Was dit nie vir 'n Victoriaanse ou met 'n geroeste pistool, wolwange en 'n vlegsel nie, het ons dalk nie vandag tee gedrink nie, skryf Ilse Zietsman.

Ene Robert Fortune is in 1848 deur die Britse Oos-Indiese Kompanjie gevra om in die geheim 'n reis na die binneland van China te onderneem om hul dig bewaarde geheime van tee, soos wat die Britte daarvan hou, te steel.
Fortune was 'n Skotse tuinier, botanis, plantjagter en nywerheidspioen, volgens die beskrywing in For All the Tea in China deur Sarah Rose. Destyds het al die tee in die wêreld van China gekom. Brittanje, 'n nasie van entoesiastiese (indien nie fanatiese) teedrinkers, kon nie die gehalte of prys beheer nie. Boonop was die binneland van China verbode vir vreemdelinge of inkommers.
Fortune het homself in 'n Mandarynse uitrusting vermom en die Chinese binneland ingevaar. Hy moes seerowers, 'n ongenaakbare klimaat en sy eie manskappe wat hom in die steek gelaat het konfronteer terwyl hy sy weg na die afgeleë Fujian-, Guangdong- en Jiangsu-provinsie gevind het.
Voor Fortune se geslaagde ekspedisie het Engeland handel gedryf met China deur opium in ruil vir tee te stuur. Dit het mettertyd tot 'n redelike relletjie gelei. Die Chinese keiser was natuurlik gekant daarteen dat al die opium wat sy ryk binnegekom het besig was om 'n volk van dwelmverslaafdes te skep. Hy het dus al die opium laat vernietig. Die Engelse se teenreaksie was om oorlogskepe na China te stuur.
Die Britte het gaandeweg besluit die enigste uitweg was om self teeplantasies in Indië, toe nog 'n Britse kolonie, te vestig. Vandaar die opdrag aan Fortune, wat toe wel geslaag het om sade vanaf China tot in Indië te kry.
Die uitwerking daarvan op die teehandel was geweldig groot. In Fortune se leeftyd het Indië China verbygesteek as die wêreld se grootste teeprodusent.
'n Towersleutel
Volgens oorlewering het tee 4 500 jaar gelede in China ontstaan. Die mitologiese keiser Shennong het toevallig ontdek dat 'n mens tee kan drink toe 'n windjie teeblare van die plant Camellia sinensis in sy koppie kookwater laat beland het.
Tydens 'n klandestiene besoek aan 'n teefabriek in 1848 het Fortune teen die muur dié poëtiese boodskap in kalligrafie gelees:
"Die beste gehalte tee moet hê
plooie soos dié van leerstewels van Tartaarse perderuiters
voue maak soos die nekvel van 'n magtige bul,
ontvou soos mis wat uit 'n kloof rys,
blink soos 'n meer wat deur 'n sefier aangeraak word,
sag soos die aarde wat pas deur reën deurweek is."
Die invloedryke Russiese skrywer Tolstoi het eenmaal gesê: "Ek moet baie tee drink anders kan ek nie werk nie. Dit ontketen die potensiaal wat in die dieptes van my siel sluimer."
Die Britse kinderboekskrywer Frances Hardinge het gemeen "tee is die towersleutel tot die kluis waar my brein woon".

Of jy nou slaafs tee drink soos die Engelse of soos die Chinese, of net 'n koppie hier en daar, een ding is waar: Tee laat jou beter voel.
Dink maar aan begrafnistee. Saam met die koppie troostee kry jy dit sommer reg om al jou emosie afgeskud te kry, sê 'n rooikopvriendin wat juis nie daarvan hou om haar gevoelens te wys nie. En dink aan daardie eerste vertroostende koppie tee in die hospitaal ná 'n operasie . . .
As jy ooit skoolgegee het, sal jy weet watter lafenis 'n koppie tee in die personeelkamer tydens pouse bied, ná 'n handvol ellelange periodes en voor jy weer voor 'n klas kinders staan.
Tee, terug by jou lessenaar ná 'n lang, vermoeiende vergadering. Of sommer net as jy van die werk af kom en op die rusbank neerplons.
Hogere tee
Dan's daar die bederf van deftige middagtee wat jy met 'n pinkie in die lug drink. Kompleet met southappies soos komkommertoebroodjies (korsies afgesny) en gevulde eiers. Daarby soethappies soos skons met aarbeikonfyt en geklopte room, kaas- of sjokoladekoek, vlaskywe en yskastert. Almal om die tafel in hul beste klere uitgevat en tog te lekker aan die klets. Met 'n bietjie skinder bygeroer.
Dan daardie laaste koppie tee van die dag, voor slaaptyd in die bed, natuurlik met 'n boek byderhand. Die Britse skrywer en letterkundige C.S. Lewis het eenmaal gesê: "Jy kan nooit 'n koppie tee groot genoeg of 'n boek lank genoeg kry om my te bevredig nie."
Dink aan die saligheid wanneer jy jou hande om 'n warm teekoppie vou terwyl jy die reëndruppels buite hoor val. Wie onthou nog die Mazawattee-teeblik uit vergange se dae, wat jou sommer lus maak om nou 'n tuisgemaakte koekie in 'n teetjie te druk?
Nie tasaterwater nie
In die wêreld van kinderliteratuur word tee ook nie agterweë gelaat nie, al is daar ouvroustories wat lui dat kinders vlooie in hul maag sal kry as hulle tee drink.
In Alice in Wonderland droom Alice hoe sy 'n bisarre teepartytjie bywoon waar sy saam met die Mad Hatter en die March Hare aan die tafel sit. Ná 'n rusie oor of sy nóg tee wil hê nadat sy nog nie 'n druppel oor haar lippe gehad het nie en 'n klomp raaisels wat sy nie verstaan nie, verklaar sy dat die teepartytjie sommer simpel is. Sy moet toekyk hoe die ander gaste die muis in die teepot probeer prop, die horlosie se wysers staan op sesuur en wil nie aanstap nie en sy word wyn aangebied, maar daar is nie eers wyn nie.
Simpel of nie, sedertdien bly teepartytjies geskoei op die Alice in Wonderland-tema gewild. Om kroukie by so 'n geleentheid te speel is nie verpligtend nie, maar as jy dit wel doen, behoed jou om 'n lewendige flamink as houthamer in te span, soos wat die karakters in Wonderland doen. Hang eerder 'n kandelaar in 'n boom, dek jou tafel met teepotte en -koppies van verskillende groottes, gebruik klein en groot stoele en rusbanke, en draai jou muurhorlosie se wysers na sesuur.
Dalk die heel bekendste tee-aanhaling is van niemand anders nie as Peter Pan wat vir sy medeavonturiers vra: "Is jy lus vir 'n avontuur of wil jy eers tee drink?"
As die geliefde beertjie Winnie the Pooh 'n slegte dag gehad het, het sy maatjie vir hom tee en heuning aangedra totdat hy weer soos sy ou selwers gevoel het.
Vanmelewe se mense het mos gesê: In die lewe het jy deursettingsvermoë nodig. En tee.
Moet net nie die tee vergeet nie. Sterk tee, nie tasaterwater nie.
- Aanvullende bronne: storiesabouttea.com en atlasobscura.com.
- Zietsman is 'n vryskutskrywer van die Paarl.
In 'n teekoppie
- Tee is die vloeistof wat die meeste in die wêreld gedrink word;
- Turkye is die land waar die meeste tee gedrink word. Hulle verbruik meer as 3 kg tee per persoon per jaar;
- In Marokko is pepermenttee gewild, in Egipte hibiskustee, in Turkye appeltee, asook granaat- en roostee, en in Japan matsja-tee. Die nasionale drankie van Indië is chai, 'n swart tee gegeur met gemmer, neutmuskaat, kaneel, swartpeper, kardemom en naeltjies. Verkopers van chai word chaiwallahs genoem. Dan is daar natuurlik ons eie rooibostee;
- Volgens die UK Tea & Infusions Association is daar sowat 1 500 verskillende kultivars tee ter wêreld;
- Die raarste tee op die planeet is Yellow Gold Tea Buds van Singapoer. Dit word met spesiale goue snoeiskêrtjies geoes en daarna word die teeblare met die hand met regte eetbare 24-karaat-goud geverf. Dis dus geen wonder dis ook een van die duurste soorte tee wat beskikbaar is nie. Dié wat weet (en dit kan bekostig) reken die tee het 'n blommerige, metaalagtige smaak;
- In Taiwan word teegegeurde roomys op straat verkoop;
- In die ooste van die Himalajas word tee(blare) geëet eerder as gedrink. Dit word in piesangblare gestoom waarna die blaarpakkies vir maande in ondergrondse putte gestoor word. Dié gepiekelde teeblare word gebruik om 'n tipe bredie, roerbraai of Birmaanse teeslaai te maak.



















