Sir Laurens van der Post sê die Boesmans in die Kalahari-woestyn het twee soorte honger - die "Groot Honger" en die "Klein Honger". Laasgenoemde is die honger vir kos in die maag, maar daardie Groot Honger - die grootste honger van almal - is die honger na betekenis.
Dit verduidelik dalk hoekom so baie van ons vriende en familie knaend kwaad en onvergenoegd voorkom. Hulle sukkel waarskynlik om betekenis aan hulle menswees te koppel.
Hulle is ongelukkig in hulle self, want hulle sukkel om die gevoel van "híér is waar ek behoort" te ervaar. Dalk omdat daar nie veel is vir hulle om na uit te sien nie.
Ek lees sielkundiges sê sodra enigiets wat jy doen vir jou betekenis het, maak dit nie saak of jou gemoed wissel tussen gelukkig en ongelukkig nie. Die belangrikste gevoel is een van tevredenheid. 'n Besef dat jy nie alleen is nie en dat jy behoort.
Die konsep van die Groot Honger as 'n mens se diepgaande behoefte aan betekenis, gee op sy beurt betekenis aan hoekom iemand kamp. Of jy nou 'n tent, woonwa of ryhuis verkies, hierdie leefstylkeuse gaan oor baie meer as om van daaglikse roetines te ontsnap of die natuur te geniet.
Dit vervul ook 'n dieper behoefte aan 'n verbintenis tot die groter prentjie van eenvoud en egtheid. Dit skep 'n gevoel dat jy behoort.Ek het dit al voorheen aangeraak, maar kamp en die buitelewe-aktiwiteite wat daarmee gepaardgaan - soos stap, bome uitken, voëlskyk en fietsry - skep 'n ontsnapkans van die daaglikse stryd om sin te probeer maak oor waar ek behoort in my alledaagse bestaan.
Alles wat ek doen en ervaar wanneer ek kamp, stroop my lewe tot 'n meer basiese vlak van skuiling, warmte, en geselskap. Hierdie eenvoud bring 'n gevoel van tevredenheid. Daarmee saam sorg gedeelde oomblikke - soos 'n kuier om 'n kampvuur, die eerste besoek aan 'n nuwe kampplek of wanneer jy jou bure help om hulle kamp op te slaan - vir 'n gevoel van eenheid en doelgerigtheid.
In die konteks van Van der Post se Groot Honger voed hierdie ervarings die honger na 'n verbintenis met nie net ander nie, maar ook met die natuur. Seevakansies koppel my aan die ritme van die branders, wind en reën, en die dierelewe in die rotspoele.
Om in die bos te kamp sorg ook vir 'n unieke belewenis. Die fauna en flora in die bos is eiesoortig en die rustigheid anders.
Ek lees sielkundiges sê sodra enigiets wat jy doen vir jou betekenis het, maak dit nie saak of jou gemoed wissel tussen gelukkig en ongelukkig nie.
Ongeag waar ek kamp en hoe lank ek daar kamp, ek kry dan die geleentheid om weg te breek van my daaglikse geswoeg. Kamp laat my toe om te vibreer saam met die ritme van die natuur.
Ek skakel in by sonsopkomste en -ondergange. Ek beleef elke liewe nuk en gril wat die weer kan opdis en dis 'n ervaring wat perspektief gee oor waar my plek in die lewe is.
Op 'n manier weerspieël hierdie soort "behoort" ook Van der Post se idee van betekenis. Dit gaan nie oor deurlopende vreugde nie, maar 'n bestendige en vervullende verbintenis met die klimaat, dit wat naby jou is en ook die omliggende omgewing.
Die berge, see, riviere, damme en bos...Soms is kamp 'n vorm van 'n persoonlike pelgrimstog, 'n manier om die lewe weer in oënskou te neem, om duidelikheid te soek of om bloot te bestaan binne in 'n ruimte waar jou gees nie alleen voel nie.
Daardie tye wanneer jy kamp, al is dit net vir 'n naweek, verskaf 'n anker van betekenis. Dis 'n plek waar die Groot Honger bevredig word, selfs al is dit net vir 'n klein rukkie.














