Verhoudings

Liewe dagboek: Ek’s terug . . .

(FOTO: Getty Images)

Daar’s iets magies aan die gevoel van ’n pen wat oor papier gly. Dis soos om terug te keer na ’n tyd toe ons nog briewe geskryf het en die enigste “inmandjie” die skoenboks vol poskaarte en handgeskrewe notas onder jou bed was.

Gereelde dagboekinskrywings klink dalk soos iets uit jou tienerjare. Glo dit maar, dis terug. En beslis nie net vir tieners met glitter-penne en boy band-plakkate nie. Dis vir enigeen wat smag na ’n bietjie stilte in ’n wêreld van eindelose porboodskappe.

Nou is daar ’n pragtige sêding: “Stop sodat jou siel jou lyf kan inhaal.” En dis presies wat ’n dagboek jou gun.

Dis ’n manier om briek te trap – ’n klein revolusie van ink en papier wat jou help om weer by jouself uit te kom. Want kom ons wees eerlik: Ons fone maak ons móég.

Dis WhatsApp-groepe wat aanmekaar pruttel, e-posse soos ’n druppende kraan en Instagram wat uitbasuin almal se lewe is skynbaar mooier en gelukkiger as joune. Geen wonder ons soek ruimte om opnuut asem te haal nie.

Pen en papier is soos ’n mini-vakansie vir jou brein.

Woorde wat genees

Wanneer jy jou bekommernisse op papier sit, plaas jy dit buite jou kop. Jou stresvlakke daal en jou liggaam pomp minder kortisol – daardie berugte “verouderingshormoon”.

Jou vel, hart en selfs immuunstelsel vind baat daarby.

“Skryf oor wat jou snags wakker hou,” raai James Pennebaker en John Evans aan in Expressive Writing: Words That Heal.

Volgens hulle het ekspressiewe skryfwerk – om eerlik oor ’n traumatiese of ontstellende ervaring te skryf – verrassende voordele. Net om ’n pynlike gebeurtenis te erken is reeds helend. En as jy dit in woorde vasvang, help dit jou om sin te maak daarvan.

Goed vir die kop, lyf & hart

Ekspressiewe skryfwerk:

Verlaag bloeddruk

Verbeter long- en lewerfunksie

Minder tyd in die hospitaal

Beter buie

Verbeterde sielkundige welstand

Minder depressiewe en vermydingsimptome

Minder stresverwante besoeke aan die dokter

Minder afwesigheid by die werk

Studente se punte is beter

“Sodra jy dit deurgewerk het, slaap jy dikwels beter – goed vir jou,” sê Pennebaker. “Selfs jou verhoudings verbeter, want jy kan makliker op ander en húl stories fokus.”

In een van sy studies het studente wat oor traumatiese ervarings geskryf het, minder moeg gevoel en minder verkoue gekry. In nog ’n studie het mense wat hul werk verloor en dit in ’n joernaal verwerk het, vinniger nuwe poste gevind.

Dink aan joernaalskryf as joga vir jou brein. Dit hou jou geheue skerp, help jou patrone in jou eie lewe raaksien en gee struktuur aan jou emosies.

Dis boonop ’n hupstoot vir neuroplastisiteit – jou brein se vermoë om nuwe verbindings te maak.

Kortom: Elke bladsy wat jy vol skryf, is soos ’n vitamienpil vir jou kop – én gesigroom vir jou siel.

Verskillende style, een doel

Die lekker ding van dagboeke vandag? Daar is nie reëls nie. Jy hóéf nie soos ’n Victoriaanse heldin met ’n veerpen bladsye vol te skryf nie. Die moderne dagboek is buigsaam – dis wat jý daarvan maak.

Dáároor is jy dankbaar Skryf elke aand drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Of vyf. Of tien. Jy besluit self. Dit klink dalk eenvoudig, maar help jou om ’n positiewer lewensingesteldheid te ontwikkel. Oprah Winfrey het sowat 20 jaar gelede al dié gewoonte besing as die “belangrikste ding wat ek tot nog toe gedoen het”.

Alles-in-een

(Foto: Estée Janssens/unsplash.com)

Die kolmerker-joernaal (bullet journal of BuJo) het ’n groot Pinterest-aanhang. Dink daaraan as jou dagboek, beplanner en kreatiewe speelterrein in een.

Met washi-kleeflint, stensils en krabbels kan jy jou dagboek in ’n klein kunsprojek omskep. Kolmerkers en simbole word gebruik om take, gebeure en persoonlike bepeinsings aan te dui.

Onder vier oë

(Foto: Leeloo The First/pixabay.com)

Met die vraelys-dagboek (question diary) por ’n stel vrae jou om oor verskeie aspekte van jou dag, gedagtes en gevoelens na te dink. Dit kan help om die dagboek meer gestruktureerd en insiggewend te maak, wat jou meer selfinsig gee en emosionele groei aanhelp.

Jy hoef ook nie al die vrae self uit te dink nie. Daar’s boeke en apps met voorbeelde, soos: “Waarop voel ek vandag trots?”, “Wat laat my veilig voel?” of “Wat het my vandag laat lag?”

Dis soos om met jouself ’n onderhoud te voer.

Stort dit op papier uit (“mind dump”)

(Foto: lil artsy/pexels.com)

Wanneer jou brein soos ’n laai vol los gare voel, skryf alle gedagtes neer – nonsens, frustrasies, bekommernisse, idees – sonder oordeel of struktuur. Só help jy om orde uit die chaos te skep.

Jy maak kop skoon, verminder stres en verbeter fokus.

Trek die positiewe aan

(Foto: Ava Sol/unsplash.com)

Jy gebruik ’n manifestasie-dagboek (manifestation journal) om duidelikheid oor jou doelwitte te kry en jou drome te visualiseer. Dis die neerskryf van jou gedagtes, drome en doelwitte, dikwels met spesifieke tegnieke. Soos “bevestigings” (affirmations), frases en stellings wat jy herhaal om negatiewe denke te verdryf.

Die 369-metode

(Foto: Noemí Jiménez/unsplash.com)

Dit is die neerskryf van die uitkoms wat jy begeer ’n paar keer per dag. Van nuwe werkgeleenthede tot gesonder gewoontes – dit help jou om te fokus en gee jou doelwitte vlerke.

Begin só

Dit klink lekker, maar hoe begin jy? Maklik.

  1. Kies ’n mooi notaboek. Ja, dit maak saak – jy gaan lus wees om daarin te skryf.
  2. Vergeet van perfeksie. Jou dagboek is nie vir ander se oë bedoel nie. Spelfoute, lelike krabbels, wees net jouself.
  3. Stel ’n eenvoudige doelwit. Byvoorbeeld drie sinne per dag. Dis al. Jy hoef nie ’n roman te skryf nie.
  4. Skryf net vir jouself. Hierdie spasie behoort aan jou. Dis jou vryheid.

Jou dagboek as selfgesprek

In ’n wêreld waar almal ’n mening het oor jou klere, jou selfies en jou loopbaan, is dit bevrydend om net jou eie stem te hoor. ’n Dagboek gee jou kans om ongefiltreer, ongeredigeer en onbeskaamd jouself te wees. Dis ’n veilige plek waar jy nie hoef te presteer nie, net te wees.

Die geskenk van tyd

Elke bladsy wat jy vol skryf, is ’n mini-protes teen die lewe se gejaagde pas. Dit sê: Ek kies om ’n oomblik vir myself te vat. Ek kies om te voel, te dink, te droom. En dis een van die beste geskenke wat jy jouself kan gee.

Dus, haal daardie notaboek van die rak af, koop penne in mooi kleure, en begin eenvoudig: “Liewe dagboek, ek’s terug.”

Hulle sê

Ek skryf elke oggend 10 minute lank in my dagboek. Dis soos om my brein te organiseer voordat die wêreld my begin insluk.

Marié

Ek het op my dogter se laerskool-dagboek afgekom en toe weer self met die gewoonte begin. Dis ongelooflik hoe eerlik jy is as jy weet niemand anders gaan dit lees nie.

Tshego

Bronne:positivepsychology.com, cnn.com

Skandeer die QR-kode met jou selfoon.
Skandeer die QR-kode met jou selfoon.

Luister na die Langer jonger met SARIE-podsendingreeks, aangebied deur Rolanda Marais. Eksklusief op Netwerk24 se Klankgolwe.