Verhoudings: As anders méér is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Carina Stander en haar man, Gerrit van Niekerk. Foto: Verskaf
Carina Stander en haar man, Gerrit van Niekerk. Foto: Verskaf

Hoekom werk party verhoudings tussen lewensmaats wat oënskynlik nie veel gemeen het nie? Is dit ten spyte van hul verskille, of te danke daaraan?

Die sosioloog Robert F. Winch het reeds in die vyftigerjare antwoorde op dié vrae gesoek, wat gelei het tot sy studie van mense se keuse in lewensmaats. Hy wou vasstel of daar iets te sê is vir opposites attract.

Volgens sy boek Mate-Selection: A Study of Complementary Needsis mense nie doelbewus tot teenoorgesteldes aangetrokke oor die andersheid nie, maar eerder omdat 'n mens die ander onbewus eien as iemand wat jou kan komplementeer.

Carina Stander en Gerrit van Niekerk is al 24 jaar saam, 21 daarvan as getroudes. Hulle woon sedert 2008 saam met hul seuns, Aden (17) en Ilan (13), in die Tsitsikamma.

Carina is 'n kunstenaar, digter en skrywer - die vierde en laaste boek in haar Bergengel-boekreeks, Die Waterplek: Gabriëllië, het in Oktober verskyn. Sy het 'n honneursgraad in beeldende kunste en 'n meesters in kreatiewe skryfwerk. Prente en woorde is van kleins af deel van haar identiteit.

"Op skool was ek goed met mondelinge en redenaarskompetisies, maar het 'n wrokkige verhouding met wiskunde gehad. Eenslag het ek 29 persent vir wiskunde gekry en 92 persent vir Afrikaans!" vertel sy.

Gerrit, 'n introvert, se grootste nagmerrie was om voor groot groepe mense te praat. Wiskunde is sy kos - hy is 'n gekwalifiseerde ingenieur en verdien sy daaglikse brood as programmeerder. Syfers en stelsels is vir hom soos asemhaal.

Twee mense met uiteenlopende geaardhede en aanlegte, dus. Hoe maak hulle dit werk?

Carina vertel hulle was eers net vriende vir 18 maande saam in Engeland (later ook Skotland) en het mekaar se andersheid leer ken en waardeer. Later, toe die vriendskap 'n liefdesverhouding word, hulle het gou geleer om verskille dadelik uit te praat.

"Ons kon na niemand hardloop om oor mekaar te kla nie - bel was duur en ons het geleer om wat ons óór mekaar te sê het, vír mekaar te sê," sê sy. Dít het hul riglyn geword vir eerlikheid met en lojaliteit aan mekaar.

Hulle huiwer ook nie om mekaar te laat skyn nie en fokus op waarmee elkeen goed is.

Ons het 'n middeweg gekry en vorm nou 'n wonderlike span - vir iemand wat nie van spanspeletjies hou nie, is dit nogal iets om te sê!

Gerrit was baie skaam by sosiale geleenthede: "Hy is 'n tipiese ingenieur en ek kon dit nie verstaan nie. Die mans in my familie is joviaal en praat baie. Ek het gedink hy dink hy is beter as ander en nie besef hy is eintlik skaam nie. Toe ek dít besef, het ek 'n tegniek ontwikkel om hom te help met sy skugterheid.

"Ek het byvoorbeeld my trefferstorie of -grap begin vertel - een wat Gerrit goed ken - en die oomblik voor die punchline die storie aan hom oorgegee. Dan het hy die applous gekry."

Mettertyd het dit sy selfvertroue opgebou.

"Ons het 'n middeweg gekry en vorm nou 'n wonderlike span - vir iemand wat nie van spanspeletjies hou nie, is dit nogal iets om te sê!"

Gerrit beaam: "Ons vier en waardeer die ander een se manier. Ons vul mekaar aan en voel gemaklik om aan die ander een oor te gee. Carina het baie genade met die dinge wat ek uitdagend vind."

Dié ingesteldheid het ook hul werklewe beïnvloed, sê Carina: "Ek het Gerrit geleer om die baie wat hy te sê het, voor mense te sê. As programmeerder praat hy tot vyf uur lank op Teams-vergaderings en doen dit goed.

"Ek, weer, het in kreatiewe projekte ingestorm en niks beplan nie omdat ek gedink het dit gaan die betowering doodmaak.

My plante kry op sekere dae water en my boeke is in genres en alfabeties gerangskik. Gerrit is wiskundig en sy werk vereis presisie en orde, maar sy fisieke omgewing is chaoties.

"Hy het my die waarde van stelsels, beplanning en sistematiese denke geleer. Dis hoe ek elke boek nou benader. Ek beplan dit vooruit - hoewel die karakters steeds doen wat hulle wil en ek oop is vir oortuiging."

Gerrit sê Carina het hom geleer hoe verweefd alles in die lewe is.

"Van redenasie en planne tot emosie en drome. En dat emosionele intelligensie ewe belangrik as IK is," sê hy.

Hulle baklei min. Hul verhouding is rustig: "Ons sal dalk een keer in twee maande vir vyf minute vir mekaar grom, maar ons het genade ontwikkel vir waarmee die ander van nature nie goed is nie. My werk is om kreatief te wees, maar my fisieke omgewing is absoluut georden.

"My plante kry op sekere dae water en my boeke is in genres en alfabeties gerangskik. Gerrit is wiskundig en sy werk vereis presisie en orde, maar sy fisieke omgewing is chaoties.

"Aanvanklik het sy studeerkamer met papiere wat rondlê my vreeslik geïrriteer. Tot ek op 'n dag besluit het om die deur toe te trek, want dis sy ruimte en hoe hy dit doen is oukei."

Hul liefde vir reis is ook 'n spanpoging.

"Ek kies die storie - ondersoek die plekke, landskappe, geskiedenis en kultuur. Gerrit is die een wat die reis so effektief moontlik maak en ons veilig daar kry. In enige land weet hy op 'n stasie binne tien minute hoe die treine werk," sê Carina.

Ek is nogal bang en Gerrit meer die waaghals. Ons verskil, maar die groot goed is dieselfde: ons lewensfilosofie, ons leefstyl en hoe ons kinders grootmaak.

"Sonder my sou Gerrit dalk nie so 'n ywerige leser geword het nie. En ek sou sonder hom nie waardering vir Star Wars gehad het nie. Ek't nie eens vaagweg daarin belanggestel nie, nou is ek die een wat eerste weet van die nuutste aksieflieks.

"Dis steeds nie my gunsteling nie - die gesinsinteraksie is vir my belangriker. My belangstelling in historiese dramas en kunsflieks het Gerrit en die seuns ook 'n waardering daarvoor gegee - trouens, Gerrit soek dit op. Ons het mekaar se wêrelde verbreed."

Hulle gun mekaar vryheid en wys hul bewondering vir mekaar: "Ek het nie 'n drawwer en Gerrit 'n digter geword nie, maar ons sien dis goed vir mekaar. Ek is nogal bang en Gerrit meer die waaghals. Ons verskil, maar die groot goed is dieselfde: ons lewensfilosofie, ons leefstyl en hoe ons kinders grootmaak."

Waarmee elkeen goed is dra hulle aan die seuns oor.

"Ek gaan byvoorbeeld nie vir die kinders probeer wiskunde verduidelik of Gerrit hulle met mondelinge help nie. Gerrit is 'n wonderlike pa. Die seuns doen fisieke goed saam met hom en hulle messel en bou saam. Maar hy kan ook bak en naaldwerk doen en die seuns is nou self tuis in die kombuis."

Gerrit hoop die seuns kan uit hul voorbeeld leer oor verhoudings.

"Dat ons soms vassit, maar daardeur werk en nooit kwaad gaan slaap nie. Dat ek haar en haar opinies respekteer, al stem ek nie noodwendig saam nie, omdat ek weet sy sien die lewe uit 'n ander hoek. Dat ons liefde en toewyding aan mekaar groter is as die alledaagse."

Carina sê hulle het 'n idilliese lewe in 'n huis in die bos, maar sou dit sonder mekaar nooit kon maak nie.

"Gerrit maak meer geld as ek. Ek beplan reise wat ons wêrelde verbreed. Boekbekendstellings en -feeste is vir my maklik en ek nooi tot dertig mense vir 'n kuier. Sonder hom sou ek nie hier kon woon nie en waarskynlik verarm het.

"Sonder my sou Gerrit wel hier kon woon, maar dalk vereensaam het as niemand die huis se deure oopgegooi het nie. Ons maak mekaar se drome moontlik. Ons vermeerder mekaar."

Gerrit: "En ons kuier elke dag met mekaar - ons gesels 'n hond uit 'n bos."

Eldaleen Hugo

SPELETJIES VANDAG

CTA