, is daar geen vergelyking tussen die eerste woonwaens en vandag se superluukses nie. Hierteenoor is jou kampvuur presies dieselfde as 'n vuur van eeue gelede.

'n Vuur het steeds net drie basiese elemente nodig om te brand: Suurstof, hitte en 'n brandstof, wat in ons geval hout is. Om die vuur aan die gang te kry is wel nie deel van die basiese begrip nie, want die eerste vure is beslis nie met vuurhoutjies of aanstekers aan die gang gekry nie.

Vir ons oerouers was dit meer van 'n gesoebat, want hulle moes stokkies warm vryf of klippe teen mekaar kap met die hoop op 'n vonk. Hier het die mensdom dus 'n merkbare vooruitgang gemaak (en sluit daarby sommer ook die rooster in).

Te oordeel na dít wat 'n mens op televisie sien, het die oerbraaiers 'n soort spitkontrepsie oor die vuur gebou óf sommer net 'n lang stok met die stukkie vleis op die punt daarvan oor die vuur gehou om dit gaar te kry. Nietemin, sodra die spulletjie aan die gang gekom het, is die vuur terug in sy eeue oue gewaad.

As jy meer wil weet oor jou medekampeerders sonder dat julle hand skud en idees uitruil, wag vir vuuraansteek. Jy kan sommer op 'n afstand sien hoe jou buurman sy kampvuur verstaan. Vir sommiges is dit tweede natuur, soos om met die wa terug te stoot, maar daar is altyd iemand in die kampplek wat met sy hopie hout stoei.

Dié arme een verdwyn naderhand agter 'n digte rookskerm (en natuurlik waai die wind in jou rigting). Sy vrou sal dalk nader staan met 'n groot deksel om oor die vuur te waai - asof die wind nie genoeg is nie - maar dit jaag net meer bolle rook die kampplek vol.

Dit is in dié stadium dat 'n mens wonder of die mense honger sal moet gaan slaap, of hulle dalk wend tot drastieser stappe. Jy wag vir iemand om 'n kannetjie petrol nader te bring, en voor jou geestesoog sien jy reeds 'n enorme "woep!" soos hulle braaivuur tydelik lewe kry. Die laaste ding wat 'n mens wil doen, is om oor 'n braaiplek te kla.

Maar 'n gemesselde braaiplek het sy frustrasies. So 'n braaiplek op jou staanplek is goed en gaaf, maar dit gaan tien teen een nie op die regte plek staan nie.

Jy moet dus die braaiplek eerste in ag neem wanneer jy opslaan. En as die wind van rigting verander, gaan jy maar moet leef met die rook wat jou wa binnewaai, want die braaiplek kan nêrens heen nie. Terug by die bure se rook: Nat hout werk net nie, behalwe as jy die eerste houtjies ekstrafyn kap - en dan moet jy jou stook ken om die spulletjie aan die brand te kry en so te hou.

Dis een van die vernaamste redes waarom ek, indien dit enigsins moontlik is, ordentlike droë braaihout inpak wanneer ons gaan kamp. Die sakkies hout is nou wel bonkig en boonop nogal swaar, maar dis 'n geringe prys om te betaal vir 'n ordentlike kampvuur. Buiten die braaihout pak ek nog 'n swaar, bonkige item: My braaier.

As jy meer wil weet oor jou medekampeerders sonder dat julle hand skud en idees uitruil, wag vir vuuraansteek.

Oor die jare heen het ek in verskeie woonplekke gebly, maar een projek was altyd deel daarvan: Om my eie braaiplek te bou, op 'n uitgesoekte hoek in die erf. Hopelik staan hulle vandag nog daar in drie van Pretoria se voorstede. 'n Goeie 25 jaar gelede het ek 'n baie spesiale geskenk gekry. My oorlede skoonpa, Koos van der Westhuizen, het destyds vir my en my twee broers elkeen 'n braaier van vlekvrye staal gegee.

Daardie braaier gaan kamp vandag nog saam met my en het al duisende kilometers agter die blad. Hy was al in elke hoek van die land en ook in buurlande soos Botswana, Zimbabwe en Mosambiek. Daardie braaier het al lanings sekelbos en kameeldoring in as verander om, wel, 'n plaas vol diere gaar te kry.

Dit is die een kampitem wat ek nog nie een keer by die huis vergeet het nie en ek ry dit saam selfs al is daar braaigeriewe in die kampplek. Ek is dus nie té veel gepla as ek by 'n kampplek opdaag en daar is nie 'n braaier op my staanplek nie, want my getroue kampvriend het mos ieder geval saamgekom. Dit geld natuurlik alles wanneer 'n mens na 'n kampplek toe ry, maar vir artikels moet ons reisjoernaliste soms nader aan 'n bestemming vlieg waar ons dan 'n sleepvoertuig kry, 'n wa haak en kampplek toe mik.

Dan moet my braaier by die huis bly. Gelukkig is die kans dan meestal goed dat die kampplek iewers 'n braaiplek sal hê. Dan wag nog net een veranderlike waaroor 'n mens duidelikheid moet kry: Het die oord se braaier 'n rooster?

Ek het al by verskeie oordeienaars gehoor roosters kry maklik voete, maar 'n braaier sonder 'n rooster is net 'n halwe braaier. Jy sal dus in elk geval minstens met 'n rooster moet opdaag, wat beteken jy kan net sowel jou hele braaier saambring. (Terloops, dit pla my glad nie om op 'n rooster te braai wat vreemdelinge die vorige aand gebruik het nie - die vuur se vlamme is immers 'n onfeilbare "ontsmettingsmiddel".)

By een kampplek in die KwaZulu-Natalse Noordkus was daar met ons besoek roosters te huur, en meer onlangs het ons by 'n ander kampplek in KwaZulu-Natal gesien die roosters is sowaar met 'n ketting aan die gemesselde braaiplek vas. By meer as een kampplek moes ek al loop en 'n toeknyprooster koop om die halwe braaier te kan gebruik.

Dit maak nie saak of jy jou eie braaier saamry of in die Kruger langs die geplante skottelskaarbraai met sy verstelbare rooster staan nie; dalk het jy vrede gemaak met 'n gemesselde braaiplek of jy moet ver ente stap na 'n gemeenskaplike braaiplek toe...

Ons almal behoort die kampvuur die nodige erkenning te gee. Kom ons lig 'n glasie op 'n warmte wat jy net in die kampplek raakloop. Lank lewe die kampvuur!