Welstand

Dermgesondheid: Rooibos en jogurt kan help

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

In die strewe na algehele welstand is dermgesondheid een aspek wat dikwels oor die hoof gesien word. Dit is egter vinnig besig om 'n baie gewilde onderwerp te word, aangesien mense merkwaardige veranderinge in hul gesondheid sien wanneer hulle net 'n paar dinge in hul dieet aanpas.

'n Gebalanseerde dermmikrobioom is noodsaaklik vir ver­tering, absorpsie van voedingstowwe, bevorder derm-brein­gesondheid en helderheid, speel 'n rol in ons immuunstelsel en hormonale funksionering sowel as ons velgesondheid.

Dr. Hanel Sadie-Van Gijsen, 'n senior navorser by die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika (Carma) in die afdeling mediese fisiologie aan die Universiteit Stellenbosch, sê onlangse studies het getoon dat rooibos verskeie aspekte van dermgesondheid en vertering kan verbeter, terwyl dit inflammasie en ongemak verlig.

Sy sê een van die mees prominente tradisionele gebruike van rooibos was om 'n verskeidenheid maag- en dermkwale te behandel, maar die wetenskaplike basis hiervoor is tot onlangs toe nog nie in besonderhede bestudeer nie.

Onlangse studies wat egter deur die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), die Suid-Afrikaanse Mediese Ver­eniging (SAMV) en die Kaapse Skier­eiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) gedoen is, saam met ander internasionale navorsingsentrums wat op voeding, mikrobiologie en gesondheidswetenskap fokus, demonstreer almal 'n verskeidenheid aksies wat rooibos in die derm uitoefen wat nie net vertering aanhelp nie, maar ook algemene gesondheid verbeter en met siektebestuur help.

Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Die dermmikrobioom is die versamelnaam vir al die mikro-organismes wat in ons spysverteringstelsel woon, maar hulle woon meestal in die kolon (dikderm).

Sadie-Van Gijsen sê hoewel die dermmikrobioom tegnies nie 'n fisieke deel van ons liggaam is nie, is die funksie daarvan so deurslaggewend vir ons gesondheid en welstand dat ons dit as deel van ons liggaam moet beskou en dit dienooreenkomstig moet versorg.

" 'n Gesonde dermmikrobioom help ons om voedingstowwe doeltreffend uit ons kos te onttrek, dit help met ons immuunrespons, ondersteun die dermversperringsfunksie, verminder dermontsteking, verbeter metaboliese funksie en beskerm selfs ons breingesondheid.

"Rooibos, wat ryk is aan polifenol­ - 'n groot familie van plantaardige bioaktiewe verbindings - het 'n bewese prebiotiese effek, wat die groei van voor­delige dermbakterieë ondersteun, terwyl die dermbalans herstel en behou word.

"Polifenol in rooibos het 'n dubbele voordeel deurdat dit die groei van skadelike dermbakterieë inhibeer en die groei van voordelige dermbakterieë stimuleer. Daar is ook getoon dat hierdie prebiotiese effek van rooibos se polifenol bloedmerkers van inflammasie verminder en dus die risiko van siekte verlaag.

"Behalwe vir die uitwerking van rooibos op dermbakterieë, het die tisaan (kruietee) verskeie ander voordelige effekte in die derm.

"Navorsing aan UKZN het getoon dat warmwateraftreksels wat uit gefermenteerde (rooi) rooibosteesakkies berei is (in wese hoe ons 'n koppie tee by die huis sou maak) die opname van glukose deur die ingewande belemmer het. Hierdie aksie kan help met bloedglukosebeheer.

"Danksy werk wat in Indië gedoen is, is bevind dat orientien, 'n polifenol wat in sowel groen as gefermenteerde rooibos voorkom, chemies geïnduseerde kolorektale kanker by muise suksesvol geïnhibeer het.

"Ander studies het getoon dat gefermenteerde rooibos 'n kramp- en diarree-werende uitwerking het, deur die aksies van kalium- en kalsiumione in die derm te balanseer en sodoende gladdespierverslapping te verkry. Rooibos verminder ook die vrystelling van dermvloeistof om diarree te verlig," sê Sadie-Van Gijsen.

Sy sê namate die veld van dermgesondheid en probiotika/prebiotika aanhou ontwikkel, sal meer navorsing oor rooibos se aksies in die derm en mikrobiota voortbou op die bestaande bewyse, wat daarop dui dat rooibos veilig deur volwassenes en kinders verteer kan word as 'n daaglikse ondersteuning vir dermgesondheid, in kombinasie met 'n gebalanseerde dieet en gesonde leefstylpraktyke.

Voordele van rooibos

  • Anti-inflammatoriese eienskappe: Rooibos bevat polifenol soos flavonoïede en dihidrochalkone wat oor anti-inflammatoriese eienskappe beskik. Die verbindings kan help om inflammasie in die spysverteringskanaal te verminder, wat moontlik spysverteringsongemak verlig.
  • Antioksidant-effekte: Die antioksidante wat in rooibos voorkom, soos kwersetien en aspalatien (in groen rooibos), kan help om skadelike vrye radikale in die liggaam te neutraliseer. Deur oksidatiewe stres te verminder, kan die tisaan tot algehele derm­gesond­heid bydra.
  • Prebiotiese potensiaal: Rooibos se bioaktiewe verbindings dien as prebiotika­, wat die groei en aktiwiteit van voordelige dermbakterieë ondersteun. Dit kan tot 'n gesonder dermmikrobioom bydra en algehele metaboliese gesondheid verbeter.
  • Verlig maagongemak: Rooibos het krampwerende (antispasmodic) eienskappe, wat beteken dit kan krampe van die maag en ingewande verlig. Omdat dit kafeïenvry is, normaliseer rooibos ook die vrystelling van dermvloeistof, en saam met sy prebiotiese effek kan hierdie aksies help om diarree te verlig.
  • Geen oksaalsuur nie: Anders as sommige ander tee, bevat rooibos nie oksaalsuur nie, wat in oormatige hoeveelhede tot nierstene kan bydra of met mineraalabsorpsie kan inmeng. Hierdie afwesigheid maak dit 'n gunstige keuse vir diegene wat bekommerd oor hierdie kwessies is.

Jogurt goed vir dermgesondheid

Soos ander suiwelprodukte is jogurt­ 'n veelsydige voedsel met 'n unieke en spesiale voedingsprofiel. Dit bied nie net proteïen van hoë gehalte nie, maar is ook 'n bron van noodsaaklike mikro-voedingstowwe soos kalsium en magnesium, fosfor, kalium en sink, sowel as vitamiene A, B12 en B2.

Jogurtproduksie behels die fermentasie van melk met behulp van voordelige bakterieë, Lactobacillus bulgaricus en Streptococcus thermophilus, waarna verwys word as "lewende kulture".

Hierdie mikro-organismes, ook bekend as vriendelike bak­terieë, is die steunpilaar van jou dermgesondheid, ondersteun immuun­funksie en beïnvloed jou bui. Die probiotiese effek van jogurt­ bevorder ook vertering.

Jogurt en rooibos kan help met dermgesondheid, meen kenners.
Jogurt en rooibos kan help met dermgesondheid, meen kenners.

Volgens Monique Piderit, 'n geregistreerde dieetkundige, is daar 'n groot reeks studies wat getuig van die positiewe impak van die gereelde verbruik van jogurt­.

"Die land se voedselgebaseerde dieetriglyne beveel daaglikse verbruik van jogurt, melk en maas aan. By die maak van jogurt word die laktose in melk tydens­ fermentasie in melksuur afgebreek. Dit verminder die laktose-inhoud van die jogurt­inhoud en beteken dat selfs diegene met laktose-intoleransie dit veilig kan inneem. Die spesiale jogurtfermentasieproses verbeter ook produkraklewe en voedselveiligheid," sê Piderit.

Suid-Afrikaanse verbruikers het 'n groot keuse wanneer dit by jogurt kom, waaronder ongegeurde of gegeurde jogurt, Griekse-styl- of dubbelroomjogurt, en jogurt vir kinders, sowel as jogurts waarvan die inhoud verskillende vetpersentasies bevat.

Plaaslike en internasionale studies toon dat die gereelde inname van jogurt die risiko van vetsug, tipe 2-diabetes, hipertensie en kardiovaskulêre siektes kan verlaag.

Wanneer dit kom by die ondersteuning van dermgesondheid, kan gereelde inname van jogurt 'n verskil maak in die verhoging van mikrobiese diversiteit en die vermindering van chroniese inflammasie wat 'n verreikende uitwerking op jou liggaam se algehele veerkragtigheid en jou geestelike welstand kan hê.

Verhoog jogurt-inname met hierdie happies

  • Jogurt-parfait: Maak lae met jogurt, vars vrugte en granola bo-op met gekapte kruisement vir 'n voedsame ontbyt of versnapering.
  • Jogurt en 'n vrugteskommel: Meng jogurt met jou keuse van seisoenale vrugte. Skep om die beurt lae neute, sade en heuning bo-op die jogurt-en-vrugte-mengsel vir 'n verfrissende en bevredigende maaltyd.
  • Pikante Griekse-jogurt-doopsous: Meng Griekse jogurt of dubbelroomjogurt met kruie en voeg jou gunstelingspeserye soos komyn en gerookte paprika by, asook brandrissies, fyngedrukte knoffel en 'n tikkie lemmetjiesap vir 'n geurige doopsous. Geniet saam met groente-crudités soos komkommerwiggies, seldery­stingels, wortelstokkies of babatamaties.
  • Jogurtskommeldrankie: Meng gewone jogurt, 'n bietjie heuning en enige vrugte, soos appel- of piesangskywe, of bessies saam. Hierdie voedsame skommeldrankie is perfek as 'n wegneem- ontbyt­, vir jou skool- en werk-kosblik of bloot as 'n gesonde versnapering.
  • Luister hier na 'n podsending oor dermgesondheid.

GEBORG

Phytoceutics

Bettergut® - Jou antwoord vir 'n gelukkiger, gesonder dermkanaal. Bettergut® is 'n innoverende voor- en nabiotika wat butiraat in die dermkanaal help genereer. Daar is bewys dat butiraat dermgesondheid verbeter en vele liggaamsfunksies optimaliseer.

Hierdie unieke formule bevorder gesondheid en is veral voordelig vir diegene wat sukkel met 'n lekkende derm, inflammasie van die dermkanaal, allergieë, voedselonverdraagsaamheid en swak immuniteit.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM