Misdaad

Vermiste babaseun van Strandfontein veilig teruggevind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die pasgebore Mogamat Imaad Sharmar van Strandfontein by Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte wat sedert Saterdag vermis is nadat 'n vrou by die Middestad-winkelsentrum in Bellville met hom verdwyn het, is ongedeerd gevind.

Nabilah Saghar, sy ouma aan vaderskant, het Maandagaand laat aan Netwerk24 bevestig dat Mogamat gevind is.

"Dit is die beste nuus wat ek kon kry!" het sy bygevoeg.

Volgens haar was Mogamat, wat op 19 Junie gebore is, en sy ouers Maandagaand laat nog by 'n hospitaal waar Mogamat ondersoek is.

Saghar het gesê daar is nog nie baie inligting beskikbaar oor die omstandighede waaronder Mogamat gevind is nie, maar volgens 'n plaaslike raadslid is die kind glo by 'n huis in Tafelsig gevind, en is die vrou wat hom geneem het, in aanhouding.

Mogamat se ma het vroeër Maandag gesmeek dat die vrou wat haar babaseun gevat het, hom veilig aan haar moet terugbesorg.

"Wat ook al jou naam is, asseblief, al is dit anoniem, laai hom iewers veilig af. Trek hom warm aan, draai hom toe en los hom iewers veilig, of los vir ons 'n wenk," het Imaan (Britney) Sharmar (25) uit haar huis in Strandfontein gepleit.

Sharmar ken die vrou wat na bewering met Mogamat verdwyn het nie, maar het haar al ontmoet.

"Ek wil niks met jou te doen hê nie, ek wil hom net by die huis hê," pleit Sharmar. "Ek smeek. Hy is net 'n week oud. Hy het my melk nodig, hy het my nodig. Hy moet tuis wees. My dogter is 'n ouer sussie. Jy vat die geleentheid van haar af weg."

'n Traan loop oor die wang van Imaan (Britney) Sharmar (25) wie se babaseuntjie vermis word. Foto: Jaco Marais
'n Traan loop oor die wang van Imaan (Britney) Sharmar (25) wie se babaseuntjie vermis word. Foto: Jaco Marais

Sharmar, wat getroud is en by 'n inbelsentrum werk, het in die Lentegeur-distrikshospitaal geboorte gegee aan haar seuntjie wat 2,1 kg geweeg het.

Sy sê sy voel hulpeloos sedert die vrou Saterdag met hom verdwyn het.

Dit is egter nie die eerste keer dat sy met die vrou te doen gehad het nie.

"Die eerste keer was in Mei toe sy na my huis toe gekom het met nurse-klere aan. Ek was toe nog swanger, ongeveer 36 weke. Ek het haar nooit voor dit ontmoet nie.

"Sy is 'n bruin vrou en lyk tussen 35 en 40 jaar oud. Sy praat vlot Afrikaans. Sy het vir my gesê wat haar naam is, maar ek weet nie of dit 'n regte naam is nie en ek wil dit nie in die publiek sê nie. Ek weet nie hoe sy geweet het waar ek bly nie. Sy het inligting oor my gehad en gesê sy verteenwoordig die Zoe Project."

Die projek is 'n gemeenskapsorganisasie sonder winsbejag wat moedergesondheidsorgprogramme verskaf en kwesbare vroue, meisies en babas in die Wes-Kaap ondersteun.

Imaan (Britney) Sharmar sit by die kleertjies wat sy gereed gehad het vir haar babaseun, wat nou vermis word. Foto: Jaco Marais
Imaan (Britney) Sharmar sit by die kleertjies wat sy gereed gehad het vir haar babaseun, wat nou vermis word. Foto: Jaco Marais

Die projek is in bedryf in Mowbray, Retreat, Hanover Park en Mitchells Plain se kraamafdelings, maar nie by distrikshospitale nie.

Tracey Aitken van die Zoe Project het Maandag gesê die vrou wat Sharmar genader het, is nie deel van die projek nie en haar span sal nooit na iemand se huis toe gaan nie.

Sharmar sê die dag in Mei wou die vrou persoonlike inligting hê en het vrae gevra oor haar swangerskap.

"Sy wou weet watter dienste sy my kan bied. Sy't gesê ons sal klasse bywoon waar ons leer hoe om 'n baba te hanteer. Toe sy weg is, was ek opgewonde, want ek het geweet ek gaan kraamverlof hê. Dit sou 'n ekstra buitemuurse aktiwiteit wees wat ek kon doen," sê Sharmar.

"Ek het nooit weer van haar gehoor nie, maar sy het gesê sy moet my op die program registreer. Sy het gesê nadat ek geboorte gegee het, sal ek geskenkpakke kry vir die versorging van die baba met produkte vir my en die baba."

Sharmar het geboorte gegee, maar nog nie kans gehad om dit te registreer nie. Haar man, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het nog nie die baba vasgehou of ontmoet nie.

"Verlede week het die vrou teruggekom na my toe en gesê ons gaan 'n werksessie bywoon," sê Sharmar. "Dit is toe alles gebeur.

"Die werksessie sou volgens haar by die burgersentrum in Bellville wees, maar ek ken nie die area nie. Saterdag was my eerste keer in die area. Ek het 'n Uber na Bellville geneem.

"Sy het gesê ek moet my baba saambring, want ons gaan aktiwiteite doen soos dat ek gaan leer hoe om winde uit te vryf. Sy het gesê 10 ander ma's gaan ook daar wees.

"Daar aangekom, is ons na die eetplek Hungry Lion toe. Sy het vir ons hoender bestel, maar die plek was vol. Ná 'n rukkie het ek begin sleg voel.

"Ek ken die gevoel. Ek word gereeld so naar, want ek het lae bloeddruk. Ek voel gewoonlik naar, duiselig of my sig raak vaag.

"Dit was meer intens as wat ek gewoonlik voel. Ek het 'n klein bietjie hoender en slaptjips geëet. Ons het toe uitgeloop en gaan staan waar ons ingekom het. Ek begin toe nog slegter voel. Ons het op 'n bankie naby 'n sportwinkel gaan sit.

"Ons het 'n bietjie gesels en toe ek opstaan, het ek die baba vir haar gegee en in 'n drom opgegooi. Sy het voorgestel dat ek badkamer toe gaan en my gesig was.

"Sy het toe ons albei se sakke vasgehou en my baba ook. Voordat ek by die badkamer ingegaan het, het sy gesê sy sal vir my op die bankie wag. Ek was net vyf minute daar binne en toe ek uitkom, was sy weg.

"Niemand het haar gesien nie en ek het van een ingang na die ander gehardloop op soek na haar. Iemand het vir my hul selfoon geleen sodat ek die polisie kon bel.

Imaan (Britney) Sharmar (middel) met haar ma, Deborah Brandt (links), en skoonma Nabilah Saghar langs haar.Foto: Jaco Marais
Imaan (Britney) Sharmar (middel) met haar ma, Deborah Brandt (links), en skoonma Nabilah Saghar langs haar.Foto: Jaco Marais

"Uiteindelik het ek na die kamera-kantoor van die winkelsentrum gegaan en toe sien ons op die beeldmateriaal hoe sy uitloop. Jy sien hoe sy uitstap.

"Sy het nooit vir my die indruk gegee dat sy so iets sal doen nie. Omdat ek haar vertrou het, het sy 'n manier gevind om my te manipuleer.

"Op die oomblik probeer ek nog sterk bly, maar die oomblik as ek my oë toemaak, sien ek haar gesig en sy gesig. Daar is 1 000 moontlikhede wat deur my kop gaan. Ek is stukkend.

"Ek het nooit verwag so iets sal met my gebeur nie. Hierdie drie dae dryf my teen die mure uit. Ek weet nie of hy iets gedrink het nie, of hy warm kleertjies het nie, of sy doek omgeruil word nie."

Die Middestad-winkelsentrum het Maandag gesê hy bied alle moontlike ondersteuning om die polisie in hul ondersoek te help.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het vroeër Maandag gesê die speurders volg alle leidrade op.

'n Foto van Mogamat Imaad Sharmar, wat op 19 Junie gebore is en nou vermis word. Foto: Facebook/The Pink Ladies
'n Foto van Mogamat Imaad Sharmar, wat op 19 Junie gebore is en nou vermis word. Foto: Facebook/The Pink Ladies

Oos-Kaapse baba ontvoer

In 'n afsonderlike voorval is Amahle Sigam in Julie verlede jaar onder huisarres geplaas nadat sy op 27 November 2022 'n babaseun in die Kenako-winkelsentrum ontvoer het.

Noncedo Jali (33) van Gqeberha, die baba se ma, het op 22 November 2022 aan haar seuntjie geboorte gegee.

Sigam het haar genader en bevriend en haar dae ná die geboorte by die Dora Nginza-hospitaal gaan haal om hulle huis toe te neem. Hulle is na die winkelsentrum waar Sigam wou geld trek en glo vir die baba klere wou koop.

Sy het egter met die seuntjie verdwyn, maar is sewe maande later in hegtenis geneem toe sy probeer het om die kind met vals papierwerk te registreer. Amptenare by die hospitaal het die polisie ontbied.

Sigam is tot een jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig en 16 uur gemeenskapsdiens per maand.

- ane.vanzyl@24.com

* Hierdie berig is aangepas met nuwe inligting nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM