Rooibos is besig om sterk na vore te tree in die mark vir kruie en botaniese ekstrakte waarvoor die aanvraag wêreldwyd tans 'n opbloei beleef.
Die mark vir kruie en botaniese ekstrakte word geprojekteer om tussen nou en 2030 jaarliks met 5,5% te groei tot 'n waarde van $54,2 miljard, blyk uit 'n verklaring van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad.
"Rooibos, wat bekend is vir sy veelsydigheid en gesondheidsvoordele soos sy ondersteuning van hartgesondheid, bystand in die hantering van stres en spysvertering, is besig om beduidende vordering in die mark te maak en bestendig 'n merkbare speler in die globale bedryf vir ekstrakte te word."
Adele du Toit, woordvoerder van die Rooibosraad, sê meer as die helfte van globale verbruikers wil nou produkte hê wat botaniese ekstrakte bevat. Dit word aangedryf deur 'n skuif na natuurlike bestanddele, toenemende gesondheidsbewustheid en 'n groeiende voorkeur vir funksionele kos, drank en skoon velsorg.
"Makro-ekonomiese faktore soos stygende besteebare inkomste, vordering in biotegnologie en 'n verouderende bevolking dryf die opwelling verder aan," voeg sy by.
"Die mark vir groen rooibos-ekstrak alleen met 'n geraamde huidige waarde van sowat $141 miljoen, word geprojekteer om teen 'n saamgestelde jaarlikse koers van 6,3% in die volgende vyf jaar te groei en 'n geraamde waarde van $227 miljoen - 'n belowende vooruitsig - te bereik."
Rooibos, wat inheems aan Suid-Afrika is, se ekstrak word in verskeie sektore gebruik soos kos en drank, grimering en in gesondheidsaanvullings. "Dié vinnig groeiende mark is nie net 'n hupstoot vir rooibos se ekonomiese belang nie, maar posisioneer Suid-Afrika ook as 'n belangrike speler in globale landbou en handel."
Rooibos-ekstrakte is in wese gekonsentreerde weergawes van die rooibosplant, sê Du Toit.
Die bioaktiewe samestellings word onttrek van die gesuiwerde rooibosblare en -stingels deur dit in warm water te week. Die oplossing ondergaan verdere verwerking en lewer uiteindelik 'n hoogs gekonsentreerde rooibos-ekstrak wat tot in 'n fyn poeier gedroog word. Antioksidante word verder by die ekstrak gevoeg wat verskeie gesondheidsvoordele inhou.
Rooibos-ekstrakte word na streke waaronder Europa, Asië, Noord-Amerika, Australië en Nieu-Seeland uitgevoer.
Die aanvraag vir rooibos-ekstrakte weerspieël volgens Du Toit 'n breër tendens na natuurlike, volhoubare bestanddele.
Te midde van die mark vir rooibos-ekstrak wat op 'n opwaartse trajek is, bied uitdagings soos klimaatsverandering en stygende produksiekoste risiko's. Die bedryf pas egter aan deur navorsing na droogtebestande landboumetodes en volhoubare oestegnieke.




















