Jy is jou werk kwyt. Sommerso. Ná twintig jaar. Jy voel hartseer, kwaad, onseker, verraai, teleurgesteld.
Maar dan kom sê mense vir jou: "Jy is gelukkig, ten minste het jou man darem 'n werk."
Of: "Bly positief, jy sal daaroor kom."
Of: "Tel jou seëninge, jy het nog soveel om voor dankbaar te wees."
Eintlik wil jy net gaan sit en rou oor die verlies van jou werk, jou identiteit, jou jare lange kollegas wat soos familie was . . . en nou voel jy te skuldig om dit te doen.
Kenners noem dit toksiese positiwiteit: Wanneer iemand oormatig positief en optimisties reageer, ongeag hoe pynlik of moeilik 'n situasie is, en in die proses "negatiewe" emosies soos hartseer of teleurstelling wegpraat of afmaak as niks.
As jy aan die ontvangkant daarvan is, kry jy eintlik die boodskap dat dit nie oukei is om sleg te voel nie, en dat jy eerder 'n gelukkige fasade moet voorhou, sê Gretha van der Merwe, lewensafrigter van Kaapstad wat veral in die korporatiewe wêreld werk.
En met sosiale media wat positiwiteit oorbeklemtoon - "good vibes only" - en oorloop van "perfekte" mense met oënskynlik ideale lewens, voel jy straks nog meer onder druk om die blink kant bo te hou.
"Ons ego's koop in op die illusie van hoe geluk en sukses lyk . . . 'n goeie ma, perfekte eggenoot, suksesvolle sakevrou. Ons klou vas aan hierdie beelde van positiwiteit, maar dis net 'n prentjie, dis nie die lewe nie, sê sy.
Jeanne Pienaar, Paarlse lewensafrigter wat beroepsvroue en ma's op hul ouerskapsreis help, sê oordrewe positiwiteit veroorsaak dikwels dat jy nie jou ware self kan wees nie.
"'n Tipiese voorbeeld: Jy sê dalk hoe moeilik dit vir jou is wanneer jou kinders eksamen skryf - jy moet hulle help leer en jy is bekommerd oor hul uitslae. En dan reageer iemand: ‘Sjoe, ons is almal so bevoorreg dat ons kinders in so 'n goeie skool is.' Dit ontneem jou die vrymoedigheid om te sê hoe jy waarlik voel."
'n Positiewe ingesteldheid het natuurlik baie voordele - navorsing wys dit is goed vir jou emosionele welstand, bou veerkragtigheid en help jou om jou doelwitte te bereik - maar dit beteken nie dat jy die hele lewe deur 'n rooskleurige bril moet bekyk nie.
Soos Gretha dit stel: "Té is nooit goed nie! Jy moet ruimte vir alle emosies maak - ook die ‘ongemaklike' emosies."
Of jy nou jouself wysmaak dat jou gevoelens nie geldig is nie, en of ander mense jou só laat voel, toksiese positiwiteit lei uiteindelik daartoe dat jy onbewustelik jou gevoelens as verkeerd oordeel.
"Hoe meer jy jouself oordeel of voel jy word geoordeel, hoe meer twyfel jy in jou eie gevoelens, jy onderdruk en ontken dit en sny as't ware 'n deel van jouself af," verduidelik sy.
"Jy sê vir jouself jy is nie goed genoeg nie en wat jy ervaar is nie ‘reg' nie. Dit kan lei tot geestestoestande soos depressie en tot hoë stresvlakke. Jy kan ook nie werklik aanbeweeg nie omdat jy op die oppervlak bly ‘werk' deur net positief te dink en enige dieper emosionele groei vermy."
In haar podsending (en op YouTube) 11 Powerful Tips for Freeing Yourself from Toxic Positivity verduidelik dr. Carla Marie Manly dat emosies soos angstigheid en hartseer ons bewus maak daarvan dat iets aangaan en dat ons iets daaraan moet doen - of dit nou is om te slaap, te rus, oefening te doen, te mediteer, vir hulp of ondersteuning te vra, of om selfs net met die emosie te "wees" - jy kan dit nie ignoreer nie en dit gaan nie vanself verdwyn nie.
Dis noodsaaklik dat jy erkenning gee aan jou emosies, beaam Jeanne.
"Noem dus die ding op die naam en sê: ‘Ek sien jou, ek weet jy is net tydelik hier, wat gaan jy vir my leer?' Elke emosie is daar om ons iets van onsself te vertel - en daaruit te leer. As jy net positief reageer, gee jy nie aan jou werklike emosies erkenning nie - en dan leer jy ook nie en kom nie by die kruks van die saak uit nie.
"Laat jouself toe om uiting aan jou emosies te gee deur byvoorbeeld joernaal te hou, of vertel vir iemand hoe jy werklik voel. Of as jy hartseer is, is dit altyd goed om te huil," verduidelik sy.
Kenners sê al wil die wêreld jou dalk aanmoedig om die silwer randjie van die wolk raak te sien, het dit baie waarde om ook die donker kant te sien, te erken en te verstaan. Ons kan beter en meer kreatiewe oplossings vind as ons bereid is om die waarheid in die oë te kyk.
Dit geld ook in die werkplek.
In 'n LinkedIn-vraelys oor toksiese positiwiteit stel die uitvoerende hoof van 'n maatskappy dit so: "Om 'n probleem op te los en daardeur te werk moet jy jou hande vuil maak en met dinge werk wat vir jou ongemaklik of negatief voel."
Volgens Gretha soek ons in die werkplek dikwels 'n vinnige antwoord, met een vergadering ná die ander, maar die olifant bly in die vertrek.
"Om 'n probleem werklik deur te praat verg tyd en eerlikheid, jy moet alle kante bekyk en die probleem stroop tot by die kern. Dit gaan verg dat ons met al daardie ongemaklike gevoelens omgaan, en dit vra 'n mate van emosionele volwassenheid.
"Dis moeilik omdat daar deesdae soveel druk in die werkplek is, en daardie bietjie positiwiteit is byna soos 'n reddingsboei, jy wil nie die een wees wat nog negatiwiteit inbring nie. Maar dis noodsaaklik as jy werklik die probleem wil oplos."
Toksiese positiwiteit: Gevaarligte

- Jy steek jou ware gevoelens weg
- Jy "druk net deur" en "vermy" jou emosies
- Jy voel skuldig oor hoe jy voel
- Jy skat mense se ervarings gering met "goedvoel"-aanhalings of stellings soos: "Hy is op 'n beter plek" of "Als gebeur met 'n rede"
- Jy probeer vir iemand perspektief gee ("Dit kan erger wees" of "Ander mense kry nog swaarder") pleks daarvan om erkenning te gee aan hoe die persoon voel oor wat hy of sy deurmaak
- Jy maak dinge af wat jou pla met stellings soos: "It is what it is"
Toksiese vibes? Hoe om te maak
Jeanne Pienaar, lewensafrigter, gee raad:
- As iemand 'n moeilike tyd beleef, en jy is onseker hoe om te help, vrá hoe jy kan help. Of vra wat gebeur het. (Selfs al dink jy jy weet wat gebeur het.) Of vra: Hoe voel jy oor wat gebeur het?
- Moenie dadelik 'n "negatiewe" emosie in 'n positiewe een probeer omskep nie. Stellings soos: "Ek is jammer dit het gebeur", "ek is hier vir jou" of "dis sleg" is almal aanvaarbare dinge om vir iemand te sê wat swaarkry of 'n terugslag beleef.
- As iemand se oordrewe positiwiteit jou menswees raak, sê dat jy sy of haar positiwiteit raaksien en waardeer, maar dat jy nie tans op hul vlak is nie en net eers met jou eie emosies wil "sit". Sê wat jou behoefte is, bv. "Ek besef jy wil my beter laat voel, maar ek het nou net 'n oor nodig. Ek sal beter voel as ek my hartseer kan deel en jy net kan luister." As dit nie werk nie, herlei jul gesprek na 'n meer lighartige onderwerp. Hou die persoon daarmee vol, beperk dalk eers jul interaksies.
- Mense hoef nie jou emosies te verstaan nie, maar hulle moet respekteer hoe jy voel. Omring jou met mense wat jou gevoelens as normaal beskou. Ons het almal sulke gevoelens, party mense steek dit net dieper weg.
- As jy nie die vrymoedigheid het om te sê hoe jy voel nie, sluit aan by 'n gemeenskap waar jy ondersteun voel, en waar almal hul stories deel. Soos 'n Facebook-groep vir ma's met kinders van dieselfde ouderdom. Vir 'n beroepsvrou of eienaar van 'n sakeonderneming kan 'n organisasie soos Entrepreneurs' Organization weer baie beteken as jy by ander entrepreneurs 'n klankbord soek. Dit sal ook jou selfvertroue 'n hupstoot gee.
Vir meer
















