Nie te lank gelede nie ry ek een Saterdagoggend deur 'n Vrystaatse dorp, verby die garage en die Spar. Toe ek by die kerk kom, is dit net karre en braaivleisrook waar jy kyk.
Toe weet ek sommer: Hier word vandag basaar gehou. En ek hou daar stil. Ons in die stad hou mos nie meer basaar nie. Ons het vlooimarkte. Ons het fêtes en kermisse. Maar 'n basaar is meer as dit - baie meer.
Ek verwonder my telkens aan hoe 'n mens se geheue werk. Ek was skaars by daardie kerk se hek in, toe onthou ek skielik mense wat ek gedink het ek het al van vergeet: oom Anneries Grové en oom Niek Louw, tant Berdina Smit, tant Baby van der Ryst, tant Hester van Niekerk…
Dit is van die bedrywige basaar-ooms en -tantes op die dorp waar ek jonk was. Ek het hulle weer voor my gesien: Oom Anneries met die swepe wat hy self gevleg het, oom Niek met sy sosaties, tant Berdina met haar hekelwerk, tant Baby met haar tjoklitkoeke, en tant Hester…o, jy was darem gelukkig as jy een van tant Hester se tuisgebakte brode te koop kon kry, want nog voor Dominee die basaar met skriflesing en gebed geopen het, het mense al by die broodtafel saamgepak.
Wat ek nou die oggend daar gesien het, het nie veel verskil van die basaars wat ek leer ken het nie. Buite die kerksaal het tafels in rye gestaan onder stellasies wat met ou Spoorwegseile oorgetrek was. En oral was plakkate wat aandui wat waar verkoop word: Sosaties, pannekoek, vetkoek, jaffles, poeding, koeksisters, groot koeke, klein koekies, terte, lekkergoed en gemmerbier.
In die saal was ook tafels, sulke lang houtblaaie wat op driehoekige pote rus. Dis waar die naaldwerk, handwerk en speelgoed te koop was.
Op die verhoog was die tombolatafel, met 'n rak agter dit wat gepak was met tennisballe, waterpistole, fluitjies - alles wat jy kon wen afhangende van die nommer wat jy getrek het uit die kartondoos wat met bruinpapier oorgetrek was.
Ek het na die pannekoektafel gestap. Twee of drie pannekoeke is net die ding om 'n mens in die regte luim vir 'n basaar te kry.
Agter die tafel het vier vroue voor Cadac-gasstofies gestaan. Hulle was veteraan-pannekoekbakkers, dit kon jy dadelik sien.
Toe weet ek sommer: Hier word vandag basaar gehou. En ek hou daar stil. Ons in die stad hou mos nie meer basaar nie. Ons het vlooimarkte. Ons het fêtes en kermisse. Maar 'n basaar is meer as dit - baie meer.
'n Goeie pannekoekbakker herken jy aan haar pan. Jy sal nie sommer een van hulle betrap met een van hierdie gebruik-geenkookolie-panne wat op die TV geadverteer word nie. Nee, jy sal haar sien met 'n aluminiumpan met 'n dik boom. Die pan is al pikswart gebrand, en dikwels is die handvatsel met 'n stukkie hout vervang.
"Kan ons help?" het een van die vroue gevra. Die gaar pannekoek het in 'n glasbak oor 'n pot kokende water op 'n stofie gewag. Op die tafel was 'n deksellose roomysbak vol kaneelsuiker en velletjies waspapier waarin die gaar pannekoeke toegedraai is.
"Drie pannekoeke, asseblief."
Ek het 'n noot uit my sak gehaal en dit vir die vrou gegee.
"Nee, Meneer, ons vat net kaartjies, hoor."
Hoe vinnig vergeet 'n mens nie! Op 'n basaar kan jy mos slegs iets met "kaartjies" koop.
Die jaarlikse kerkbasaar was een van die hoogtepunte op ons dorp se sosiale kalender.
Eintlik was daar elke jaar drie basaars op die dorp: een deur die NG gemeente, een deur die Hervormers en een deur die Doppers.
'n Dopper sou miskien as vriendskapsgebaar 'n sjokoladekoek op die Hervormers se basaar gaan koop. Of 'n Gaaitjieponder - dis hoe die NG-mense genoem is - sou 'n vinnige draai by die Doppers s'n gooi, net om om te kyk of die basaar nie dalk, wel, beter as hulle s'n is nie.
En 'n goeie basaar gebeur nie sommer oornag nie. Maande vooraf is 'n reëlingskomitee op die been gebring. Die gemeente is verdeel in wyke en aan elke wyk is 'n "tafel" toevertrou.
Soms het dit tot onenigheid en selfs 'n kortstondige kwaaivriendskap gelei: Wyk 3 se mense sou byvoorbeeld vies wees omdat Wyk 10 die vleistafel gekry het en hulle al weer met die naaldwerktafel sit.
Maar op die Saterdagoggend van die basaar was die hele gemeente weer die ene vrolikheid en eensgesindheid.
My pa en ma was altyd by die basaar betrokke en ek moes dikwels help om pannekoekdeeg in roomkanne aan te maak, of fudge en klapperys in sakkies te pak, of help klits aan die Moir's-kitspoeding.
As beloning het my ma my altyd toegelaat om die bakke uit te lek.
Dit was nog halfdonker wanneer ons in die Valiant by die kerksaal stilgehou het. Oral was mense reeds doenig om tafels op te slaan, om seile oor stellasies te trek, om kartonbokse en skinkborde vol goed nader te dra.
Ook nie lank nie dan het 'n vrolike konsertinaplaat weerklink oor die luidsprekers wat aan een van die takke van die doringboom voor die saal gehang het, terwyl tant Berdina roep: "Nee, herder, kry 'n mens nie koffie hier nie?"
Die koffiewater is altyd in die saal se kombuis gekook in 'n groot, silwerkleurige kan.
Oom Spikkels van der Poel, wat nooit juis in die kerk gekom het nie, het elke jaar die basaar se skyfskiet gereël. Hy het in die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika geveg en het altyd 'n bruin oorpak aangehad met stewels wat só blink was dat jy jou eie weerkaatsing in die punte kon sien.
Hy het 'n muur van hooibale agter die saal gepak, en dan kon jy vyf skote met 'n windbuks skiet na 'n teiken - so 'n klomp swart kringe met 'n kol in die middel - wat teen 'n baal gehang het.
En jy mag nie dooierus gevat het met die windbuks nie. Oom Spikkels het 'n wit lyn met kalk op die grond gegooi. Daar moes jy gaan staan, en dan het oom Spikkels geroep: "Gereed? Laai!"
Dan het jy een van die koeëltjies - dié het jy altyd in jou mond gehou - in die windbuks se loop gedruk en aangelê. Agterop oom Spikkels se groen Datsun-bakkie, wat daar naby geparkeer was, het 'n skaap vasgemaak gestaan. Die een wat die dag die meeste punte met vyf skote aangeteken het, het die helfte van daardie skaap gewen.
Die ander helfte was 'n prys in die tombola.
Oom Spikkels het die skaap altyd weer huis toe geneem, dit geslag, en dan die helftes aan die wenners besorg.
Hier teen agtuur die oggend was die braaivleisvure aangesteek en die tafels opgeslaan en volgepak met van jêmtertjies en vyekonfyt tot een van tant Breggie Nienaber se toilettooisels.
Tant Breggie het haar eie volledige gehekelde reeks gehad vir die sindelike, plattelandse toilet: Sy het oortreksels vir die sitplek gehekel, asook vir die deksel, die waterbak se deksel, en vir die ekstra toiletrol wat op die waterbak staan. Sy het ook so 'n sak gemaak waarin 'n bykomende arsenaal toiletrolle agter die toiletdeur, langs die kerkalmanak, kan hang.
Om alles mooi af te rond het sy ook 'n matjie gemaak waarop jy jou voete sag voor die toilet kon laat rus.
Maar agtuur die oggend mag jy nog niks gekoop het nie - behalwe koffie. Almal moes eers wag tot negeuur wanneer Dominee die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen het, nadat oom Koos Louw, voorsitter van die reëlingskomitee, almal teenwoordig hartlik verwelkom het terwyl die luidspreker hom kort-kort in die rede val.
Miskien die eerste keer in my lewe dat ek werklik erge gevoelens van gierigheid en afguns gehad het, was op basaardag - onder gebed by 'n speelgoedtafel.
Teen agtuur die oggend was die braaivleisvure aangesteek en die tafels volgepak. Maar jymag nog niks gekoop het nie - behalwe koffie. Almal moes eers wag tot negeuur wanneer Dominee die verrigtingemet skriflesing en gebed geopen het.
Jy is ses jaar oud. Jy staan ingedruk tussen 'n klomp ander kinders by die speelgoedtafel.
Jou oë is op 'n speelgoedgeweer wat oom Seppie Grip uit hout gekerf het. Langs jou staan Johnny Virtue. Sy oë is ook op daar die geweer.
Al die seuntjies se oë is op daardie geweer, terwyl Dominee klaar uit die Bybel lees, en sê: "Kom ons buig dan die hoofde in nederige gebed…"
Jy probeer jou oë toehou, maar hulle gaan vanself oop. Jy begeer daardie geweer met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.
En dan, terwyl Dominee nog besig is om te bid, skiet Johnny se hand langs jou uit tot op die houtgeweer. Jy gaan Johnny se hand nie weer daar afkry nie, besef jy vol wrewel en afguns, en loer om jou rond: By die broodtafel staan ook 'n klomp mense wat maak asof hulle na Dominee se gebed luister.
Party het hulle hande op van tant Hester se brode.
Ek het toe nou die oggend daar in die Vrystaat eers kaartjies gaan koop voor ek terug is na die pannekoektafel toe. Op pad het ek sommer gou vir my 'n jaffle ook gekoop.
Dis amper asof 'n basaar ontwerp is om jou 'n hele dag aan die eet te hou: Jy sal byvoorbeeld afskop met 'n pannekoek en dan sien jy die jaffles, en dink: Miskien moet ek enetjie vat om die soet smaak van die pannekoek uit die mond te kry. En dan ruik jy oom Niek Louw se sosaties, wat jou reguit poedingtafel toe dryf.
Wie het nog nooit basaarpoeding geëet - en liefgekry - nie?
'n Skeppie koue dadelpoeding, 'n skeppie jellie, 'n skeppie Moir's-kitspoeding en 'n skeppie skuimpoeding - afgerond met heerlike vla.
Nou die oggend het ek ook vir my 'n bakkie poeding gekoop en toe eenkant gaan staan en alles dopgehou: Die mense by die tafels en die laaities by die skyfskiet.
Onder 'n boom was 'n man besig om goed op te veil.
By die speelgoedtafel het 'n ma gedreig om haar skoen uit te trek en haar lastige kind sommer net daar op die plek 'n goeie pak slae te gee.
Ons lewe in 'n wêreld waarin dinge vinnig verander. Soms is dit lekker om te sien party dinge is nog min of meer dieselfde.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 30 (April 2007) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.zaas jy iets raaksien.
























