Oscar-benoemdes en ander gaste het vroeg Maandagoggend (SA tyd) by die Dolby-teater in Los Angeles in styl op die rooi tapyt uitgestap en sommige het glans met aktivisme gekombineer.
Akteurs soos Ramy Youssef, Mark Ruffalo en Mahershala Ali en die sanger Finneas het rooi borsspelde gedra as deel van die Artists4Ceasefire-veldtog. Só het hulle vir 'n wapenstilstand in die Israel-Hamas-oorlog gevra.

'n Handjievol vroue het dit ook gedra, insluitend Billie Eilish, Ava DuVernay en Quannah Chasinghorse. Die modes op die grootste aand in Hollywood blyk vanjaar oorheers te wees deur die meermin-styl. Sterre soos Emma Stone (in Louis Vuitton), Carey Mulligan (Balenciaga) en Anya Taylor-Joy (Christian Dior Haute Couture) se voorkoms het elegante elemente van die meermin-styl geïnkorporeer.
Die Barbie-aktrise America Ferrera het 'n metaal-tendens gevolg en in 'n pienk maliekolder-ontwerp (chain mail) deur Atelier Versace opgedaag, terwyl haar medester Margot Robbie 'n seldsame blaaskans geneem het van Barbie-pienk en 'n glinsterende swart Versace-rok aangehad het. Ryan Gosling het sy Ken-pienk ook vir ‘n swart Gucci-uitrusting verruil.
Die High School Musical-aktrise Vanessa Hudgens het op die tapyt verskyn in 'n styfpassende nommertjie wat 'n bababoep duidelik uitwys. Sy het by die geleentheid vir die eerste keer aangekondig dat sy en haar man, Cole Tucker, ouers gaan word.


















