Lesers sê

’n Versorger vertel: Demensie se hel . . .

(Netwerk24)

Ek het altyd artikels gelees oor Alzheimer se siekte en demensie en gedink: “Dit moet darem verskriklik wees om so agteruit te gaan.”

Toe dieselfde beker by my verbykom, het ek alles wat ek kon op die internet gelees en gedink ek is ingelig en sou die pad saam met my man kon stap. Desmond, my intelligente, spitsvondige Engelsman.

Dit was my tweede huwelik en hy die liefde van my lewe. Ons was twintig jaar getroud – en dit was die gelukkigste tyd van my lewe.

Desmond was fiks en gesond totdat hy 65 was. Van daar het dinge geleidelik agteruitgegaan. Hy was ’n strawwe roker tot op 60 en het die gewoonte met ’n groot gesukkel gestop.

Teen 2017 was dit duidelik daar is fout. Hy was by tye deurmekaar en van balans af en moes partykeer lank dink voordat hy iets kon doen. Hy was kort-kort in die hospitaal.

Sy longe het gelol en emfiseem is by hom gediagnoseer. Sy bloeddruk was onegalig en het dikwels gespike en hy het hartprobleme gehad.

Witstofsiekte, skade aan die brein se witstof as gevolg van verminderde bloedtoevoer, is ook by hom gediagnoseer. Teen 2018 wou hy nie meer bestuur nie. Einde 2019 het ek die groot besluit geneem om te bedank om voltyds by hom te wees.

Ons het toe reeds ons aftreehuis op Leipoldtville in die Kaap gehad en dadelik soontoe verhuis. Op Worcester was ek in die korporatiewe wêreld, hy het toe lank reeds nie meer gewerk nie en ons het ’n besige lewe gelei.

Ook ons sosiale lewe was bedrywig.

Leipoldtville – my geboorte- en grootworddorp – is klein. ’n Boeregemeenskap, kerk, drie klein skooltjies. Ek het gedink as ons eers daar is, sal dinge beter gaan . . . dat ons die rustige “slow living”-ding kan doen met my aan sy sy.

Hoewel hy nog sieklik was, het ek hom, sy pille en oefening soos ’n sersant-majoor hanteer. Maar niks het gehelp nie. Sy verstand het verder agteruitgegaan.

Sy slaappatroon was sleg. Hy sou mense en dinge sien en hallusineer – meestal snags. Nog toetse, veranderinge aan sy medisyne en hospitaalopnames het gevolg.

By tye sou dit beter gaan, maar uiteindelik was alles tevergeefs. Hy was op die afdraande pad. In 2022 het my hel begin.Omdat ek uit die korporatiewe wêreld gekom het, was my geduld min.

Dinge moes vinnig gebeur, resultate vinnig verkry word. Ek is tot stilstand geruk. Alles moes gebeur teen ’n pas wat hy kon volhou.

Om hom soggens gestort en aangetrek te kry was ’n twee uur lange werk. Om hom in die motor te kry om iewers heen te gaan, ’n verdere halfuur. Desmond was ’n ware Engelse heer. En so geduldig as kan kom. Iemand wat nooit ’n lelike woord gesê het nie.

Ewe skielik was hy ongeduldig, onbeskof en het gevloek soos ’n matroos.

Ek moes leer wat geduld is. My nagte was ’n totale nagmerrie. Hy sou soms tot drie dae en nagte niks slaap nie. Wat beteken het dat ek ook nie kon slaap nie. Hy sou baklei met mense wat reeds oorlede is.

Maar dan sou daar dae wees wat hy heel “normaal” voorkom. En elke keer het ek gedink hy sál beter word. Teen die middel van 2022 het ek besef ek kan nie so aangaan nie. Ek moes hulp kry. Ek was uitgeput, my rug kapoet.

En toe begin die wroeging.

Waarheen? Wanneer? Moenie dink jy kan net die foon optel en bel vir ’n plek wat mense met demensie inneem en versorg nie. Daardie plekke is yl gesaai.

En gewone ouetehuise neem nie sulke mense van nuuts af in nie. Dié wat wel daar is, is ver en bitter duur.

Uiteindelik het ons wel plek gekry. Teen daardie tyd was ek soos ’n zombie. Daar was baie slegte tye, maar af en toe tog nog ’n helder oomblik. Wat my laat twyfel het.

Ek het deurgedruk en hy is toegelaat by ’n tehuis op ’n naburige dorp. Hy wou weet waarheen hy op pad is. Ons het vir hom gesê dat hy vir drie maande na ’n plek gaan om te kyk of hulle hom nie gesonder kan kry nie.

Ek het weliswaar ’n kontrak geteken vir drie maande en heimlik gehoop hy sou weer uitkom. Hy het dit daar gehaat. Onbeskof. Lelik met almal.

Die mense daar het my aangekyk asof ek mal is toe ek sê dat hy ’n baie rustige, besadigde persoon was. Eendag het hulle hom gekry waar hy geryloop het, op pad Leipoldtville toe. Ek het hom gereeld besoek.

As hy goed gelyk het, het ek hom na ’n koffiewinkel geneem om uit te kom en homself te geniet. Hy was so lief vir lekker eet.

Maar hy het my begin haat. Al sy woede sou by sy mond uitstroom, want ek was die persoon wat hom daar gesit het. Ek wou van my verstand af raak. Hierdie liefde van my lewe . . .

Op 1 Januarie 2023 is hy in die Milnerton Mediclinic oorlede.

Longversaking.

Daar was baie vrae en selfverwyt binne my. Tog, as ek alles in my kop terugspeel, besef ek ek het my beste gegee.

Help só die versorger

As jy iemand wil help wat deur hierdie trauma gaan, onthou die volgende:

  • Moenie gaan kuier nie. As versorger weet jy nooit wat volgende gaan gebeur nie. Jy wil nie nog spanning op daardie huishouding laai nie. Die versorger is moeg en afgemat, maak nie saak wat hulle sê nie. As hulle sê dit gaan goed, is dit omdat hulle nie anders durf dink oor hul situasie nie. Neem vir hulle ’n gekookte ete.
  • Om die las van nog ’n ete van die versorger se skouers af te haal is goud werd. As jy iemand ken en vertrou en dit kan bekostig, reël dat die persoon van tyd tot tyd vir ’n paar uur by die pasiënt bly.
  • Neem jou vriend of vriendin vir koffie en koek, ’n haarsny of sessie by die skoonheidsalon.
  • Moenie ’n versorger sosiaal afsonder nie. Net omdat hulle nie kan gaan kuier nie, beteken nie dat hulle jou nie nodig het nie. Hulle hét. Stuur boodskappe, bel, e-pos, enigiets, sodat hulle voel daar is nog mense daar buite wat hulle ondersteun.
  • Neem ’n bos blomme saam. So iemand sien later nie meer die mooi raak nie. Dis dalk net wat hulle daardie dag nodig het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM