Boheemse wynrooi-en-pienk patroon-minirok van viskose (R899), Zara. Bonkige goue armbande (R300 vir stel van 2), goue halssnoer met hangertjie (R230) en oorbelle (R300 vir stel van 6), alles van Lovisa. Wynrooi skouerhandsak van kunsleer (R429), H&M.
AMARIA CARSTENS, SARIE-MODEREDAKTEUR, WYS PRESIES HOE JY JOU ROK OEMF KAN GEE!
In die mou
Breë armbande is hoogmode, nog beter as dit een aan elke arm is. Vernuwe jou rok deur breë armbande bo-oor die moue te dra.
Kleur-woema
Geplooide roomkleurige rok van poliëster (R1 099), geplooide rooi korset van poliëster (R699) en roomkleurige kunsleerhandsak met kunspêrel-handvatsel (R599), alles van Luella by Foschini. Swart kunsleer-enkelstewels (R629), H&M. Bonkige goue oorbelle (R270), Luella. Foto: Cass Collett
Die spel van groter en kleiner plooie en die sterk kleurkontras maak hierdie kombinasie van rok en korset interessante pasmaats.
Pêrel-sensasie
Skouerlose noupassende grys rok van herwinde poliëster (R799) en swart maasstoftop versier met kunspêrels en diamanté (R699), H&M. Insteekskoene van jacquard-weefstof (R999), Luella by Foschini. Foto: Cass Collett
Met 'n wit hemp is die skouerlose rok perfek vir die dag, met 'n deursigtige top versier met kunspêrels en diamanté is dit sensasioneel vir die aand.
Wen-wen
Moulose wynrooi hemprok van katoen (R1 099), roomkleurige katoenbaadjie met broderie anglaise-detail (R1 299) en pajamastyl-blompatroonbroek van viskose-mengelstof (R1 099), alles van Zara. Hakskoene van roomkleur-en-swart weefstof met diamanté-detail (R1 299), Sissy Boy. Bonkige goue halssnoer (R320), Lovisa. Foto: Cass Collett
Jy kan heerlik speel met die klassieke hemprok in 'n treffende wynrooi kleur. Voeg patrone en teksture by om 'n wen-kleur in 'n wen-uitrusting te verander.
Dubbel en dwars
Grofgeweefde wynrooi rok van herwinde poliëster (R1 299), Zara. Blou blompatroonhemp van rayon (R750) en bypassende broek (R750), Miss Cassidy by Queenspark. Rooi laehakskoene van suède (R1 299), Poetry. Kunspêrelhalssnoere (R350 vir stel van 2) en goue halssnoer (R180), Lovisa. Foto: Cass Collett
Van deursigtig gehekel tot grofgeweef, items met tekstuur bo-oor 'n uitrusting verander die doodgewone in iets spesiaals.
Mini-maksi
Wynrooi minirok van poliëster met plooidetail en biskopmoue (R899) en noupassende bruinrooi kunsleerromp (R699), H&M. Veelkleurige tandruitpatroonbaadjie van poliëster (R1 399), Queenspark. Foto: Cass Collett
Kry meer uit jou minirok deur 'n romp bo-oor te dra. So skep jy 'n nuwe staatmakerbloes!
Skitterende swart
Swart minirok van poliëster versier met kralewerk (R1 299), swart enkellengte reguitpypbroek van jacquard-weefstof met blaarpatroon (R899) en swart snyersbaadjie van poliëster met diamanté-detail (R1 499), alles van Luella by Foschini. Diamanté-oorbelle (R280), Lovisa. Hakskoene van roomkleur-en-swart weefstof met diamanté-detail (R1 299), Sissy Boy. Foto: Cass Collett
Jou rok-kas is nie volledig sonder 'n klein swart nommertjie nie. Maak jou swart minirok meer deur dit saam met 'n reguitpypbroek te dra wat jou enkels wys.
Engelagtig
Skouerlose turkoois prinsesstyl-rok van maasstof (prys op aanvraag) en bypassende kort top met oorgroot biskopmoue (prys op aanvraag), KLûK CGDT. Foto: Cass Collett
Lyk soos 'n engel in 'n skouerlose prinsesstyl-rok met 'n kort top met uitsonderlike biskopmoue bo-oor gedra.