Janie de Klerk van Gqeberha skryf: My sesjarige kat lyk styf na 'n slapie. Is dit van die ouderdom of kan dit artritis wees?
Dr. Tarryn Dent van Zoetis antwoord: Kat-osteoartritis is meer algemeen as wat kat-eienaars dink; baie katte leef met dié pynlike toestand, wat dikwels nie eens deur die beste kateienaars raakgesien word nie.
Anders as honde, wat mank sal loop of sal tjank as hulle pyn ervaar, is katte geneig om hul lyding weg te steek. Dis dus moeilik om die tekens te lees.
Osteoartritis se tekens is dikwels subtiel. 'n Spelerige kat kan belangstelling in speelgoed of interaktiewe speletjies verloor of 'n vriende-like kat kan geïrriteerd raak wanneer daar op sekere plekke aan hom gevat word. Hulle kan sukkel met selfversorging, wat dan lei tot 'n slordige voorkoms, of huiwer wanneer hulle op meubels wil spring, of hulle sukkel om hul kattoilet te gebruik. Ander simptome sluit in dat hulle meer slaap, slaapplek soek wat maklik toeganklik is, gewigtoename weens minder aktiwiteit en stywe bewegings.
Onbehandelde osteoartritis kan 'n groot impak hê op jou kat se lewensgehalte. Met vroeë diagnose en behoorlike bestuur kan 'n kat egter steeds 'n aktiewe lewe geniet.Diagnose Veeartse het allerhande maniere om die toestand te diagnoseer, onder meer deur 'n deeglike ondersoek met die hande vir litswelling, spieratrofie en pynreaksie; te kyk hoe jou kat beweeg; X-strale of meer gevor-derde apparaat om verandering in die litte te sien.
Behandeling
Tradisionele metodes soos gewigbestuur, aanpassing van die kat se omgewing en sekere medikasies is gewoonlik ingespan, maar nuwe ontwikkelings bring hoop vir katte wat hieraan ly, onder meer 'n maandelikse inspuiting wat gefokusde pynverligting bied. Gesels met jou veearts hieroor.
ONTHOU: As 'n veearts osteoartritis vroeg diagnoseer, kan hulle jou help om die regte strategieë vir pynbestuur te implementeer. Dit kan help om jou kat se beweeglikheid en algemene lewensgehalte te verbeter.
KONTAK zoetis.co.za





