Bestuur die siekte só

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
ILLUSTRASIE: ISTOCK
ILLUSTRASIE: ISTOCK

November is Nasionale Diabe­tes­bewus­makings- maand. Dis 'n poging om meer te doen om hierdie voor­kom­bare gesondheidskrisis te keer.

Diabetes is 'n kroniese siekte wat miljoene mense wêreldwyd raak. Volgens die Internasionale Diabetesfederasie leef ongeveer 537 miljoen volwassenes wêreldwyd met diabetes, van wie 44% ongediagnoseerd is.

Diabetes word gekenmerk deur hoë bloedsuikervlakke en kan ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak as dit nie behoorlik bestuur word.

Wat is diabetes?

Diabetes is 'n kroniese siekte wat ontstaan wanneer die liggaam nie genoeg insulien produseer of nie doeltreffend insulien gebruik nie.

Insulien is 'n hormoon wat glukose (suiker) uit die bloedstroom na die selle vervoer, waar dit as energie gebruik word. Die twee hooftipes diabetes staan bekend as tipe 1-diabetes en tipe 2-diabetes.

Met tipe 1-diabetes stel die pan­kreas te min of geen insulien vry in die liggaam. Dit is 'n outo-immuunsiekte wat gewoonlik vanaf kinderdae of skielik ge­durende die volwasse jare ontstaan. Insulienbehandeling is nodig­ om die onvoldoende insulien in die liggaam te vervang. Met tipe 2-diabetes word daar nie genoeg insulien deur die pankreas vrygestel nie, of die liggaam is weerstandig om insulien te vervaardig.

Dit ontwikkel gewoonlik sta­diger en meestal gedurende die volwasse jare, maar nie eksklusief dan nie.

Bydraende faktore, soos as jy oorgewig is, 'n groter middelomtrek (meer as 88 cm vir vroue en meer as 102 cm vir mans) en swak eetgewoontes het, tesame met vooraf gediagnoseerde kroniese toestande soos hoë cholesterol en hipertensie (hoë bloeddruk), kan die ontwikkeling van diabetes bespoedig.

By albei tipes diabetes bou glukose in die bloedstroom op omdat dit nie in die selle opgeneem word nie.

Oor 'n tydperk kan hierdie hoë glukosevlakke in die bloed ernstige skade aan jou hart, oë, voete en niere verrig. Met vroeë diag­nose en die korrekte mediese behandeling kan enigeen by wie diabetes gediagnoseer is egter 'n gesonde lewe lei.

Dis wel belangrik om gewig af te skud, aktief te wees en 'n gesonde eetplan te volg wat deur 'n dieetkundige uitgewerk kan word vir optimale bestuur van jou diabetes-diagnose. - Barnard is 'n geregistreerde dieet­kundige van KwaZulu-Natal.

Gesonde en praktiese voedselopsies vir diabete

In plaas van:

  • Versoete muesli met droëvrugte waarby ekstra suiker gevoeg is
  • Karringmelk- of sjokoladebeskuit
  • Gekoopte muffins met sjokoladesplinters in
  • Witbrood, skons of vetkoek
  • Konfyt of stroop op roosterbrood
  • Geblikte vrugte in stroop
  • Geglasuurde- of droëvrugte
  • Versoete koeldranke
  • Koffie en tee met suiker bygevoeg
  • Versoete grondboontjie- of neutbotter
  • Gesoute neute
  • Verwerkte vleise
  • Roomkaassmeer
  • Gebakte aartappels of skyfies
  • Versoete groentes met roomsouse

Vervang dit met:

  • Onversoete muesli of hawermoutpap
  • Lae-GI- of volgraanbeskuit
  • Tuisgemaakte volgraanmuffins, met appelpuree of piesang bygevoeg om te versoet, en minder suiker
  • Lae-GI-, volgraan- of bruinbrood
  • Gekookte eier op geroosterde volgraan­brood
  • Geblikte vrugte in vrugtesap
  • Vars vrugte
  • Stil of bruiswater wat versoeters bevat, maar geen suiker nie
  • Koffie en tee sonder suiker of met versoeters bygevoeg
  • Suikervrye grondboontjie- of neutbotter
  • Ongesoute neute en sade
  • Boontjies en lensies
  • Hummus of guacamole
  • Gekookte baba-aartappels of oondgebakte patatskyfies
Jandri Barnard

SPELETJIES VANDAG

CTA