Op 'n wonderskone, magiese eiland in die Golf van Thailand het die grafiese ontwerper en troufotograaf Mariaan weer heel geword - ná baie hartseer en verlies.
Die afgelope vyf jaar was nie maklik nie. Haar pa is oorlede ná 'n lang stryd met demensie. Sy moes afskeid neem van 'n hartsvriendin wat breinkanker gehad het. Haar eerste swangerskap het in 'n miskraam geëindig.
En toe, kort daarna, het haar huwelik onverwags tot 'n einde gekom.

Dit was 'n groot skok, vertel sy.
"Ek is einde 2023 deur 'n verskriklik donker tyd, maar ek kon dit regkry om myself daaruit te lig, met die hulp van my familie en goeie vriende."
Mariaan was in Maart verlede jaar besig om haar goed in Kaapstad op te pak - "ek het besef ek moet nou vorentoe" - toe die gedagte aan 'n soort Eat Pray Love-reis [soos in die ikoniese 2010-fliek] na Bali en Indië by haar opkom.

Maar haar lewensafrigter het 'n ander voorstel gehad: 'n program vir vrywilligers by die Samma Karuna Awakening and Healing-skool-en-retreatsentrum op die eiland Koh Phangan in Thailand. 'n Plek waarheen mense van alle uithoeke kom om by kenners van reg oor die wêreld oor trauma, heling en groei te leer.
In Junie was Mariaan onderweg, nadat sy letterlik die laaste geld in haar bankrekening vir haar vliegkaartjie gebruik het.

"Ek het nie die plek geken nie, maar 'n eilandlewe het my nog altyd bekoor. Nou is my hele Pinterest-bord bewaarheid, al het dit op 'n seer manier gebeur," vertel sy oor Zoom vanuit haar huurhuisie op Koh Phangan.

Met haar geblomde kimono, skoon gesig ("grimeervry" vir agt maande) en "meermin"-krulle, lyk Mariaan bloedjonk en sorgeloos, maar sy raak kort-kort aangedaan wanneer sy haar storie deel.
"Ek voel ek wíl eerlik en weerloos wees, want só kan ek werklik iets vir ander beteken. Ek is al sterker, maar ek bly hartseer dat ek en my voormalige man nie saam oor ons baba kon rou nie.
"Ek glo daar is 'n groter doel met alles wat die afgelope vyf jaar gebeur het."
Ongeag wat in jou lewe gebeur, jy het altyd 'n keuse, sê sy.
"My hart het elke pynlike emosie denkbaar ervaar. Ek kon seker kies om hartseer te bly of kwaad oor my omstandighede te wees, maar dis nie 'n lekker energie nie. Dan kies ek eerder die ander kant en maak die beste daarvan.
"Ek kies om te doen wat my gelukkig maak."

Soms is dit selfs die kleinste goedjies, soos om frangipani of hibiskus te pluk en in haar hare te dra of op haar lessenaar te sit. 'n Thai-massering op die strand. 'n Reënboogslaai. Of 'n naweekbederf: "Massaman curry" met "mango sticky rice" vir nagereg.

Sy het baie geleer en gegroei sedert sy verlede Junie vir vier weke na Samma Karuna is.

Sy moes op 37 vir die eerste keer 'n slaapsaal met ander mense deel - "alles deel van die avontuur".
As vrywilliger het sy met allerlei take gehelp, en in ruil kon sy elke dag drie klasse doen.
Sy kon kies uit 'n groot verskeidenheid, van joga en diep-asemhalingswerk tot klankheling en meditasie.

"Ek het letterlik my lewe op ys gesit en honderd persent daarop gefokus - hart en siel. Selfs om die blare op die strand te hark was vir my 'n vorm van meditasie."
In Augustus is sy huis toe met die plan om in Europa by vriende te kuier en daarna ontwerp-werksessies aan te bied, maar die eiland het bly roep. 'n Maand later was sy terug.

Mariaan is mal oor die eiland met sy palmbome, woude, watervalle, bamboeshutte en stalletjies met tropiese vrugte om elke hoek en draai - sy kan al baie behendig met 'n lepel die "vleis" van 'n kokosneut uitgrawe.

Sy het gou deel geraak van die gemeenskap waar niemand gejaag is nie en almal vir mekaar omgee.
Elke dag maak sy tyd vir haarself, en doen moeite om alles wat haar op die eiland inspireer op sosiale media te deel - sodat dit ook vir ander iets kan beteken.

Soms sal sy en vriendinne met sonsondergang joga doen, saam dans en sing en partykeer met volmaan kaal by hul geheime strandjie swem - "ons vier vrouwees!" Om in die oerwoud te stap of in een van die watervalle te swem is ook 'n onvergelyklike ervaring.

Sy het al verskeie opleidingskursusse daar gedoen. Haar vaardighede as fotograaf, grafiese ontwerper en handelsmerkontwikkelaar kom goed te pas, en sy kon nog elke keer met "ruilhandel" heelwat van haar klasse se koste dek.

"Dis hoe mooi Liewe Jesus vir my sorg. Selfs 'n reisagentskap dra by tot my vlugte, in ruil vir werk. 'n Seëning, want dit het soveel deure vir my oopgemaak," sê sy.

Sy beoog om in die toekoms haar tyd tussen Suid-Afrika, Koh Phangan en selfs Europa te verdeel. Sy wil elke jaar vir 'n paar maande werksessies en klasse op die eiland aanbied.

"My hoofdoel is dat vroue moet lief wees vir hul lewe. Ek wil hulle die gereedskap gee wat ek hier gekry het. Hulle moet net hul harte daarvoor oopmaak. Veral vroue-entrepreneurs.
"My loopbaan van vyftien jaar was nog altyd gejaag, en hoewel ek dié lekkerste werk het, wil ek graag kreatief wees sonder om te jaag. As jou werk jou vreugde gee, moet dit jou nie ook angstig maak nie.
"Met 'n dieper kennis van beweging en joga en spiritualiteit kan jy gelukkiger wees in jou lyf en in jou werk . . . en kalmer. Ek ervaar dit self."
Binnekort is sy op pad Europa toe, onder meer om 'n troue in Parys, die stad van liefde, af te neem - "in my geval, die stad van selfliefde," sê sy met 'n glimlag.

"Natuurlik bly ek 'n aanhanger van die liefde. Ek het in my lewe duisende troukaartjies ontwerp, en saam met my voormalige man meer as 200 troues die wêreld oor afgeneem.
"My twee sussies sê ek is nie 'n hopeless romantic nie, maar 'n hopeful romantic. Daar is nog baie hoop vorentoe."
Op die eiland word sy gereeld herinner daaraan dat alles oukei sal wees.
"Ek glo dat die lewe vir ons leiding en antwoorde gee, ons is dikwels net te besig om dit raak te sien. En dit het niks met jou geloof of kultuur te maak nie.

"Die laaste paar maande het ek tekens gesien wat my soveel vrede gegee het. Reenboë duik oral op. Die dag wat ek al my goed in die Kaap laat stoor het, was daar 'n groot reënboog oor Tafelberg, en hier in Thailand sien ek gereeld reenboë op plekke waar jy dit nooit sal verwag nie . . . soos in die lig wat laatmiddag op teksture of selfs in die eksotiese vrugte weerkaats."
Koh Phangan se massas kleurvolle skoenlappers en naaldekokers was ook 'n lieflike verrassing - dit was nog altyd 'n sterk element in haar kreatiewe loopbaan. Toe sy in 'n stadium hoog op in die woud gebly het, het sy elke oggend by die onderpunt van haar trappies 'n ander kleur skoenlapper aangetref.
"Skoenlappers en veral naaldekokers is simbolies van 'n vrou se metamorfose."
Sy het die afgelope tyd baie oor haarself geleer, soos dat sy eintlik baie sterker is as wat sy gedink het. En dat sy dalk haar drome begin afskeep het.

"Ek het baie veilig in my verhouding gevoel, en nie meer gewaag of groot dinge op my eie aangepak nie. Ek herontdek nou weer daardie kant van my."
Haar huis was nog altyd vir haar die heel lekkerste plek op aarde. Nou ís sy haar eie huis - "maak nie saak waar in die wêreld ek is nie."

Soms, wanneer sy soggens vroeg op haar bromponie langs die see ry met die wind in haar hare, voel sy 'n gevoel van opwinding en nuuskierigheid in haar opborrel oor wat vir haar voorlê: "Ek weet dat daar 'n mooi plan met alles is, al kan ek nie altyd in die oomblik sien wat dit gaan wees nie."
- Besoek followthatspark.com vir meer oor Mariaan se werksessies, reisblog, fotografie en ander kreatiewe projekte.





















