Tydens blomseisoen kan jy verskeie roetes verken.
"As die blomme kop uitsteek, moet ek net eenvoudig in my kar klim en gaan verken. Dit begin elke jaar hier vanaf Julie se kant. Ons hoor van lede wat baie opgewonde foto's WhatsApp om te sê die blomme is al uit!" sê Eonie van Schalkwyk, toerismebeampte van Namaqua-Weskus Toerisme.
"Dan is dit ek en my gesin wat die pad vat en gaan kyk."
Eonie sê gewoonlik verskyn die eerste blomme in die Vanrhynsdorp-omgewing. "2021 was die jaar wat ek myself beloof het ek gaan tussen die blomme piekniek hou. Watter beter plek as Maskam-gasteplaas, waar die blomme in plate staan. As toerismebeampte moet ek mos weet hoe dit is sodat ek dit aan toeriste kan oordra!" skerts sy.

"In 2019 was dit ek, my suster en niggie wat sommer die plaas te voet verken het. Dit is 'n lieflike staproete van so 7 km en volgens my is dit die beste om dit so te doen. Jy sien letterlik honderde verskillende spesies soos jy stap. Wat veronderstel is om ongeveer twee ure te neem, raak dan heeldag se verkenning."
In 2021 was dit Eonie en haar gesin se beurt - en hulle móés piekniek hou! "Ons kies toe om die roete te ry, sodoende die mooiste piekniekplek te kan kies en dan 'n bietjie langer te vertoef tussen die plate blomme. En natuurlik die verpligte blomfoto's te neem."
So het die seisoen net beter geraak. "Einde Julie het ons my skoonouers geneem. Dié keer ry ons die Urionskraal- en Mauerskop-roete. Dit is 'n grondpad uit Vanrhynsdorp wat al langs die voet van die Maskamberg kronkel. Met blomme oral, lei die grondpad ons tot by die Gifbergpad en weer maak ons 'n draai by Maskam-gasteplaas. Die blomme is nog mooier as toe ons daar piekniek gehou het. Jy kan dit ook 'n sirkelroete maak wat weer in Vanrhynsdorp eindig."

Einde Augustus 2021 kom kuier haar ander niggie. "En hier gaan ons alweer - dié keer mik ons Nieuwoudtville se kant toe. Ons begin vroeg sodat ons beginpunt Nieuwoudtville kan wees en ons kan terugwerk Klawer se kant toe. Eerste stop, die Kokerboomwoud - 'n ware Towerbos! Nie oor die blomme nie, maar die baie kokerbome. Ons klim en klouter en staan verwonder langs die oerbome.
"Die tweede stop is by die Nieuwoudtville-waterval. Selfs hier staan die blomme hoog en die veld is verblindend groen. Die waterval loop en die poele water lyk aanloklik. Hier gebruik ek die ClanFlora-app. Tik net in hoe lyk die blom, dalk ook sy hoogte en siedaar! Die blomnaam waaroor jy gewonder het, verskyn. Tevrede met nuwe blomme gewaar en aangeteken, ry ons terug na Nieuwoudtville.
"Die dorp is 'n miernes van bedrywighede. Oop plotte is oortrek van blomme, selfs sommer so reg langs die paaie."
Sy sê elke 10 meter kry jy 'n tannie wat roosterkoeke op die vure maak en verkoop met die smaaklikste vulsels.
"Die kerksaal verkoop pannekoek en die koffiewinkels is vol. Dit is tog te lekker om te sien na die droewige grendeltydperk. Ons ry deur die dorp, volg dan die grondpaaie binne en buite Nieuwoudtville. Ons het regtig plate blomme gesien. My voorstel is: sit een dag uit vir verken en rondry, 'n ander dag vir die Veldblom-natuurreservaat en nog 'n dag vir die Hantam- Botaniese Tuine - altwee is die moeite werd om te besoek!"
Volgens Eonie was dit al laatmiddag. Hul soektog na skuinskoek begin, min wetend alles is uitverkoop! "Die Skuinskoek Paleis het pas sy laaste sakkie verkoop. Ons stop by elke stalletjie in die dorp, waar ons by die laaste stalletjie, soos wat jy uitry, kry! Dankie tog, nou het ons padkos vir die tog terug Klawer toe. Min wetend wat op ons wag! Omdat ons so vroeg gery het, was die son nog nie heeltemal uit nie. Op Vanrhynspas stop ons by die uitkykpunt. En dit wil lyk of my oë my verkul, want ek sien groot pienk kolle. Soos ons afry by die pas, is dit wragtag so… pienk vygiebosse so ver as wat jy kan sien. Dis ongelooflik. Wat 'n manier om ons roadtrip af te sluit met 'n pienk Knersvlakte!"

Eonie het in 2021 op vier verskillende tye gedurende die blomseisoen blomme gaan kyk:
- 10 Julie 2021 - Maskam-gasteplaas-piekniek
- 31 Julie 2021 - Urionskraal en Mauerskop
- 22 Augustus 2021 - Klawer- na Nieuwoudtville-verkenning
- 11 September 2021 - Strandfontein
"Die laaste bietjie blomme het ons by Strandfontein gevind, alles op een kol. Vriende van die Kaap het kom kuier en ons gaan bederf hulle met 'n ete en wynproe by Fryers Cove Vineyards. Die blomme was absoluut 'n bonus toe ons hul vinnig gaan wys het hoe lyk Strandfontein.
"Hoe fantasties is dit nie dat ons omgewing so divers is dat mens heel seisoen blomme kan ervaar nie. Jy moet net bereid wees om ver te ry. Die weer speel natuurlik 'n rol, so hou die reënpatroon dop. Die oostewind het ook 'n groot invloed, asook buitengewone hitte gedurende die winter en lente. Die beste is om 'n toerismekantoor te skakel en te hoor waar die blomme die mooiste is op daardie stadium van jou reis."
- Namaqua-Weskus Toerisme kan jou help met 'n blomverslag saamgestel deur Weskus Toerisme. Die verslag dek die hele Weskus-streek en word twee keer per week bygewerk om vir jou te sê waar die blomme die beste is! Skakel of WhatsApp hulle gerus by 082 608 7554


















