Rachel Crawford van Gqeberha skryf: "Ek het gehoor van diabetes in honde, maar kan dit katte ook oorkom? Wat is die waarskuwingstekens?"
Dr. Tarryn Dent van Zoetis SA antwoord: Net soos mense kan ons troeteldiere - honde én katte - tipe I- of tipe II-diabetes hê.
Diabetes is 'n siekte wat die liggaam se vermoë om glukose in energie om te skakel, beïnvloed. Baie glukose in die bloed onttrek vloeistof uit weefsels, wat 'n verhoogde vloeistof-lading in die niere skep. Dit lei daartoe dat die troeteldier meer gereeld urineer en dus baie dors word.
Oormatige glukose in die bloed kan ook eetlus, gedrag en algemene gesondheid beïnvloed. Kontak jou veearts as jou kat enige van dié tekens toon:
• moegheid of swakheid en slaap meer as gewoonlik,
• trae, minder speelse gedrag,
• lyk siek,
• swak liggaams- of pelstoestand,
• verhoogde eetlus sonder gewigs-toename,
• oormatige dors (jy moet die waterbak meer as gewoonlik vul of jou troeteldier drink uit die kraan of toilet),
• gereelde urinering (jou troeteldier moet meer gereeld uitgaan of kry ongelukke in die huis).
Tekens van diabetes kan weer voorkom nadat reeds met behandeling begin is. Let altyd op simptome en laat die veearts weet as dit weer gebeur, want dit kan aandui dat die diabetes nie behoorlik gereguleer word nie.
Risikofaktore in katte
• ouderdom,
• sterilisasie (by mannetjies),
• oorgewig,
• rasse met 'n genetiese geneigdheid tot diabetes: huiskatte, Siamese, Birmane.
Met behoorlike bestuur kan 'n diabetiese kat 'n aktiewe lewe lei. Jou veearts sal 'n bestuursplan opstel om by jou en jou troeteldier te pas.
KONTAK zoetis.co.za
Stuur jou vrae na troeteldiere@tuis.co.za






