1. Swaar dra
"Rucking" - 'n nuwe staptendens - raak ál gewilder as 'n manier om jou daaglikse wandeling op te kikker. Dis net stap terwyl jy iets op jou rug abba. Só eenvoudig.
Soos stap, kan jy dit op enige plek doen - en jy het waarskynlik reeds alles wat nodig is. Pak net 'n rugsak, sit dit op jou rug . . . en daar trek jy. Dis 'n lae-impak-oefening en goed om spiere te bou, kilojoules te verbrand
en dit is boonop minder skadelik vir jou knieë as draf. (Bron: huffpost.com)
2. Vier

Dís hoeveel liter water jou lyf per uur kan verloor as jy voetslaan, afhangend van die temperatuur en hoe vinnig
jy beweeg.
Sowat 25% van hitteverwante siektes is weens te min vloeistof. Daar word aanbeveel dat jy sowat 0,5 liter water
per uur tydens matige oefening drink. (Bronne: sciencedaily.com, eighty20.co.za)
3. Drink slim

Die kilojoules (kJ) in drinkgoed laat jou nie regtig versadig voel nie, wat meebring dat jy dikwels meer wegslaan as wat jy besef.
- Appelsap (250 ml): 489 kJ
- Bier (350 ml): 430 kJ
- Cappuccino, vetvrye melk, geen suiker (250 ml): 309 kJ
- Caffè latte, vetvrye melk, geen suiker (250 ml): 280 kJ
- Energie-drankie (250 ml): 451 kJ
- Swart koffie (250 ml): 8 kJ
- Die wenner: Trots SA rooibostee (geen melk en suiker): Geen kJ. Dis boonop goed vir jou. (Bron: Suid-Afrikaanse Rooibosraad)
4. Helende grond

Jy kan jou dermkanaal se gesondheid verbeter deur net aan grond te raak, soos kaalvoet daarop loop of met jou hande daarin woel.
Baie van die bakterieë in ons dermkanaal en op ons vel stem ooreen met dié in grond. Die grootste diversiteit van dermbakterieë wat nog aangeteken is, kom voor by 'n afgesonderde bevolking van jagter-versamelaars in die Amasone-reënwoud.
Hulle loop kaalvoet op die besonders ryk grond, volgens 'n verslag deur Save Soil, 'n veldtog van die internasionale beweging Conscious Planet. (Bron: consciousplanet.org)
5. Dier-baar: Wie troetel wie?

Staar jy en jou hond selfs net 'n paar minute in mekaar se oë, styg Woef se vlakke van oksitosien, die
sogenaamde troetelhormoon, met 130%. En joune met 'n ongelooflike 300%, het Japannese navorsers bevind.
Hoër oksitosienvlakke by honde help hulle inderdaad om menslike gebare, soos as jy met jou vinger wys,
beter te verstaan, volgens Brian Hare en Vanessa Woods in hul boek Puppy Kindergarten: The New Science of Raising a Great Dog.
"Honde met verhoogde oksitosienvlakke verstaan beter wat ons bedoel," volgens hulle. "Hulle maak meer oogkontak en is meer oplettend." (Bron: time.com)



















