Vir 26 jaar lank werk Maryke de Villiers al vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en 26 jaar lank sien sy elke oggend dieselfde gesig in die spieël - en sy is nie tevrede met wat sy sien nie.
De Villiers hunker na vernuwing in haar lewe en danksy die voorkomstransformasie-program Glam Guru sien sy nou 'n heel ander gesig in die spieël - en dit is net betyds vir haar 11de huweliksherdenking.
Danksy haar nuwe voorkoms is De Villiers vol vertroue dat haar man ook met splinternuwe oë na haar sal kyk.
"Maryke is in 'n groef en dra bykans net blou," het Lizel van der Westhuizen, Glam Guru-modestilis, gesê voordat De Villiers 'n metamorfose ondergaan het.

Van der Westhuizen het De Villiers touwys gemaak oor vooropgestelde klerekombinasies. "Pas altyd die reël van drie toe. Wanneer jou uitrusting slegs uit twee kleure bestaan, voeg 'n derde kleur by soos byvoorbeeld 'n rooi belt, skoene en handsak."
Die vernuwing by De Villiers is duidelik te sien met haar nuwe haarstyl. Hannon Bothma, aanbieder van Glam Guru, sê vernuwing is slegs moontlik as jy "die teenoorgestelde probeer doen van wat jy het".
"As dit lank is, gaan korter en as dit plat lê, sny dit in 'n styl wat dit laat regop staan," sê Hannon.
De Villiers se vaal haarkleur is opgekikker met 'n ligter kleur met 'n rooi glans. Nou kan sy die wêreld, haar man én haar eie weerkaatsing in die spieël weer vierkant in die oë kyk.
- Glam Guru word Sondae om 17:30 op kykNET uitgesaai.
Wen met Beeld en Glam Guru
Jy kan 'n geskenkpak met Hannon-produkte ter waarde van R2 500 wen in Beeld se Glam Guru-kompetisie.
Soek die advertensie in die koerant met 'n vraag oor Sondag se episode van Glam Guru.
SMS dan HANNON, die antwoord op die vraag, jou naam, van, woongebied en e-posadres na 35986. 'n SMS kos R1,50. Die SMS-lyn sluit Woensdag om 12:00.
Daar sal elke week tot en met 22 Junie 'n wenner gekies word.
Verlede week se wenner is Esme Breedt, 'n pensionaris van Roodeport in Johannesburg.
"Ek glo dit nie! Is dit nie wonderlike nuus nie?" was Breedt se reaksie op die nuus dat sy 'n wenner is. Breedt sê sy gebruik reeds Hannon-haarprodukte. "Maar nie gesigprodukte nie, dis bietjie duur."
Sy is egter nou baie opgewonde om wel ander Hannon-produkte ook te beproef.





















