Reis

Sewe studente se epiese 1992-Krugertoer in ’n 1972 VW Kombi

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Christie Fourie van Brackenfell vertel aan Weg…

In die wintervakansie van 1992 vertrek ek en ses ander studente van die Dagbreek-manskoshuis op Stellenbosch op 'n toer na die destydse Oos-Transvaal.

Ons mikpunt? Die wildtuin!

Ons huur 'n 1972 Fleetline Volkswagen-kombi en haak 'n waentjie.

Voor die toer komponeer ek en Hawies Fourie 'n liedjie: "In ou Fleetline wil ek ry, hy's die bussie net vir my, sorgeloos en kommervry!"

Dit eindig met: "Piet Vis, Piet Vis, jou lekker bus."

Die plan is om tot op Badplaas te ry waar ons twee aande sou slaap.

Die bestuurder dra 'n geel motorfietsvalhelm en het twee hulpbestuurders langs hom om seker te maak dat ons veilig ry.

Die orige vier sit op die sitplekke met 'n tafeltjie in die middel en speel brug.

Min het ons geweet dat daar báie tyd sou wees vir brug speel op hierdie toer...

In die waentjie was onder meer 'n verwarmer en twee bokse Swartland-soetwyn, wat die meeste van ons, buiten Rys Matthee, gereken het oorbodig was, maar dié het toe nuttig te pas gekom...

Op die gelykpad rol die een stel wiele na die ander verby ons.

Die opwinding was groot toe ons op 'n afdraande 110 km per uur haal.

Alles loop mooi tot op Warden in die Oos-Vrystaat.

Daar gaan staan Piet Vis se bus.

Rys en Hawies besluit om by die pastorie aan te klop. Die dominee verwys ons na iemand wat kan help.

Die vergasser is stukkend en iets moet van Harrismith af bestel word.

Die aand slaan ons 'n sesmantent op die grasperk langs die motorhawe op. Dit is Juniemaand en só koud dat sewe manne so na aan mekaar slaap dat daar plek is vir nóg twee mense in die tent.

Die volgende dag word die vergasser herstel en ry ons "sorgeloos en kommervry."

Ons is darem betyds vir een van ons bespreekte aande by Badplaas se Aventura-oord.

Van die manne gee die bus 'n hupstoot.
Van die manne gee die bus 'n hupstoot.

Die volgende oggend wil die bus wéér nie aan die gang kom nie. Ná 'n uur of wat se stoot vat hy uiteindelik!

Ons doen inkopies op Barberton en druk deur Kruger toe.

By die Numbi-hek stap al sewe van ons toon-bank toe om in te teken. Die ontvangsdame dui aan dat net ses persone per kampplek toegelaat word.

In reaksie daarop val twee manne onmiddellik plat.

Sy beduie met 'n glimlag en die swaai van haar hand dat ons maar kan ingaan.

Ons sit voet in die hoek en in die skemerdonker ry Pens du Toit om 'n draai tussen 'n olifant se slurp en voorpote deur; ongeskonde.

"Piet Vis, jou lekker bus!"

Ons volgende oornagstop is die Onder-Sabie-ruskamp.

Die gesoute Krugerbesoekers kyk ons onthuts aan wanneer ons langs hulle stilhou en die bus se revs 'n bietjie hoog loop.

Ons sukkel daai aand om die vuur aan die gang te kry met nat hout, maar net voor ons moed opgee, kom maak oom Brooks Anderson van Smithfield kennis.

Hy gesels lekker, gee vir ons sosaties en sê dat as ons ooit in die Suid-Vrystaat kom, moet ons by hom 'n draai kom maak. Hy kry 'n bottel Swartland.

'n Potjie brug padlangs.
'n Potjie brug padlangs.

Die volgende oggend vat die bus wéér nie. Dirk krap in die enjin en die res van ons speel 'n potjie of vier brug.

Toe hy steeds nie wil vat nie, stoot ons.

'n Vriendelike man in 'n nuwe kombi sleep ons aan die brand. Dié kry ook 'n bottel Swartland.

By die petrolpomp spuit 'n man die petrolpypies skoon, maar steeds is die bus nie lekker nie.

'n Park-amptenaar kom help. Hy ruil die pypies om en daar vat die bus.

Daar is nie veel tyd vir wildkyk en stilhou nie, want vanaand moet ons by Phalaborwa-hek uit voor 5.30 nm. en na die Eiland (deesdae die ATKV Eiland Spa).

Ons haal net-net die hek.

Kort daarna gil die bestuurders en die bussie swaai skeef - die swart silhoeët van 'n bees flits verby die venstertjies van die bus.

Ek voel hier kom moeilikheid, maar daar is geen slag nie. Lekker, ou Piet Vis!

Dis laataand wanneer ons by die Eiland aankom.

Ons bring twee nagte hier deur en het een volle dag van tennis speel en swem.

Ons oefen ons hantering en skoppe en speel 'n bietjie touchies (Dagbreek se amptelike sport.)

Volgende ry ons na die Blyderivierpoort vir nog twee nagte. Terwyl ons op pad sorgeloos en kommervry sit en brug speel, hoor ons die enjin stotter... skielik borrel 'n swart rookwolk agter die bus uit.

Ons weet sommer: Dis die einde van Piet Vis.

Toe Hawies Fourie die knoppie druk om dié leeu naby Hoedspruit af te neem, spring en brul Ta tegelykertyd. En skrik Hawies hom in 'n ander bloedgroep in.
Toe Hawies Fourie die knoppie druk om dié leeu naby Hoedspruit af te neem, spring en brul Ta tegelykertyd. En skrik Hawies hom in 'n ander bloedgroep in.

'n Barmhartige Samaritaan hou by ons stil en laai twee manne in om op Hoedspruit hulp te gaan soek.

Ons skenk nog 'n bottel Swartland.

Intussen pak ons die stoeltjies en tafeltjie uit en speel brug langs die bus. Ná 'n ruk besluit ons ons kan net sowel in die rigting van Hoedspruit begin stoot.

Ons stoot almal op die gelykpad en opdraandes. Teen die afdraandes spring ons in die bussie en laat waai.

As ons moeg is, speel ons weer 'n bietjie brug en dan stoot ons weer.

Só stoot ons bykans 12 km ver en ons liedjie neem 'n wending: "Piet Vis, Piet Vis, jou hondebus."

Dis tydens dié gestotery dat ons die enigste leeu van die toer sommer hier reg langs die pad van naby sien.

Uiteindelik daag hulp op.

Spanner en sy vriend, Pikkie, is dienspligtiges by die lugmagbasis op Hoedspruit.

Ja-nee, die enjin het opgepak.

Spanner sleep ons met sy Ford-bakkie in en belowe hulle sal die enjin kan oordoen; die onderdele moet net bestel word.

Solank ons vir die onderdele betaal, sal hulle dit verniet regmaak, maar hulle kan net saans ná-uurs aan die bussie werk.

Ons klop aan by die motel op Hoedspruit.

Opslaanplek vir 'n tent? Nee, nie eintlik nie, maar daar is toiletgeriewe en 'n stort agter die motel.

Ons kan die tent op die stoep van die badkamer opslaan.

So gesê, so gedaan.

Die moteleienaar is vriendelik en ken studente in nood. Hy laat ons verniet bly.

Ná drie of vier dae op die stoep en baie potjies brug is die bus weer reg.

Spanner beduie dat hy hom "so 'n bietjie geboor het en dat die bus nou amper 'n 1 700-enjin het."

Ons moet net vir die volgende 200 km minder as 120 km/h ry, dan kan ons weer vet gee!

Ons speel byna net soveel potjies brug as toe ons opgery het. Ek en Hawies klim af op Beaufort-Wes.

En Piet Vis se bus kom veilig in die Kaap aan.

Hoewel ons min van die wildtuin kon geniet, was dit vir baie van ons die begin van 'n lewenslange verbintenis met die Kruger.

Ons soek jou kiekies!

Het jy ou swart-wit foto's wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na redakteur@weg.co.za.

Christie Fourie | Foto’s: Rys Matthee

CTA