Die kuns teen dié muur is almal gemengde media: vetkryte, inkleurpotlode,blinkers, stukkies macaroni...
Net soos enige pa kan ek dit nie oor my hart kry om dié A4-velle – waarvan elkeen ewe deur die kunstenaar onderteken is – weg te gooi nie.
Dié prentjies van my seun het ’n deurlopende tema: ’n misvormde maar nietemin herkenbare voëltjie met ’n lang, pap stert, oranje lyfie en ’n blou driehoek vir ’n kop. Reg geraai – dis die paradysvlieëvanger!
Dis ook g’n wonder dat dié kalant ’n gunsteling in my kind sekunsrepertoire is nie: Vra maar enigeen – voëlkyker ofte not – as jy deur ’n voëlgids blaai, is die kans groot dat die persoon lank met waardering na ’n illustrasie van dié kleurryke insekvreter sal staar.
Toe ék nog met kryt geteken het, het ek nie kon droom om ooit eendag ’n paradysvlieëvanger te sien nie.
Die naam alleen het my oortuig dat dit ’n voëlsoort ver buite my bereik is.
Dít was die juiste gedagte in klein Faansie se kop toe ek een somermiddagiewers in die Waterberg op my rug onder ’n groot wildevyeboom gelê het.
Die reusetakke het ’n sambreel bo my gevorm en die sonlig het in duisende splinters deur die blare geval.
Dis toe dat ek skielik iets vreemds gewaar: Aan die verste punt van een van die takke het ’n oranje lint horisontaal by ’n klein bakkie uitgesteek.
Ek het regop gesit en fýn gekyk: ’n Driehoekige kop het bo die bakkie se rand verskyn en een helderblou ogie het my stip dopgehou.
Sedert daai eerste ontmoeting sou ek agterkom dat paradysvlieëvangers eintlik algemeen voorkom, soms selfs in ’n digtheid van een broeipaar per 1,5 ha.
Maar selfs al het ’n mens dié voël al ’n miljoen keer gesien, word jou sintuie steeds vir ’n oomblik oorrompel wanneer een verbyflits.
Tydens die broeiseisoen is die mannetjie se middelste twee stertvere omtrent 22 cm lank. Dit wimpel soos baniere agter hom aan terwyl hy prooi agternasit.
Die wyfies het nie die lang stertvere nie, maar lyk andersins dieselfde as die mannetjies.
Dié spesie se stertvere is oranje, maar van die 17 ander paradysvlieëvangers wat in Afrika, Asië en op verskeie eilande in die Indiese Oseaan voorkom, se vere is wit of swart.
In Noord-Afrika spog ons s’n self ook met ’n wit stertflap. ’n Mens sou verwag dat só ’n opvallende voël homself sal probeer skaars hou.
Alles behalwe!

Die paradysvlieëvanger gebruik mense en diere as “aanjaers”. Hulle het die gewoonte om in die veld naby jou te hou; reg om toe te slaan wanneer jy insekte uit hulle skuilplekke opjaag.
Dié voëlsoort spruit immers uit dieselfde stamboom as kraaie en fiskale – hulle is verbasend aggressief en raserig.
Die somer is die beste tyd om dié spesie te soek.
Hulle is trekvoëls wat van September, Oktober se koers af in die meeste dele van Suider-Afrika aanland en dan nessies bou wat hulle met ligene uitvoer.
Teen April begin die meeste weer uit die savannas en woude te vertrek met ’n paar wat langer in laerliggende gebiede vertoef.
Nou moet ek dinge eers weer ’n bietjie ingewikkeld maak: Daar kom inderwaarheid twee subspesies hier by ons voor: die Terpsiphone viridisgranti is heelwat donkerder en het meer van ’n glans en ’n blouswart kop terwyl die Terpsiphone viridis plumbeiceps valer is en ’n grys kop het.
Die twee volg verskillende migrasieroetes: eersgenoemde arriveer uit Oos-Afrika en laasgenoemde uit tropiese Sentraal-Afrika.
Hulle kom ook op verskeie tye hier in die suide aan. Soos die naam aandui, is vlieë beslis op hulle spyskaart, maar wat nog?
Wel, hulle is lief vir ’n stukkie skoenlapper, maar dié maaltyd verg heelwat meer toertjies in die lug.
Paradysvlieëvangers is nogal wrede jagters en sal enige insek wat hulle kan vang, gulsig insluk.
Hulle hou selfs ná sononder aan met jag indien daar iewers buiteligte brand.
Prooi word op drie maniere vasgetrek: Deur iewers te sit en op die uitkyk te wees vir insekte, deur bo plekke waar insekte gewoonlik voorkom, in die lugte hang en deur van ’n kant af deur moontlike wegkruipplekkies te snuffel.
Die voël sal in vlug ’n verdrinkte insek uit die water opraap en hy gebruik dieselfde tegniek om water te drink.
Wanneer dit die slag tyd is om te bad, sal ’n paradysvlieëvanger óf in nat lower ronddans of eenvoudig in ’n poeltjie water plons.
In só ’n geval sorg die voël dat daardie spoggerige stertvere nie nat word nie.
As volwassene kry ek selde die kans om op my rug onder ’n wildevyeboom te lê en die blaarwêreld bo my te verken.
Wanneer ek dit wel die slag doen, is my oë geneig om bitter gou toe te val.
Miskien is dit juis ’n slim slenter om met ’n middagslapie weg te kom: “Nee, ek gaan nie slaap nie – ek gaan paradysvlieëvangers se nessies soek!”





















