Leef

Wanneer diabetes jou sig beïnvloed

Anatomiese deursnit van die oog wat die effek van diabetes op die natuurlike lens toon. Die illustrasie dui die progressiewe vertroebeling van die lens aan (katarakte) wat ontstaan wanneer verhoogde glukosevlakke die lens laat swel en opasifiseer. Die beeld toon ook die oog se dreinasiestelsel wat by gloukoom geaffekteer kan word. Glukosemolekules op die agtergrond simboliseer hoe diabetes elke deel van die oog infiltreer en tot hierdie komplikasies lei.
Anatomiese deursnit van die oog wat die effek van diabetes op die natuurlike lens toon. Die illustrasie dui die progressiewe vertroebeling van die lens aan (katarakte) wat ontstaan wanneer verhoogde glukosevlakke die lens laat swel en opasifiseer. Die beeld toon ook die oog se dreinasiestelsel wat by gloukoom geaffekteer kan word. Glukosemolekules op die agtergrond simboliseer hoe diabetes elke deel van die oog infiltreer en tot hierdie komplikasies lei. (TOQAN KI)

Dr. Frikkie Hartog, ’n oftalmoloog, deel sy kennis oor hoe diabetes jou lense beïnvloed, waarom jou leesbril elke dag anders voel wanneer jou suiker hoog is, en hoe moderne behandeling diabete se lewensgehalte kan terugbesorg.

Diabetes raak veel meer as net bloedglukosevlakke – dit kan jou sig stilweg ondermyn. Die werklikheid is dat diabetes nie net die klein bloedvatjies in jou retina aantas nie – hoë glukosevlakke infiltreer elke deel van jou oog, van die natuurlike lens wat katarakte vorm, tot die dreinasiestelsel wat tot gloukoom kan lei.

Die goeie nuus?

Moderne oogchirurgie het dramaties verbeter, en met die regte voorsorgmaatreëls kan selfs diabete uitstekende resultate verwag.

Hoekom ontwikkel mense met diabetes vroeër en vinniger katarakte as dié sonder die toestand?

Die hoë glukosevlakke geassosieer met diabetes beteken dat die glukosevlakke ook in die oog verhoog. Die glukose dring die natuurlike lens binne en veroorsaak ’n swelling van die lens. Die gevolg is dat die lens met tydsverloop opasifiseer en verdof. Diabete ontwikkel dus vinniger en op ’n vroeër ouderdom katarakte.

Watter rol speel langdurige hoë bloedsuikervlakke in die vertroebeling van die lens?

Op kort termyn veroorsaak die verhoogde glukosevlakke swelling van die lens, en varieer die diabeet se brilfout.

Hulle sal dikwels sukkel met lees wanneer die glukosevlakke hoog is, maar dit keer dikwels om wanneer die glukosevlakke verlaag. Op lang termyn veroorsaak die swelling van die lens egter ’n permanente verdowwing van die lens.

Kan verhoogde oogdruk of gloukoom by diabetiese pasiënte voorkom sonder enige duidelike simptome — en hoe kan dit betyds opgespoor word?

Gloukoom veroorsaak aanvanklik skade aan ’n persoon se perifere visie, en die skade word dus dikwels eers laat waargeneem wanneer die sentrale visie ook geaffekteer word. Daar is meestal geen waarskuwingsimptome nie, en dit is dus belangrik dat risikopasiënte gereeld ’n oftalmoloog sien om gloukoom vroeg te diagnoseer vóór betekenisvolle skade plaasvind.

Hoe gereeld behoort ’n persoon met diabetes hul oogdruk te laat toets?

’n Jaarlikse ondersoek is aangedui vir hoërisiko- pasiënte, maar jou oftalmoloog sal jou opvolger skeduleer volgens die risiko.

Hoe beïnvloed diabetes die hersteltyd en sukses van katarakchirurgie, en word spesiale voorsorgmaatreëls getref voor die operasie?

Diabetes beïnvloed nie die herstel ná ’n katarakprosedure betekenisvol nie, maar diabete het wel ’n hoër risiko vir komplikasies soos swelling van die fynkyk van die oog. In diabete wat jare lank swak gekontroleerd was, is daar egter dikwels baie bydraende faktore wat die uitkoms van ’n prosedure nadelig beïnvloed.

Is daar ’n groter risiko vir infeksie of stadiger genesing ná oogchirurgie by mense met diabetes?

In die algemeen is daar ’n groter risiko vir infeksies en swak genesing, maar dit is hoofsaaklik in swak gekontroleerde diabete.

Hoe kan pasiënte hul oë beter beskerm voor en ná chirurgie — veral wat dieet, medikasie en opvolgondersoeke betref?

Diabete het ’n hoë risiko om oogprobleme te ontwikkel soos katarakte, gloukoom asook bloedings agter in die oë. Die belangrikste risikofaktore is hoe lank hulle al diabetiese behandeling ontvang, en die kontrole van die glukosevlakke. So, al is hulle glukosekontrole goed, kan hulle dikwels ná baie jare wel behandeling benodig vir oogprobleme. Indien diabete hulle glukosevlakke goed kontroleer vertraag hulle nie net die moontlike ontwikkeling van die komplikasies nie, maar indien hulle wel oogprobleme ontwikkel, is die behandeling baie meer suksesvol.

Hoe help nuwe chirurgiese tegnieke of lensinplantasies om siggehalte te verbeter by diabetiese pasiënte met katarakte?

Moderne katarakprosedures is ’n klein (minor) prosedure wat baie vinnig genees en dus is die prosedure baie veilig in diabete. Verder word die prosedure soms gekombineer met nie-indringende gloukoomprosedures. Nuwe dreinasieprosedures vir gloukoom se sukses is ook baie beter en is minder indringend. Die gebruik van spesifieke middels wat die groei van abnormale bloedvate voorkom, het die behandeling van diabetiese komplikasies, asook die sukses van prosedures, baie verbeter.

Watter algemene raad sou jy gee aan mense met diabetes om hul oë vir die lang termyn gesond te hou — selfs as hulle nog geen simptome het nie?

Die belangrikste voorkomende maatreël is om die glukosevlakke nou te kontroleer. Verder help ’n gesonde dieet en oefening nie net om die glukosevlakke te beheer nie, maar beskerm die oë teen toestande soos makulêre degenerasie. ’n Gesonde dieet wat vis sowel as groente insluit, is baie belangrik, andersins kan die gebruik van spesifieke vitamienes oorweeg word.