Sunette Rossouw van Kaapstad skryf: "Ek het al gehoor sekere kosse is giftig vir diere. Wat moet ek vermy en wat moet ek doen as een van my diere dit inkry?"
Dr. Keeley Hattingh van The Animal Hospital (TAH) antwoord: Ons kombuise wemel van kos wat ons dink is onskadelik vir troeteldiere, maar wat nie is nie - en jy moet weet hiervan en wanneer om jou veearts se hulp in te roep.
Giftige kos vir troeteldiere sluit in sjokolade, veral donker of baksjokolade), xylitol (te kry in onder meer suikervrye sjokolade), avokado's, uie en knoffel (ook in gedroogde poeiervorm), druiwe en rosyntjies, makadamianeute, suur-deeg- en suiwelprodukte.
Sommige van dié is gevaarliker as ander. Suiwel kan ligte maagontsteltenis veroorsaak wat dikwels vanself regkom, maar sjokolade en rosyntjies kan lei tot lewensbedreigende probleme.
Behandeling
As jy dink jou troeteldier het iets giftigs ingekry, kontak jou veearts. Hulle sal weet of jy die dier dadelik moet inbring vir 'n ondersoek.
As jou troeteldier iets giftigs ingeneem het in die voorafgaande uur kan jou veearts medikasie toedien wat vomering aanbring en help om die gif uit die maag te verwyder. Hulle sal moontlik huis toe gestuur word met geaktiveerde houtskool of 'n ander bindmiddel wat enige oorblywende gifstowwe sal absor-beer. Moenie melk of eiers ingee soos som-mige boererate voorstel nie.
In erger gevalle - waar jou troeteldier reeds simptome van nierskade en neurologiese simptome toon of as daar kwaai braking en maagwerking is - sal jou veearts die dier heel moontlik in die hospitaal laat opneem vir intensiewe sorg. Maar selfs met vinnige in-grype kan ernstige gevalle lei tot permanente skade of die dood.
Onthou: Giftige kos kan skuil in ander kos - vrugtekoek bevat byvoorbeeld neute en rosyne, sekere maalvleis bevat speserye in poeiervorm, en suikervrye sjokolade, koekies en kougom kan Xylitol as versoeter bevat. Dink altyd twee maal voor jy jou eetgoed deel met jou diere en hou 'n lys van giftige kosse (aanlyn te kry) op jou yskasdeur sodat daar geen twyfel is hieroor nie.
KONTAK tah.co.za
























