Verhoudings

Wenke vir geskenke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gaan vanjaar slim te werk wanneer jy Kersgeskenke koop. Gee ’n gepaste geskenk wat wys jy gee om, en kyk hoe jou geliefdes se gesigte op Kersdag blom!            Foto: ISTOCK
Gaan vanjaar slim te werk wanneer jy Kersgeskenke koop. Gee ’n gepaste geskenk wat wys jy gee om, en kyk hoe jou geliefdes se gesigte op Kersdag blom! Foto: ISTOCK

Die gee van geskenke is 'n mooi gebaar wat jou geliefdes wys jy gee om. Met Kersfees om die draai, loop die uurglas nou vinnig leeg om die perfekte geskenke te vind.

Kersfees is natuurlik 'n tyd van samesyn met jou geliefdes en hoewel dit lekker is om 'n geskenk te ontvang, verskaf die gee daarvan ook heelwat vreugde.

Maar hoe kies jy 'n gepaste geskenk?

Volgens Cher-Meri Strauss, stigter van Dear Sofhia's Gift Corner, is dit belangrik om die ontvanger te bestudeer. "Kyk na die dinge waarvan hulle hou, hul gunstelingkleure en -peuselhappies, sowel as stokperdjies en dit waarin hulle uitblink."

Cher-Meri sê jy kan hierdie inligting ook gebruik om 'n begroting op te stel, want dit sal jou 'n goeie idee gee van geskikte produkte en pryse.

Só koop jy vir gesinslede

  • Vir Ma: Ons weet dat ma's so besig is om na ander om te sien, dat hulle soms vergeet om te ontspan. Cher-Meri sê dit sal slim wees om iets sags en ontspannend te oorweeg. "Loer gerus na haar gunstelingskrywer se nuutste boek, 'n rok wat jy weet sy al lank wil hê, parfuum (maak seker jy weet van watter geure sy hou), juwele, satynslaapklere of 'n nuwe handsak - 'n vrou kan nooit genoeg hê nie!"Sy sê die beste ding van ma's is dat hulle nie doekies omdraai oor dit waarvan hulle hou of nie kan verdra nie. "As jou ma wel effens geheimsinnig is, knoop 'n geselsie aan oor dinge wat sy nog in die huis of vir haarself nodig het."
  • Vir Pa: Mans se smaak stem oor die algemeen ooreen en hoewel dit miskien nie waar is vir alle mans nie, reken Cher-Meri tog uit haar persoonlike ervaring dat dit gewoonlik makliker is om vir 'n man geskenke te koop."Jy kan nie verkeerd gaan met biltong nie. Gebruik dit as basis vir jou geskenk. As die persoon 'n tegnologieliefhebber is, kyk gerus na slimprodukte soos slimhorlosies en voeg sommer 'n hoë­gehalte-sonbril by, wat natuurlik gepas is vir die sonnige dae wat voorlê."As die persoon lief is vir klere koop, kyk oorweeg T-hemde, kortbroeke en plakkies. Maak net seker jy het die regte groottes." Dié kledingstukke is natuurlik ideaal vir die somer.
  • Boet en Sus: Cher-Meri erken dat dit nie altyd die maklikste taak is om vir kinders te koop nie. "Hulle weet soms wat hulle wil hê, maar ouers weet gewoonlik wat hulle benodig. Kinders raak ook vinnig ‘uitgespeel' aan speelgoed, wat verder bydra tot die uitdaging," sê sy. " 'n Goeie wenk is om deur die jaar al notas te maak van dit waarvan hulle hou en nodig het "Kyk na sokker- of netbaltekkies, tegnologie (wat ook gebruik kan word in hul alledaagse lewe) en speletjies, na gelang. van jou begroting." Vra hulle deur die jaar uit oor wat hulle wil hê. Dit sal jou ook finansieel voorberei, meen Cher-Meri. Onthou dat veral kleiner kinders van kwantiteit hou. Eerder as om op een peperduur geskenk te fokus, dink aan maniere hoe jy 'n paar van hul gunstelinge bymekaar kan voeg. "Jy hoef nie by jou duurste winkels te gaan kyk nie - gaan loer bietjie by die Chinese winkels en kyk na hulle verskeidenheid speelgoed en tegnologie. Koop een van elk en verpak dit saam met die kind se gunstelinglekkernye."Cher-Meri sê jy sal hope geld en tyd spaar deur gedurende die jaar uitverkopings dop te hou. "Dink ook buite die boks vir goed wat jy nie altyd sou koop nie, soos oulike juweliersware en nuwe beddegoed in hul gunstelingkleur of met prentjies van televisieprogramme en stories waarvan hulle hou."
Cher-Meri Strauss, eienaar van Dear So­fhia's Gift Corner, sê 'n uitstekende wenk om die taak van geskenke koop te vergemaklik, is om deur die jaar items te versamel. Hou uitverkopings dop, koop wat jy nodig het en steek dit weg tot Kersdag. Dit behoort jou finansiële las in Desember aansienlik te verlig.
Cher-Meri Strauss, eienaar van Dear So­fhia's Gift Corner, sê 'n uitstekende wenk om die taak van geskenke koop te vergemaklik, is om deur die jaar items te versamel. Hou uitverkopings dop, koop wat jy nodig het en steek dit weg tot Kersdag. Dit behoort jou finansiële las in Desember aansienlik te verlig.

Volgens Cher-Meri is die sleutel tot suksesvolle Kersgeskenke om seker te maak dat die persoon dit gaan gebruik. Ook om voor die tyd te begin met jou Kerskopies, want dit sal die druk verlig van op die laaste nippertjie koop.

"Moenie vergeet dat dit uit die hart moet kom nie!"

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM