Net nou die dag sit ek saam met mense iewers om ’n kampvuur. Bo ons roer die blare van ’n mopanie teen die agtergrond van die nagruim, die Melkweg uitgestrek van horison tot horison, die Suiderkruis gespan soos die styfgebolde seil van ’n onsigbare skip.
Uit die vuur glip vonke na bo, en rookpluimpies krul uit die brandende stompe.
Maar toe kom iemand van die tente se kant aangestap met sy koplig aangeskakel. En dis nie enige kopliggie nie.
Dis een van daai byderwetse kopligte wat met ’n helder strook buig oor die helfte van jou hoof, en só helder jy sou sweer die draer probeer ’n aanloopbaan vir ’n Boeing of iets verlig.
Wanneer die man met die helder koplig ons kringetjie om die vuur bereik, sny sy ligstraal deur die vuur se rookkolom van die een na die ander gesig, waar ons oombliklik verblind word soos gevangenes wat uit die tronk ontsnap het en nou terugkyk na die wagtoring waaruit die kollig na ons soek.
Wég is die vuurtjie se atmosfeer, die fynheid van die vonkies, en in my oë draai nou net die nabrand van die helder kopligstraal wat soos ’n laser in my retina ingeboor het. Ek beduie vir die man om dit asseblief af te sit en hy doen dit, verskonend.
Maar nou moet ons eers weer ’n rukkie wag vir die donkerte om rondom ons te kom lê, vir die lig wat reeds in die hemele is om in die klippe en boomstamme te kom rus, om hulleself stadigaan te wys sodat ons weer een kan wees met hierdie lieflike stukkie nagnatuur.
Dít is maar een voorbeeld van hoe ligbesoedeling ons kontak met die natuur kan versteur.
Die meeste van ons woon in stede of dorpe, waar straatligte deurnag brand om dammetjies lig op buurtstrate te laat dryf.
Ons het sekerheidsligte wat outomaties aanskakel wanneer die kat om ’n sekere hoek van die huis draf, of wanneer ’n voertuig in die oprit intrek.
Binne ons huise is elke vertrek van hoek tot kant verlig met die nuutste energiebesparende LED-liggie, en selfs die slaai en die tamatiesous word dadelik verlig die oomblik wanneer jy die yskasdeur ooptrek op soek na eergister se stukkie oorskiet-melktert. (“It’s not inside, it’s on top…”)
Zoem verder uit en sien jou dorp of stad van bo asof uit ’n vliegtuig, met die snelweë se helder lyne wat lei na verdere klossies ligte, ’n inkopiesentrum se parkeerterrein dalk, die hoë ligte van ’n sportstadion of dié wat oor ’n township waak soos ruimtetuie, om seker te maak almal kan veilig die pad vind na waar hulle woon.
Uit die Internasionale Ruimtestasie sien ’n eensame paar ruimtevaarders hoe die buitelyne van die aardbol se kontinente, daar waar die meeste mense woon – Europa, Indië, China, Japan, die ooskus van Amerika, selfs Gauteng – duidelik sigbaar is danksy die swam van ligte wat daar gloei en groei en nooit ophou skyn nie.
Die wêreld was nie altyd só lig nie. Bedags was daar die son, maar snags – nee, dan moes jy naby ’n vulkaan bly om ’n gloed te kon sien, of dalk die vlug van ’n vuurvliegie volg, dit bewonder vir sy manier om vanself iets van diep binne sy lyfie soos goud te laat gloei.
Weerlig kon die veld aan die brand slaan, en later het iemand uitgevind hoe om klippies teen mekaar te laat knerts om ’n vonkie te maak vir die fyn gras om daaruit ’n kampvuur te bou.
Só ook die stokkies wat met wrywing warm genoeg gemaak kon word om kooltjies te kan kry waaruit jy kon aanblaas iets wat ’n kookvuur kan wees, waar jy jou haasribbetjie op kon braai, of ’n mielie, of drie streepmuise op ’n spiespunt.
Later het die industriële revolusie vir ons elektrisiteit gegee, en die wêreld sou nooit weer donker wees nie. Nou kan treine soos molle deur die nag tonnel terwyl passasiers binne, knus en warm onder ligte by tafels sit en port drink en kaart speel.
Later kon jy ’n straler bestyg, binne ’n halfdag na ’n ander kontinent vlieg, en soms, as jy wou, ’n knoppie bo jou kop druk sodat ’n liggie op jou boek se bladsy kan skyn, of ’n ander een om die lugwaardin te roep en vir ’n botteltjie bruiswater te vra.
Saam met lig – ook uit die enjinkamers van die industriële revolusie – het geraas gekom. Daar was die fluit van stoomlokomotiewe, die gebrul van ’n vragmotor swaar gelaai met koper uit die Kongo, die gedreun van lugversorgers in die strate van ons stede waar die verkeer nooit ooit meer stilstaan nie – al was dit ampertjies so vir drie maande in 2020, die jaar van die virus.
In geraas, net soos in lig, vind ons ’n gevoel van veiligheid. Die TV gesels oor die stilte van die afwesigheid van ander mense in die huis, van ’n plek waar eens familie was, maar nou net klipharde kommentaar van ’n rugbywedstryd uitgesaai van wie weet waar.
Miljoene mense ken nie meer stilte nie, en ook nie donkerte nie. Wanneer hulle die een of die ander teëkom – of nóg erger, albei tegelyk – is dit vreesaanjaend, iets om voor bang te wees.
In die donker wag ’n booswig vir jou om die hoek, in die stilte beraam ’n swendelaar planne om iets onderduims met jou pensioengeld aan te vang.
Die natuur kon nie so maklik aanpas tot die nuwe orde van geraas en lig nie. Motte dink steeds elke buitelig is ’n maan, selfs luiperds moet nou hulle rosette wys wanneer hulle privaat wil kom drink by Nossob, waar ’n watergat-spreilig hulle uitwys aan die duisende mense wat hulle bewegings aanlyn oor die webkamera volg – mense wat nie weet wat dit is om te slaap nie.
Trekvoëls in Noord-Amerika vlieg hulleself te pletter teen wolkekrabbers wanneer hulle pad soek met die sterre langs, maar bevark word deur leë, helderverligte kantoorverdiepings waar rekenaarskerms blou voor mensvrye stoele glimmer en skoonmakers met loeiende stofsuiers die matte bydam.
Ek het ook ’n kopliggie, maar ek hou van hom flou. Ek ry ook soms op distrikspaaie met my hoofligte aangeskakel en verblind ’n stomme kolhaas, ’n trio bakoorjakkalsies, ’n onskuldige naguil.
Ek speel ook soms my hoëtroustel te hard en laat die krieke en die paddas buite stil raak, my dalk selfs haat.
Van die lig en die geraas gaan ons nooit ontsnap nie. Maar kom ons soek stilte en donkerte waar ons kan – terwyl ons nog kan.
Soek vir jou volgende vakansie ’n stuk veld, ’n stuk berg, ’n vlakte wat ligloos tot op die horison strek. Vind ’n stoep waarvandaan jy ’n jakkals kan hoor huil, hoe die uil hoe-hoe, die buitelyn van ’n vlermuis teen die Melkweg kan sien, ’n verskietende ster tussen Elon se satelliete kan waardeer.
Kom ons skakel soms ál die ligte af, die masjiene ook. Laat die waaier ophou waai en die lugversorging rus.
Wanneer ons lig soek, maak dit klein, steek ’n kers aan en sit dit op die vensterbank en baai in die gloed daarvan.
Wag vir volmaan en gaan stap op ’n voetpad wat jy goed ken. Maak ’n vuurtjie, net-net genoeg vir die stukkie wors wat jy wil braai, en laat hom dan afsak en kole word, dan as.
Kom ons gebruik die stilte om iets vir mekaar te sê, om na onsself te luister, te wonder oor wie ons is.
Kom ons vat die donker en gebruik dit soos ’n kombers, as troos teen dit wat ons seermaak, as windskerm teen die vlammetjie van ons eie gedagtes, waarom bakhande vou en ons onsself onthou.





















