Een ding is vir seker: Stellenbosch bied lekker kos, goeie wyn en 'n heerlike ervaring. Suzaan Potgieter deel wat jy by 'n paar plase kry.

Geborg deur:
Delheim

Delheim Grand Reserve is 'n ikoniese wyn wat vir die eerste keer in 1981 die lig gesien het en is 'n toonbeeld van voortgesette goeie wynmaakmetodes en uitsonderlike terroir.
Klein hoeveelhede druiwe word met die hand gepluk en slegs die allerbeste vate word vir die Grand Reserve Blend gebruik.
Dit is 'n baanbrekende versnit in Kaapse Bordeaux-styl en is ontwikkel met die doel om uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te verseker.
Simonsberg Cabernet Sauvignon is die fondasie waarop hierdie versnit gebou is.
Besoek www.delheim.com om die wyn te koop.
Cavalli
Verby die perdestalle sal jy 'n wêreld van lekkerte by Cavallivind.
Hier sal jy 'n ongelooflike lekker oester-en-wynproe (R250) kan geniet met kombinasies soos hul chardonnay saam met 'n pynappel-en-sitrus-oester en die cabernet sauvignon saam met 'n oester met beesvet-en-Salticrax-happies.
Gewone wynproeë (R85 of R150) is ook beskikbaar met verskillende opsies.
By die restaurant kan jy smul aan disse soos gnocchi, vis, Karoo-lam en risotto.
Hulle bied ook pieknieks (R600 vir twee mense) wat 'n fees op 'n sonskyndag is. Dit is eers weer vanaf September beskikbaar.
- Cavalli en hul restaurant is oop van Woensdae tot Sondae.
Spier
Met soveel doendinge vir oud en jonk by Spier, sal jy amper 'n hele dag hier kan deurbring. Van wyn tot spa, die Eagle Encounters, 'n speeltuin vir kinders en verskeie restaurante is alles waarna jy kan uitsien.
By die proelokaal moet jy seker maak jy proe hul sauvignon blanc, chenin blanc en cabernet sauvignon. Daar is verskillende reekse om van te kies en jy sal vinnig 'n gunsteling of twee kry.
Probeer ook hul nuwe tuin-tot-glas-proe (R160) waar vier van hul organiese wyne saam met vegetariese happies - gemaak van bestanddele uit hul tuin - voorgesit word.
- Spier is heelweek oop.
Eikendal
Met 'n uitsig oor die vallei, sal jy vir ure by Eikendal kan sit en 'n mooiweersdag met 'n glasie wyn kan geniet. 'n Wynproe kos R50 vir drie wyne en R70 vir vyf wyne. Hulle bied verskillende proe-opsies wat insluit 'n pizza-en-wynproe (R170) en 'n kaaskoek-en-wynproe (R170). Daar is ook 'n proe met melk en koekies vir kinders (R75). Verder bied hulle stappies deur die wingerde (R20), keldertoere (R20) deur die week en trekkerritte oor naweke. Die Cucina Di Giovanni-restaurant op die plaas is oop vir middag- en aandete met eg Italiaanse disse om aan te smul.
- Eikendal is oop van Dinsdae tot Sondae.
Blaauwklippen
Met 'n nuwe proehuis waar 'n sensoriese ervaring belowe word, moet jy Blaauwklippen beslis besoek. Hulle bied seisoenale wyn-en-kosproeë soos 'n wynproe met pizza (R195); een met eg Suid-Afrikaanse disse soos bobotie, beesstert en malva (R240); 'n vegetariese proe (R140); en 'n meze-proe (R120).
Daar is ook proeë vir soettande waar wyn saam met sjokolade en fudge voorgesit word.
Pizza en peuselhappies sal ook in die proehuis beskikbaar wees, terwyl hul plaaswinkel, deli en hul nuwe restaurant wat binnekort oopmaak ook opsies bied.
- Blaauwklippen is heelweek oop.
Kleine Zalze
Proe en kuier saam by Kleine Zalze waar jy nooit teleurgesteld sal wees nie.
Hul chenin blanc en cabernet sauvignon (in enige van die reekse) is altyd 'n goeie opsie om tydens 'n besoek te geniet.
By die proelokaal kan jy verskillende reekse en wyne proe (tussen R45 en R160) terwyl jy 'n kaas- of vleisbord (R150) geniet.
Die restaurant bied 'n spyskaart wat seisoenaal verander en bevat van seekos tot vleis en groente. Elke dis kan in 'n klein of groter porsie bestel word.
Moenie hul Sondagmiddagetes misloop nie! Hier put die restaurant-span hul inspirasie uit verskillende koslande om 'n internasionale geur te gee aan 'n verskeidenheid geregte.
- Kleine Zalze is heelweek oop. Besoek www.kleinezalze.co.za vir meer inligting.
Neethlingshof
Daar is baie ervarings om te geniet as jy by Neethlingshof gaan kuier. Daar is verskillende wynproeë (tussen R75 en R120) om van te kies. Hulle bied ook 'n kos-en-wynproe (R170) waar vyf wyne met happies soos 'n mini-burger en samoesa bedien word. Daar is ook 'n proe vir kinders (R70) en 'n sjokoladetruffel-en-wynproe (R90). Die Salt-restaurant bied heerlike pizzas en peuselborde om in die wyntuin te geniet. Daar is ook 'n Salt Deli in die herehuis waar ontbyt en middagete bedien word.
- Neethlingshof is heelweek oop.
Tokara
Maak 'n draai by Tokara waar dit 'n simfonie van wyn en olywe is.
Hier is cabernet sauvignon veral die fokus-kultivar en word in 'n vlagskipwyn en versnit gevier.
Probeer gerus ook hul sauvignon blanc en hul heerlike versnitwyne.
Hulle bied ook 'n olyfolieproe.
As jy iets wil eet, kan jy by die restaurant of deli aanklop vir 'n verskeidenheid van lekkernye.
- Tokara is heelweek oop.













