Astigmatisme, bysiendheid en versiendheid is algemene kwessies wat mense se sig beïnvloed. Dr. Frikkie Hartog, 'n oftalmoloog in Bellville, verduidelik die verskille tussen hierdie drie soorte sigprobleme, asook die behandelingsopsies beskikbaar vir astigmatisme.
Drie tipes sigprobleme
Die meeste mense is vertroud met bysiendheid en versiendheid. Mense wat bysiende (miopies) is, kan goed naby sien, maar het 'n bril nodig om ver te sien. Mense wat versiende (hiperopies) is, kan weer goed ver sien, maar begin al hoe meer sukkel met naby sien namate hulle ouer word. Die lens van 'n jonger mens se oog kan van vorm verander en gedeeltelik die versiendheid wegsteek, maar dit verswak gewoonlik in hul 40's, en gevolglik word hulle al hoe meer afhanklik van 'n bril vir naby-take. Versiendheid word meesal geassosieer met 'n oog wat te nou is, en in bysiendheid is die oog weer meesal te breed vir die inkomende lig om skerp te fokus.
Daar is egter 'n derde tipe sigkwessie, bekend as astigmatisme. Die ideaal is dat die voorkant of kornea van jou oë reëlmatig rond is. In die meeste mense is die kornea egter nie rond nie, maar het 'n kurwe wat meer soos 'n rugbybal se vorm lyk. Dié vorm is verantwoordelik vir astigmatisme, waar die lig nie skerp gefokus word in die oog nie, maar 'n dubbele beeld of skaduwee om voorwerpe veroorsaak.
Astigmatisme kan in isolasie voorkom, maar kan natuurlik ook in kombinasie met bysiendheid of versiendheid voorkom. Astigmatisme is verder ingewikkeld met dié dat die rugbybalkurwe op enige rotasie kan voorkom.
Hoe word astigmatisme behandel?
Versiendheid en bysiendheid word met 'n brillens behandel wat 'n ronde kurwe het. 'n Toriese lens wat astigmatisme behandel, het egter dieselfde rugbybal-kurwe as die kornea, en verder moet die kurwe van die brillens se rotasie ooreenstem met die rotasie van die kornea.
Die rotasie van 'n brillens kan akkuraat vasgestel word deur die lens se posisie in die raam.
Toriese kontaklense word ook gebruik om astigmatisme te behandel. Die rotasie van kontaklense verander egter tydens die oog se knip-aksie en gevolglik is kontaklense nie so akkuraat soos brillense om die astigmatisme te korrigeer nie.
Kan astigmatisme met 'n prosedure behandel word?
Astigmatisme kan akkuraat behandel word deur prosedures wat die kornea of die lens van die oog behandel. Sodoende kan astigmatisme in isolasie, asook in kombinasie met versiendheid of bysiendheid, behandel word.
Gedurende 'n laserprosedure word die oppervlak van die kornea akkuraat verander om die rugbybalvorm ronder te maak. Sowel die sterkte as die rotasie van die astigmatisme word baie akkuraat behandel, aangesien 'n beeld van elke oog deur die lasersisteem herken word, en gebruik word vir 'n volgingsisteem wat kompenseer vir enige beweging van die oog.
Dit verseker akkurate resultate, al duur die laserprosedure slegs 'n paar sekondes.
In ouer mense waar die kataraklens vervang word, is dit noodsaaklik om ook astigmatisme te behandel om te verseker dat die persoon ná die prosedure skerp kan sien sonder 'n bril.
Die astigmatisme word akkuraat behandel met 'n toriese lens.
'n Toriese lens het ook 'n rugbybal-voorkoms en kompenseer baie akkuraat vir die korneale astigmatisme deur die lens op dieselfde rotasie te plaas. Die akkuraatheid van die lens-prosedure word verseker deur sagteware wat sowel die sterkte as die rotasie van die verkose lens bepaal. Verder word geleidingsagteware gebruik tydens die plasing van die lens om te verseker dat die rotasie akkuraat is. Die gevolglike skerp beeld verseker minder of geen brilafhanklikheid en die resultaat is permanent.
GEBORG
Dr. Frikkie Hartog
Dr. Frikkie Hartog verduidelik dat astigmatisme 'n onreëlmatige vorm van die oog veroorsaak. Laserchirurgie kan die vorm van die oog akkuraat verander om skerp sig te verseker. Vir meer inligting oor hierdie prosedure of om 'n afspraak te maak, tree gerus met dr. Hartog in verbinding.





















