Styl

Die lewe is ’n pienk paleis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die pienk paleis in Jaipoer, Indië. Foto’s: ISTOCK en jandri Barnard
Die pienk paleis in Jaipoer, Indië. Foto’s: ISTOCK en jandri Barnard

As pienk jou gunstelingkleur is - of nie - beveel Jandri Barnard aan om 'n paar interessante pienk toerisme-attraksies op jou emmerskoplysie te sit vir 'n buitengewone ervaring.

Pienk was dalk eens hoofsaaklik met babameisies of meisiekinders vereenselwig, maar dis lankal nie meer die geval nie. Pienk was verlede jaar hoogmode en dit lyk asof die neiging gaan bly.

Só kan die romanse gevier word deur jou geliefde na romantiese pienk eetplekke te neem of te reis na stede en monumente wat in pienk getooi is.

Dis egter nie net aan die modefront waar pienk gewild is nie - in die toerisme- en ontspanningsarena het dit ook sy plek gevind. Só kan die romanse gevier word deur jou geliefde na romantiese pienk eetplekke te neem of te reis na stede en monumente wat in pienk getooi is.

Pienk olywe in die soeks van Marrakesj.
Pienk olywe in die soeks van Marrakesj.

Pienk eetplekke

Die Goddess Café (www.goddesscafe. co.za) in Pretoria en Johannesburg is perfek vir 'n aand uit saam met jou geliefde. Alles in hierdie kafee, van vloer tot dak, is in pienk getooi. Van die dekor tot die items op die spyskaart: pienk warmsjokolade, pienk pannekoek en natuurlik pienk koek met pienk versiersel, om enkeles te noem. In Kaapstad se Distrik Ses-area het Charly's Bakery (www.charlysbakery.co.za) se pienk-gestreepte gebou van die Charly's Cake Angels al ikonies geword met koek, kolwyntjies en petit fours versier met neonpienk versiersel en geleentheid-spesifiek.

Pienk stede

Jaipoer, in die noorde van Indië, het 'n ryk geskiedenis van radjas en dekoratiewe paleise bekend as "die pienk stad" en is hieroor 'n Unesco-wêrelderfenisgebied. Die stad het roospienk mure, wat insluit die Rajmahal Paleis Raas-hotel, Johari-bazaar en Nahargarh-fort wat al eeue oor die stad waak. Maar die bekendste is die Hawa Mahal-gebou van ligpienk sandsteen gebou in 1799 deur die Maharaji Sawai Pratap Singh. Dit is beter bekend as die "Paleis van Wind", met 953 heuningkoekagtige vensters versier met kantwerk wat die voorkant soos versiersuiker op 'n pienk verjaardagkoek laat lyk.

In Noord-Afrika staan Marrakesj nie slegs bekend as die "kruispad van die woestynreisigers" nie, maar ook as die "pienk stad" met sy terracotta-pienk mure wat soos 'n oase uitstyg uit die Sahara-woestyn met eeu oue palmbome langs die mure. Alhoewel daar geen tekort aan kleur is nie in dié stad waar oud (in die Medina) en nuut (in die Franse Ville Nouvelle-area) vermeng, kan jy vir 'n ekstra pienk inspuiting van pienk drankies en fotogeleenthede die Bubble's Pink-eetplek met 'n dakuitsig besoek.

Pienk strate

Die Rua Nova do Carvalho in Lissabon, beter bekend as die "pienk straat", is so genoem omdat dit in helder skakerings van pienk geverf is. Dit was voorheen een van dié Portugese stad se vervalle buurte, maar is sedert 2011 vol kafees en wynkroeë waar jy tot laatnag kan kuier.

'n Pienk straat in Lissabon.
'n Pienk straat in Lissabon.

Pienk geboue

As jy gedink het alle geboue in Santorini is wit-en-blou geverf, sal jy verras wees met die Pienk Grothuis, met 'n uitkykpunt oor die Egeïese See. Hierdie poeierpienk gebou is ook naby die Bisantynse-era-kasteel en Maritieme museum, wat albei die moeite werd is om te besoek.

Riomaggiore vorm deel van die vyf kusdorpies van Cinque Terre aan die Italiaanse kus, waar die geboue in skakerings van pienk geverf is. Alhoewel die ander dorpies besoek kan word met 'n veerboot (wat die beste aansig gee as jy foto's neem wanneer jy daar aangedobber kom op die kobaltblou water) of met 'n trein tussen elk, kan dit sorg vir 'n romantiese wegbreek.

Die pienk Craigivar-kasteel in Skotland was glo die inspirasie vir Walt Disney se sprokieskasteel in die tekenprent Cinderella en dis maklik om te sien waarom, want jy voel dadelik met die aansig of jy binne-in 'n sprokiesverhaal gestap het en jou eie prins daarbinne gaan vind. Konstruksiewerk het reeds in 1576 begin en die romantiese buite-aansig is byna onveranderd sedert 1626 toe William Forbes dit voltooi het. Op die heuwel in Aberdeenshire kan jy die 17de-eeuse kasteeltoring besoek, asook die pragtige tuine op dié landgoed.

Pienk verblyf

Die pienk geverfde Pienk Paleis (www.thepinkpalace.com) op die Griekse eiland Korfu bied verblyf vir die rugsakreisiger, stralerjakker of avontuursoeker van enige prysklas. In die somermaande is daar 'n deurnagklub by die verblyf ingesluit, en die eienaar sê jy moet ongeag jou ouderdom jonk van gees wees wanneer jy by die Agios Gordios-strand aan die westekant van die eiland kuier. In die stiller seisoene kan jy 'n eilandtoer onderneem en dis ook dan ideaal vir 'n romantiese wegbreek. Besoek ook die Achilleion-paleis met tuine vol standbeelde en 'n uitsig oor die dorp Korfu, die Ioniese See en die Griekse vasteland.

Pienk tuine

Wanneer dit kersiebloeiseltyd is in Japan is byna die hele land 'n pienk lushof vir die oog - van die platteland af tot digbevolkte stede soos Tokio en Kioto se strate is versier met pienk bloeisels. Dan is daar lekkergoed- en roomyswinkels vol pienk eetgoed wat jy op die proef kan stel.

In die Josjino-park is meer as 30 000 kersiebome, wat in April bloeisels dra rondom die Foedji-Vyf-Mere, met die Berg Foedji op die agtergrond. En by die Takinoue-park, wat 10 000 m2 dek, kan jy van Mei tot Junie sjibazakoera (pienk mos) te siene kry. Die hele park verander dan in skakerings van pienk oor die grond en laat jou oopmond staar na hierdie sprokieswêreld.

Pienk strande en mere

Wêreldwyd is daar tien pienk strande onder die beskerming van die Unesco-wêrelderfenisgebied. Seker die bekendste is Harbour-eiland in die Bahamas met pienk sandstrande, waar jy regdeur die jaar kan swem. Die kenmerkende pienk kleur kom van die mikroskopiese oorblyfsels van koraal-insekte bekend as foraminifera, wat oorleef aan die onderkant van koraalriwwe en uitspoel op die strand wanneer hulle vrek.

In Indonesië is daar meer as een pienk strand - aan die ooskus van Lombok-eiland is Tangsi-strand, en dan is daar ook die kleiner Komodo-eiland.

Vanuit die lug lyk die Hillier-meer in Australië eerder na 'n pienk kunstenaars­palet wat in 'n groen tuin agtergelaat is. Hierdie pienk meer op die Middel-eiland aan Wes-Australië se suidkus was in 1802 eerste opgemerk en aangeteken deur Matthew Flinders. Die pienk kleur is vanweë 'n alg, Dunaliella salina, wat slegs in baie sout water oorleef en 'n permanente pienk kleur afgee - as water in bottels versamel word, sal dit steeds pienk wees!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM