Die Eye Surface Profiler is 'n baanbrekende hulpmiddel wat 'n nuwe era in oogtopografie inlui. Dié tegnologie is veral nuttig vir die ontwerp van sklerale kontaklense, wat ideaal is vir pasiënte met uitdagende korneale toestande.
Paul Rademeyer, 'n oogkundige by Weldon Optical in George, vertel hulle is die eerste praktyk in Suid-Afrika wat 'n ESP geïnstalleer het en verduidelik meer oor die nuwe tegnologie.
Wat is die Eye Surface Profiler?
Die Eye Surface Profiler (ESP) verteenwoordig 'n nuwe era in topografie en korneo-sklerale profilometrie (die neem van mates van die voorste oppervlak van die oog). Dit word ingespan om die perfekte passende kontaklens te ontwerp vir enige kornea.
Die ESP neem in 'n enkele foto 500 000 datapunte van die voorkant van die oog. Gevorderde algoritmes verwerk dan hierdie datapunte en rekonstrueer 'n driedimensionele model van die voorkant van die oog (kornea en sklera). Die model word dan gebruik vir die ontwerp van enige kontaklens, sag, hard en hibried, maar veral sklerale kontaklense.
Sklerale kontaklense is gespesialiseerde harde kontaklense vir moeilike of beskadigde korneas wat terapeuties die distorsies van die kornea uitwis en uitstekende visie en gemak bied. Geen ander instrument in Suid-Afrika kan hierdie akkurate lesings oor die hele oppervlak van die voorkant van die oog ewenaar nie.
In watter kliniese situasies of oogtoestande is die ESP veral nuttig?
Enige pasiënt met 'n korneale defek kan doeltreffend met die ESP-tegnologie gehelp word. Dit sluit in keratokonus, korneale oorplantings, hoë astigmatisme, droë oë en deursigtige marginale degenerasie (pellucid marginal degeneration). Pasiënte met enige van hierdie toestande benodig almal gespesialiseerde kontaklense. Deur die unieke kontoere van elke pasiënt se oog akkuraat vas te vang, kan daar 'n perfekte passende kontaklens verseker word wat die sig en gemak aansienlik verbeter.
Hoe verbeter die ESP die behandelingsplan vir pasiënte met korneale onreëlmatighede?
Tot nou moes daar fisies verskillende lense op die oog gepas word, maar met die ESP word dit virtueel gedoen en daar word dikwels net een toets-lens op die oog gepas voordat die regte lens(e) bestel word.
Wat die ESP uniek maak, is hoe dit met behulp van kunsmatige intelligensie pasgemaakte kontaklense kan ontwerp. Die ESP-databasis bevat al die kontaklens-afmetings van meer as 30 internasionale laboratoriums wat dan virtueel op die oog gepas word.
Dit verseker dat die lens absoluut perfek pas, sonder dat verskeie kontaklense op die oog gepas hoef te word.
Hierdie tegnologie gee ons toegang tot meer as 50 internasionale kontaklense om van te kies.
Wat is die voordele?
Dit bespaar tyd en gee ongeëwenaarde akkuraatheid. Omdat lense nou individueel vir elke oog gemaak word, is daar soveel meer opsies moontlik ten opsigte van materiaal, grootte en kurwes om die kontaklens met die verwronge kurwes van die kornea perfek op te lyn. Soveel minder in-stoel-tyd is nodig om by die finale lense uit te kom.
Is daar enige beperkings of uitdagings verbonde aan die gebruik van die ESP in praktyk?
Geduld met die neem van die foto's is belangrik om goeie skanderings te verseker.
Die koste van ingevoerde lense is ook 'n faktor. Baie mediese fondse sien steeds nie sklerale lense as 'n okulêre prostese nie en betaal net 'n gedeelte van die koste. Daar is egter ook Suid-Afrikaanse sklerale lense waarvan gekies kan word en verskeie betaalopsies is beskikbaar wat bespreek kan word.
GEBORG
Weldon Optical

Die Eye Surface Profiler (ESP) is 'n revolusionêre instrument wat presies die vorm van die oog meet. Dit maak dit moontlik om pasgemaakte kontaklense te ontwerp, veral vir pasiënte met onreëlmatige korneas. Weldon Optical in George is die eerste praktyk in Suid-Afrika met hierdie tegnologie, wat meer akkurate en gemaklike kontaklense vir pasiënte beteken.





















