Reis

Voëls kan ook blom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Donsige witmalgaskuiken tussen volwassenes op Voëleiland in Lambertsbaai. Foto: Tiaan Strydom
’n Donsige witmalgaskuiken tussen volwassenes op Voëleiland in Lambertsbaai. Foto: Tiaan Strydom

"Nie net gaan nuwe lewe in die vorm van blomme binnekort aan die Weskus gesien kan word nie, maar ook in die vorm van spierwit, wollerige kuikens," vertel Zanri Strydom, 'n PhD-kandidaat en seevoël-spesialis aan die Nelson Mandela-universiteit.

"Die witmalgasse is geklassifiseer as 'n bedreigde spesie omdat hulle getalle só drasties afneem, en daarom is dit altyd 'n ekstra spesiale oomblik van hoop om die nuwe lewe op Voëleiland in Lambertsbaai te aanskou."

Elke jaar in Augustus, keer die volwasse witmalgasse terug na dié eiland nadat hulle maande lank op die see gaan bly het om agter kos aan te reis.

Zanri Strydom en haar man, Tiaan, met 'n wollerige witmalgaskuiken nadat hulle die kuiken geweeg het as deel van Zanri se PhD-navorsing. Foto's: Zanri Strydom
Zanri Strydom en haar man, Tiaan, met 'n wollerige witmalgaskuiken nadat hulle die kuiken geweeg het as deel van Zanri se PhD-navorsing. Foto's: Zanri Strydom

"Witmalgasse woon slegs tydens die broeiseisoen op land. Sodra hulle terug is op die eiland, begin hulle hul nessies te herstruktureer en nie lank daarna nie word die eerste eiers gelê. Ná slegs 42 dae, broei die eiers uit en kan die mooiste kuikens dan gewaar word."

Zanri, wie se doktorale navorsing spesifiek handel oor die groeipatrone van die witmalgaskuikens aan die Weskus, sê dat dit elke jaar 'n glimlag op haar gesig sit as sy sien hoe mooi die kuikens deur die ouers gevoer word, waartydens die kuiken sy bek in die ouer s'n indruk om die kleiner stukkies kos te eet.

"Op die nes is die kuikens vir drie maande lank afhanklik van die ouers vir kos, en dis juis tydens daardie tydperk wat besoekers die spesiale band tussen ouer en kuiken op Voëleiland in Lambertsbaai kan aanskou. Die energie van dié nuwe lewe op die eiland is elke jaar aantasbaar. Verryk jou siel en besoek binnekort dié bedreigde seevoëlspesie sodat jy self kan ervaar dat voëls ook kan blom."

'n Witmalgaskuiken strek tot in die bek van die ouer wat klein stukkies vis opbring vir die kuiken.
'n Witmalgaskuiken strek tot in die bek van die ouer wat klein stukkies vis opbring vir die kuiken.
Zanri Strydom

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM