Reis

Veldgids-stories: Die goeie, slegte én gevaarlike oomblikke

Jy hoef net een keer 'n veldgids in die wildtuin te sien wat met 'n bruingebrande arm oor die bakkieruit nonchalant op 'n "geen toegang"-paadjie afdraai om te besluit dat jy ook eendag só wil lewe, tussen die kremetarte en die olifante.

Veldgidse deel hulle liefde en kennis van die natuur met toeriste op wildkyk-uitstappies per voertuig of te voet. Hulle verryk jou ervaring deur sin te maak van die diere en voëls se gedrag.

Dis 'n goeie beroepskeuse, veral vir jongmense wat 'n lewe in die natuur bo die stad se liggies verkies.

Maar dis beslis nie net heeltyd skemerkelkies en luiperds wat hangvoet in hardekole vir foto's poseer nie.

Ontmoet vier mense wat dié paadjie gestap het.

Pieter Dannhauser: Veldgids, Nkorho Bush Lodge, Sabi Sand- private wildreservaat

Pieter Dannhauser. Foto: Verskaf
Pieter Dannhauser. Foto: Verskaf

Dis 'n voorreg om 'n veldgids te wees. Vroeg elke oggend staan ek met 'n koppie koffie in die hand en kyk hoe die son oor die bos opkom!

Ek het grootgeword op 'n plaas in die Vredefort-distrik in die Vrystaat, en dus was die natuur altyd deel van my lewe.

Vakansies het ons die Sabi Sand- private wildreservaat besoek - hier het my liefde vir die natuur verder ontwikkel en ek het toe reeds geweet dat ek eendag dié passie met ander wil deel.

Ná skool het ek EcoTraining (Hoedspruit) se veldgidskursus voltooi. Dit sluit ses maande se praktiese ervaring in, wat ek by die Elephant Plains Game Lodge in Sabi Sand voltooi het.

Ek het by die lodge aangebly en twee jaar later geskuif na nóg 'n Sabi Sand-lodge, Nkorho Bush Lodge, waar ek al tien jaar 'n veldgids is.

Dit is 'n droomwerk - die lewe in die bos, en die feit dat jy dit elke dag met gaste kan deel.

Die silhoeët van 'n visarend teen die volmaan. Foto: Pieter Dannhauser
Die silhoeët van 'n visarend teen die volmaan. Foto: Pieter Dannhauser

Maar dis nie altyd maklik nie! Jy kry te doen met mense van uiteenlopende agtergronde en soms ook net met gewoon moeilike gaste.

Die natuur vergoed jou gelukkig met amazing oomblikke. Soos om tussen 'n trop olifante of leeus te sit en te voel asof jy déél van die trop is. Daar en dan vergeet jy van die res van die wêreld. Tyd tussen diere maak jou kop skoon.

Wanneer jy ná tien jaar as 'n veldgids steeds soos 'n klein kind tekere gaan oor 'n luiperd in 'n boom - dán weet jy dis 'n passie wat nooit sal verdwyn nie!

'n Jong luiperdwyfie genaamd Ndzutini, afgeneem naby die Nkorho Bush Lodge. Foto: Pieter Dannhauser
'n Jong luiperdwyfie genaamd Ndzutini, afgeneem naby die Nkorho Bush Lodge. Foto: Pieter Dannhauser

Die bevredigendste deel van my werk is die uitdrukkings op mense se gesigte wanneer hulle vir die eerste keer in hulle lewe 'n leeu (of sommer net 'n rooibok of sebra) sien.

Ek lei ook toeriste te voet deur die veld en dis gewoonlik hier waar jy jou soms in gevaarlike situasies bevind, soos 'n olifant wat met 'n getrompetter 'n fopstormlopie gee.

Maar dis wanneer die spoorsnyer sê dat hy leeuspore gewaar, dat die adrenalien régtig begin pomp. Jy moet gefokus bly, want leeus kamoefleer perfek saam met hulle omgewing. En wanneer jy hulle kry, is hulle glad nie gelukkig nie!

Foto: Deon Kelbrick
Foto: Deon Kelbrick

Dis veral gevaarlik as jy hulle teëkom waar hulle lê en vreet aan 'n karkas, want in daardie situasie beskou hulle jou as 'n bedreiging wat hulle prooi wil afvat.

Ek is al deur 'n gróót leeumannetjie bestorm en het gedink vandag is die dag wat ek in 'n leeupens beland! Dit help ook nie jy skree "voertsek!" nie, veral as jy boonop soos ek hakkel nie... As dit verby is, dan kry jy 'n snaakse gevoel op jou maag.

Vir buffels het ek die grootste respek, veral as ek saam met gaste stap. Hulle storm sonder waarskuwing. Eenkeer het 'n ou dagha boy ons onkant gevang en die groep vier of vyf keer bestorm.

Dit was só erg ek moes uiteindelik die geweer laai en regstaan, maar toe het hy gelukkig vasgesteek, omgedraai en weggehol. Dankie tog!

Olifante bly die grootste plesier. Die Shangaans (baie spoorsnyers is Shangaan) noem die groot bulle mahkulu ndlovu. Jy moet hulle gedrag kan lees - sommige dae hou jy eenvoudig verby.

Eenslag parkeer ek die Cruiser in die skadu van 'n groot jakkalsbessieboom naby 'n pannetjie.

Ons sit en kyk hoe 'n olifantbul naderdrentel om te kom suip. By die pannetjie besluit hy hy wil in die skadu staan en suip - en ons staan reeds onder die enigste boom!

Gewoonlik maak ek plek vir die dier, maar ek sien toe ons het 'n pap wiel!

Foto: Suzanne Miljand
Foto: Suzanne Miljand

In so 'n geval maak jy seker jou gaste bly kalm. Die bul kom drink rég langs ons - skaars 3m van die Cruiser af. Ná 'n rukkie besluit hy toe om sommer te bad en sprei die hele voertuig - gaste en al - vol water.

Toe hy uiteindelik wegstap, was die uitdrukkings op almal se gesigte eenvoudig priceless!

Wanneer dit kom by snaakse vrae van toeriste... sjoe, daar is 'n paar!

Iemand het gevra of buffels jag en watter soort vleis hulle verkies... Ek is ook al gevra of volstruise vlieg, en wanneer die halwe rooibok (waaraan die luiperd nou al 'n rukkie vreet) uit die boom gaan klim!

Die ergste is wanneer 'n toeris jou na 15 minute se ry van die lodge af - wanneer jy toevallig nog géén wild gewaar het nie - op die skouer tik en vra of jy hulp nodig het om diere op te spoor!

Bianca Benade: Veldgids, Buhala Lodge, Malelane

Bianca Benade. Foto: Verskaf
Bianca Benade. Foto: Verskaf

Ek het al by verskeie plekke gewerk - onlangs was ek assistent-kampbestuurder by Robin Pope Safaris in Zambië se Suid-Luangwa- nasionale park.

Daar sou ek soggens om 4vm. wakker word wanneer die leeus brul en teen 4.30vm. met my koppie koffie in die hand staan en kyk hoe 'n trop olifante reg voor my deur die vlak water van die Luangwarivier stap.

Ek het al selfs gesien hoe wildehonde in die rivierbedding jag - én iets vang! Dan weet 'n mens dit gaan 'n goeie dag wees.

So lekker soos Zambië was, het ek my familie en vriende te veel gemis, 'n mens voel soms afgesonder.

Daarom het ek in Oktober 2024 teruggekom Suid-Afrika toe en werk tans as 'n aflosbestuurder en gids by die Buhala Lodge net buite Malelane. Hier is 'n uitsig oor die Krokodilrivier en die Krugerwildtuin aan die oorkant, waar 'n mens gereeld olifante of buffels sien.

Leeus afgeneem in die Kruger. Foto: Bianca Benade
Leeus afgeneem in die Kruger. Foto: Bianca Benade

Ek het in 2016 op Phalaborwa aan die Hoërskool Frans du Toit gematrikuleer. Die bosgogga het my vroeg reeds gebyt - dit help seker dat ons familie ook 'n plaas in Botswana in die Ghanzi-distrik het.

Ek was 15 jaar oud toe ek my eerste veldgidskursus aflê - dit was die junior vlak van FGASA (Veldgids-vereniging van Suid-Afrika) by Campfire Academy naby Hoedspruit.

Twee jaar later het ek my volgende FGASA-kursus so tussen my skoolwerk deur voltooi, en ná matriek het ek stuk-stuk my kwalifikasies verbeter.

Tydens die Covid-19-grendeltyd het ek aanlynkursusse deur wildlifecampus.com gedoen. Dié kursusse sluit in roofdierbestuur op veeplase, lodgebestuur, teenstropery, spore en tekens, ensovoorts. Elke kursus is 'n tree nader om die natuur beter te verstaan.

My eerste werk was by die Black Leopard Mountain Lodge naby Lydenburg. Hier moes ek as 19-jarige vrou my slag wys as 4x4-bestuurder, veral teenoor ons Afrikaanse gaste (altyd die ouer ooms!) wat nie gedink het ek sou dit kon doen nie. Gelukkig het ek gou hulle vertroue en respek gewen.

By Black Leopard het ek een van my mees besonderse ervarings gehad.

Eendag het ons 'n jong luiperd wat beseer was, teëgekom - hy was blind in die een oog. Ek het foto's geneem en dit vir die plaaslike veearts gewys - hy het gesê hy twyfel of die luiperd sou oorleef. Maar ek weet dat hulle taaier is as wat hulle lyk.

In die daaropvolgende maande kon ek op die lodge se navorsingskameras soms dié luiperd eien. Dit was duidelik dat hy genoeg kos kon vang om te oorleef. Voordat ek daar weg is, het ek hom nog een keer tydens 'n wildrit gesien - maar ek dink steeds aan hom.

Die natuur is die natuur en 'n mens moet jou afstand hou, maar tog raak jy lief vir sekere individue.

Ek doen nie net gidswerk nie - ek staan soms in as ontvangsdame, of doen lodgebestuur, amper enigiets. 'n Mens kan nooit genoeg leer nie!

Aan die begin van 2021 het baie lodges weer begin oopmaak, en ek het as junior veldgids by die Palala Boutique Game Lodge and Spa naby die Groblersbrug-grenspos teen die Limpoporivier begin werk.

Ek is gou bevorder tot senior hoofgids maar as vrou moes ek ékstra-hard werk om te bewys dat ek in die rol hoort. Behalwe vir oggend- en middagwildritte het ons ook riviervaarte op die Limpoporivier aangebied.

Ek was die enigste gids wat 'n visuil opgespoor het!

Ons het ook geleer hoe om slange te vang - onder meer die Mosambiek-spoegkobra en die swartmamba.

Daarna is ek Zambië toe. Daar het ek 'n close call met 'n olifant gehad. Ek het 'n gas na haar kamer begelei toe 'n olifant onverwags van agter 'n mahonieboom verskyn, enkele meters van ons af.

Dit het dadelik na moeilikheid gelyk. Ek het die gas aan die arm gevat en haar beduie om rustig by 'n ander kamer - reg langs ons - in te stap.

Met dié draai die olifant om, sien my, en storm op my af. Hy het gestop, en toe wéér gestorm.

"Stop it!" het ek vir hom gesê, en hy stop toe weer. Met die dérde stormlopie het ek my hande geklap en ferm gesê: "That's enough, stop it!" Hy het gelukkig weer gestop, my half geskok aangekyk en toe omgedraai en weggestap…

Die Buhala Lodge langs die Krokodilrivier. Foto: Bianca Benade
Die Buhala Lodge langs die Krokodilrivier. Foto: Bianca Benade

Een van die snaaksste vrae wat ek al van 'n oorsese toeris gekry het was of kameelperde vleis eet - ek dink die toeris was bang dat hulle met hulle lang nekke die mense van die wildkykvoertuig sou kon gryp.

Ek het geduldig verduidelik, nee, hulle is plantvreters - maar net om die volgende draai staan daar 'n kameelperd wat nonchalant aan 'n been kou!

Kennedy Makgoa: Veldgids, Kalahari Tours, Kasane, Botswana

Ek het grootgeword op die dorp Mochudi, noord van die hoofstad Gaborone. My eerste blootstelling aan die lewe in die veld was op ons veepos naby die Limpoporivier.

Ek het as kind baie tyd daar deurgebring, ek het gehelp om die vee op te pas en moes sorg dat hulle elke dag by die river kom om te drink. Soms moes ek die rooijakkalse verja.

Ek het hoërskool in 2011 voltooi en teen 2015 'n sertifikaat in reis en toerisme aan die Gaborone- tegniese kollege verwerf. Die kursus het 'n internskap ingesluit wat my vir die eerste keer na Kasane gebring het.

Ek het eers net in die besprekingskantoor gewerk, maar daarna my eerste gidswerk gekry.

Om in Botswana 'n gids te word moet jy 'n hoërskoolsertifikaat hê en daarmee kan jy by die departement van natuurlewe en nasionale parke aansoek doen vir 'n onderhoud.

Nie almal word dié onderhoud toegestaan nie, en dit help indien jy reeds ander kwalifikasies het.

Heelwat aspirant-gidse skryf byvoorbeeld in by Career Dreams Centre, wat kampusse op Kasane en Maun het. Hulle bied 'n ses maande lange safarigidskursus aan.

Ek het egter 'n ander roete gevolg. Ek het in my vrye tyd gestudeer, en op die job geleer deur as kampassistent op oornagsafari's in plekke soos Khwai, Savuti en elders in die Chobe te werk.

Op dié wyse kon ek by ervare veldgidse leer.

Wanneer jy gereed is, skryf jy die nasionale eksamen wat afdelings dek soos diere-identifikasie, park-interpretasie, voëlroepe, ensovoorts. Die slaagsyfer is 50% - hiermee word jy dan 'n assistentgids.

Indien jy met 75% of meer slaag, is jy 'n gekwalifiseerde veldgids en mag jy op jou eie oornagsafari's lei.

As ek aan my kinderjare op die plaas dink, besef ek hoeveel ek van die veld geleer het, en hoe dit my later met my loopbaan gehelp het. Ek het reeds dierespore en voëlroepe geken. Ek het voëlname geken - al was dit net die Setswana-name.

Ons het die bontnuwejaarsvoël geken as moroka pula, wat basies "reënmaker" beteken. Ons het hulle altyd aan die begin van die reënseisoen hoor roep.

Hoewel ek boekkennis het, het ek dus ook kennis wat kom van eenvoudig lang ure in die bos deurbring. As gids moet jy die natuur vir jou gaste kan interpreteer. Hoe beter jy dieregedrag ken, hoe ryker 'n ervaring kan jy aan jou gaste bied.

Twee rooibokramme baklei in die aanloop na die paarseisoen. Foto: Kennedy Makgoa
Twee rooibokramme baklei in die aanloop na die paarseisoen. Foto: Kennedy Makgoa

Daar was 'n geval waar ons drie leeus teëgekom het: 'n wyfie, haar welpie en 'n groot mannetjie.

Die mannetjie was aggressief teenoor die welpie en die ma moes tussenbeide spring om haar kleintjie te beskerm. Dit kan wees dat die wyfie nog nie dié welpie aan die res van haar trop bekend gestel het nie, en dat die mannetjie dus dink dat sy met die kleintjie van 'n ánder trop af kom.

Gelukkig het dit gelyk asof die wyfie hom oortuig het, en later het hy rustig geraak in die teenwoordigheid van die welpie. Hierdie is ook die soort tonele wat ek graag afneem.

Skaars monnikaasvoëls in die Chobe- nasionale park. Foto: Kennedy Makgoa
Skaars monnikaasvoëls in die Chobe- nasionale park. Foto: Kennedy Makgoa

Ek neem nie enige dier af nie, dit moet 'n spesiale sighting wees. Ek's kieskeurig; soms kom ek terug van 'n wildrit sonder 'n enkele foto.

Ek werk byna uitsluitlik in die Chobe- nasionale park en dus ry ek dieselfde paaie weer en weer. Maar jy sien nooit dieselfde goed nie. Sowat 'n jaar gelede het ek vir die eerste keer 'n kroonarend gesien - dis 'n roofvoël wat selde in dié deel van Botswana voorkom.

Ons sien die laaste ruk ook meer gereeld jagluiperds op die ooptes van die Chobe-vloedvlakte, veral wes van die Puku Flats.

Kommunikasie is uiters belangrik. Die toeriste is op vakansie, maar hulle is gretig om te leer. Met oorsese toeriste is dit soms frustrerend as julle mekaar nie verstaan nie - dit voel asof ek nie my werk doen as ek nie ordentlik kan kommunikeer nie.

Mettertyd het ek al bietjies van verskeie tale aangeleer, soos Hollands, Duits, Afrikaans, Japannees, Koreaans en veral Spaans. Ek kan basiese Spaans praat omdat ek voorheen gereeld met Spanjaarde getoer het.

Soms is daar benoude situasies. Onlangs het ek in die voertuig gesit en saam met gaste gekyk hoe twee jong olifantkoeie mekaar rondjaag.

Hulle het op 'n kol rég teen die voertuig verbygestorm, en toe gaan stop die een voor by die enjinkap.

Eers het sy saggies haar een tand op die enjinkap laat rus en toe pluk sy haar kop skielik en druk die tand reg deur 'n deel van die voorste buffer! Daar was 'n groot gat!

My ongelooflikste sighting was toe ek en 'n kollega dopgehou het hoe 'n luiperd rooibokke bekruip.

Hulle het hom geruik en alarm gemaak, en die luiperd het in die ruigte verdwyn. Die rooibokke was besig om minerale te lek op 'n grondwal langs die Chobe; die minerale vul hulle dieet aan.

Net toe als weer rustig lyk, spring die luiperd van bó van die wal af op een van die rooibokke en vang hom net daar! Ek kry nou nog hoendervleis as ek daaraan dink...

Francois Fourie: Beroepsgids en wildlewefotograaf, MORE Family Collection, Mpumalanga

Francois Fourie. Foto: Nikita Rix
Francois Fourie. Foto: Nikita Rix

Ek het aan die Wesrand grootgeword en ná skool sielkunde en kriminologie by Tukkies in Pretoria studeer.

My loopbaan in die safarigidsbedryf het in 2010 begin toe ek my opleiding gedoen het in die Sabi Sand- private wildreservaat langs die Kruger.

Hierna was ek bevoorreg om vir sewe jaar as gids by Singita Sabi Sand te werk. Deur die jare het ek my FGASA-kwalifikasies voltooi en teen 2019 het ek 'n assessor geword by FGASA - op hierdie manier kan ek verder tot die bedryf bydra.

In 2018 het ek ook private fotografiesafari's begin aanbied en daaruit het die geleentheid gekom om vir die MORE Family Collection (met verskeie lodges en hotelle reg oor Suider-Afrika) te werk, eers by die veld-gidsopleidingskool en later as bestuurder van die verkope-en-bemarkingsafdeling.

Een van my groot passies is om betrokke te wees by die opleiding van gidse. Dis belangrik om jou kennis - en dit wat jy by van die beste gidse in die bedryf geleer het - terug te ploeg deur daardie einste kennis te kan oordra aan die volgende geslag.

Jy moet jong gidse motiveer om hulle passie uit te leef - as jy dít regkry, sal toeriste van reg oor die wêreld aanhou na Suid-Afrika terugkeer.

'n Witrenoster afgeneem deur Francois Fourie.
'n Witrenoster afgeneem deur Francois Fourie.

'n Belangstelling in natuurlewefotografie is 'n natuurlike uitvloeisel van veldgidswerk. Enigeen wat my op Instagram volg, sal weet my gunsteling-dier om af te neem is 'n leeumannetjie.

Hulle het 'n charisma wat jy net nie by enige ander dier kry nie. As jy in hulle teenwoordigheid is, weet jy hoekom hulle die koning van die bos genoem word.

In 'n stadium was daar 'n trop leeus in die Sabi Sand wat as die Mhangeni-trop bekend gestaan het. Op hulle piek was hulle seker sowat 17 leeus.

Ek het soveel as moontlik tyd saam met hulle deurgebring - soms was die lodgemense vies omdat ek die gaste laat teruggebring het vir ontbyt, maar dit was altyd die moeite werd!

Mense sê leeus slaap in die middel van die dag, maar die Mhangeni-trop het daai tyd gejag. Ek het al gekyk hoe hulle - op dieselfde jagtog - výf buffels plattrek, wat besonders is, selfs al was twee nog kalwers.

Fotografie gaan oor daai spesiale oomblik wat jy vasvang. Jy wag geduldig vir die prentjie wat jy in jou kop sien, en as dit gebeur en jy die foto geneem kry, dan was die lang gewag die moeite werd.

'n Jagluiperd met welpies afgeneem deur Francois Fourie by die Marataba Game Lodges, deel van die MORE Family Collection.
'n Jagluiperd met welpies afgeneem deur Francois Fourie by die Marataba Game Lodges, deel van die MORE Family Collection.

Daar is natuurlik tegniese goed ook, maar my raad aan voornemende natuurlewefotograwe is altyd: Jy moet dieregedrag verstaan, want dit help jou om 'n groter verskeidenheid foto's te neem omdat jy kan voorspel wat volgende gaan gebeur. Daarby moet jy by ander fotograwe leer.

Jy moet vaardighede altyd probeer verbeter selfs al doen jy dit al hóé lank.

Daar gebeur natuurlik elke nou en dan iets wat uitstaan - as veldgids het jy oorgenoeg kampvuurstories!

Ons het eenkeer in 'n droë rivierbedding stilgehou om na vars luiperdspore te kyk. Ek en die spoorsnyer het 'n entjie agter die spore aangestap. Hy stel toe voor dat hy alleen voortstap, en ek terugdraai na die gaste.

Halfpad terug kar toe sien ek 'n tweede stel luiperdspore wat in 'n ander rigting loop... Die gaste was sowat 30m van my af en soos ek dié spore volg, stap ek verby 'n bos en reg langs my voet lê die luiperd!

Hy blaas hard, wys tande en ek tree stadig terug. Ek sien hoe sy stert van een kant na die ander kwispel - nie 'n goeie teken nie!

Ek staan toe vir 'n paar sekondes stil, en tree toe weer terug.

Elke beweging ontlok 'n gegrom van die luiperd af, maar stadigaan kon ek my koers kies, en die luiperd syne. Die Amerikaners in die voertuig het gedink dis baie cool - min wetend hoe my hart uit my borskas wou klim!

Daar is ook emosionele oomblikke.

'n Olifant het naby die oewer van die Sandrivier gevrek. Daarna sou ek menigmaal sien hoe ander olifante by dié kol talm.

Hulle sou jare later nog steeds sy bene rondskuif en daaraan ruik, selfs jong olifantjies wat nog nie eens gebore was toe die olifant gevrek het nie. Almal sou hulle respek toon by dié "olifantgraf".

VELDGIDS 101

Wat is FGASA?

Die Veldgidsvereniging van Suid-Afrika is in 1990 deur 'n groep beroepsgidse gestig. Die organisasie help om 'n standaard te handhaaf vir die gidsbedryf.

Hulle onderskryf verskillende kursusse (aangebied deur buitepartye) wat wissel van beroepsveldgids tot verskillende spesialisgebiede: jy kan byvoorbeeld kwalifiseer as voëlgids, mariene gids, gevorderde sterregids, of stapgids tussen gevaarlike wild (waarmee jy toeriste in Groot Vyf-gebiede te voet mag begelei).

Lees meer by fgasa.co.za.

Waar kan ek my FGASA-geakkrediteerde kursus voltooi?

Daar is verskeie instansies wat geakkrediteerde kursusse aanbied. Hier is 'n paar van die bekendes:

MORE Field Guide College (Waterberg, Limpopo) Limpopo Field Guiding Academy (Dinokeng, Gauteng) Bhejane Nature Training (Hluhluwe, KwaZulu-Natal) EcoTraining (Laeveld, Mpumalanga - ook Botswana en Kenia) Nature Guide Training (Laeveld, Mpumalanga)

Toast Coetzer (saamgestel)

CTA