Die jaar 2025 is my mondigwording van Kersfeeste en Oujaarsaande op Kaapsehoop.
Ná twee dekades beteken dit dus die feestelike besonderhede van die onderskeie jare kan konfoes raak in die herinnering.
Sommige jare het stigtelike familiefeeste en ander aan die absurde gegrens. Een ding staan egter soos ’n paal bo water: Die kans is 90% dat ons hier op die Oostelike Platorand met rolnektruie en glühwein om ’n kaggelvuur gaan sit.
Koos Doep se Somerkersfees gebeur meestal elders.
Met die eerste Kersfees in die nuutgeboude huis destyds was g’n spriet grasperk in sig nie. My dogters en hulle niggies en nefies (en die aktiewe een onder ons vyf susters) was vol modder deur bloot op die wipmat te spring.
Die jaar van die floppampoentert is steeds ’n teer punt. Nooi ek toe die beste restaurantbaas van die dorp en haar gesin om saam aan te sit by die uitgebreide familietafel en sy gee die oranje gebak een kyk.
“Ons gaan dit nie vanáánd eet nie, gaan ons?”
Dankie tog die Barberton-pavlova van my suster kon die skaal later die aand effens laat swaai.
Vir die bure van Britse afkoms was Krismis altyd ’n paartie. Een jaar was dit as geskeide ouer my beurt sonder die dogters, en ek laat my meesleur.
Die aantal stringe tinsel wat ’n mens om jouself kan draai was omgekeerd eweredig aan die korrekte antwoorde in die verpligte vasvra wat die Britse jong man, sweerlik ’n reïnkarnasie van Oscar Wilde, opgestel het. Dit was wel ’n gemis om nie “Herders op die ope velde” te sing nie.
Oukersaand is die jaarlikse Kersspel in die kapel op die dorp. Dié gebeurtenis se sukses hang nogal af van beskikbare kinders om al die rolle te speel.
Kinders is egter nie ’n gegewe op popklein dorpies nie. Dus was daar die jaar van die geriatriese Kersspel: Maria was silwergrys en haar maagdelikheid ver in die verskiet; die meer-derheid engele se day job was as kelners en skoonmakers by die gastehuise, en die engel Gabriël (gewoonlik die voordanser tydens dorpsvieringe ondanks sy knieprobleem) het weke voor die tyd reeds oor sy voorgeskrewe dialoog gemopper.
Jip, dit was die jaar van ’n suiwer engele-koor; pure hoendervel. En Darth Vader gekruis met Robin Hood met engelvlerke wat die Messias-geboorte aankondig.
Kersdae is vir braai: dalk teen die hange van die Makhonjwaberg by Barberton, op die rivieroewer op vriende se plaas, of sommer in die Peerboord, die piekniekplek buite Kaapsehoop.
Oujaarsaande sit die trant op dieselfde golflengte voort. Dié herinneringe wat die naaste aan die hart lê, is toe ons klomp dorpsvriende ’n verafgeleë staphut met ’n uitsig vir die geleentheid gehuur het.
My een buurman is ’n kranige DJ. Hy het gesorg dat ons só sat gedans is dat die drankdiefstal deur die tieners eers die volgende oggend ontdek is.
Die heel, héél beste van die feesdae hier is dat nie een enkele klapper geskiet word nie. Nooit. Want Kaapsehopers hou van diere, en wie het nou vuurwerk nodig as die geselskap dit reeds bied?





















