Gesond: Lag = energie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie Getty Images
Illustrasie Getty Images

Niemand kan stry dat Kamala Harris se toetrede tot die Yanks se presidentsverkiesing nuwe lewe in die eens lustelose wedloop geblaas het nie. Dis 'n feit, al seëvier wie ook al uiteindelik. (Toe SARIE drukkers toe gegaan het, was dit nog in die skoot van die gode.)

Kamala Harris. Foto: Getty Images/Gallo Images
Kamala Harris. Foto: Getty Images/Gallo Images

Met haar Beyoncé-klankbaan en uitbundige lag het sy die lae-energie-spel verbreek.

In die plek van Joe Biden, die skuifelende president met die fluisterstem, was daar nou brat- en kokosneut-meme, rumoerige saamtrekke en kwinkslae oor die opposisie se kaskenades met 'n rusbank.

Van daardie energie is waarskynlik gegenereer deur Kamala se bereidwilligheid om in die openbaar vreugdevol te wees, volgens sielkundiges Gabriela Khazanov en Courtney Forbes in Psychology Today.

"Ons ignoreer of onderskat dikwels die krag van positiewe emosies, veral wanneer ons nie gewoond is om dit te beleef nie."

Já, sê die aktrise en komediant Margit Meyer-Rödenbeck.

"Sodra jy begin lag, of 'n groep vriende sit en lag - veral by die werk - versnel jou ritme. Dit gee jou energie. Jou brein skei dan al daai endorfiene af wat ons nodig het om gelukkig te voel. As jy huil, raak jy melancholies, jy sink." Soos 'n klip.

Marlene le Roux van Kaapstad se Kunstekaap-teater, jy hóór haar lag lank voor jy haar sien. Ook die radio- en televisiepersoonlikheid Tracey Lange is alombekend vir haar lekker lag, volgens Margit.

Lag was 'n intrinsieke deel van Kamala se veldtog. Vir baie mense is haar aansteeklike lag 'n gerusstellende teken van haar menslikheid.

Haar humor gebruik sy as 'n nuttige wapen, tot groot ergernis van Donald Trump.

Lag is aantreklik, dit trek mense na jou toe aan. Iemand wat uitbundig lag, skep 'n warm atmosfeer.

Donald en sy bende verwys snedig na haar as "laggende Kamala" en sê sy is so mal soos 'n haas, heeltemal koekoes. Terwyl hulle skarrel vir 'n strategie wat die glimlag van haar gesig sal afvee. Want kyk, haar opgeruimdheid is ook 'n vorm van kommunikasie.

"Kyk hoe jolig is dit aan my kant. Kom liefs hiernatoe . . ."

Die komediant Schalk Bezuidenhout verduidelik dit só: "Lag is aantreklik, dit trek mense na jou toe aan. Iemand wat uitbundig lag, skep 'n warm atmosfeer. As jy vreemd by 'n kuier of braai is en daar is iemand wat lekker lag, wil jy met hom gesels, eerder as met die stug ou." (Hoor jy, Donald?)

Ditsem, sê die aktrise Lizz Meiring, wie se bekkigheid welbekend is. Mense voel inderdaad meer aangetrokke tot iemand wat gelukkig en jollie is.

Die Griekse filosoof Plato was byvoorbeeld van mening lag 'n bedreiging vir die staat; hy het gereken mense wat graag lag, kan nie rasioneel dink nie.

"Dit sê jy is op jou gemak en tuis in jou vel - en maak jou toegankliker."

Kamala kén mense en gaan slim te werk.

"Daardie fluweelhandskoen versteek 'n ysterhand."

En maak geen fout nie, onder die dekmantel van humor kan jy ook mense as onbenullig afkam. Só verwys Kamala en Tim Walz, haar "onderbevelvoerder", na Trump as "weird", volgens Lizz.

Nou, lag is in antieke tye al verpolitiseer.

Die Griekse filosoof Plato was byvoorbeeld van mening dis 'n bedreiging vir die staat; hy het gereken mense wat graag lag, kan nie rasioneel dink nie.

Energie kan nie geskep of vernietig word nie, dit kan net verander word. En lag is die beste manier om negatiewe energie te omvorm in iets positiefs.

Sy leerling Aristoteles, daarenteen, was lief vir lag en het geglo dit onderskei ons van diere. Miskien sou die wêreldgeskiedenis anders gelyk het as ons Aristoteles se voorbeeld meer gevolg het.

Vandag erken die sielkunde die waarde van 'n diep, opregte lag.

"Lag ís die beste medisyne. Dalk 'n cliché, maar dis positiewe energie wat langer duur as die lag. Lag is aansteeklik en verkwik die hele omgewing," sê die komediant Kurt Schoonraad.

"Energie kan nie geskep of vernietig word nie, dit kan net verander word. En lag is die beste manier om negatiewe energie te omvorm in iets positiefs."

Hy het in Mitchells Plain grootgeword, die Engelse kind in 'n Afrikaanse omgewing. En komedie gebruik om uit die moeilikheid te bly.

"Jy maak baie vriende as jy kan lag, ook vir jouself."

Sy oorlede pa, Noel, het altyd gesê: "Moenie jou sin vir humor verloor nie. Die lewe is dan ingewikkeld."

Lag is lank nie 'n teken dat jy mank gaan aan diepte, ambisie of toewyding nie.

Albert Einstein het eenkeer aan sy jong seun geskryf: "Speel hoofsaaklik die dinge op die klavier wat jou plesier gee, selfs al is dit nie 'n opdrag van jou onderwyser nie. Só leer jy die meeste, wanneer jy iets doen wat jou soveel genot gee dat die tyd vlieg."

Sy mede-fisikus Richard Feynman het weer speel en vreugde as teenmiddel vir uitbranding voorgeskryf.

Die moderne wetenskap gee hulle gelyk. Lag laat jou vinniger leer en bevorder motivering.

Studies wys jy onthou meer van 'n les as dit met humor oorgedra word. En kyk jy na iets snaaks soos The Daily Show, kan jy later beter herroep wat gesê is, teenoor die droë aandnuus.

Jy kan jouself tot bo-aan die suksesleer lag, man.

"Humor in magsposisies is lank geassosieer met die aggressiewe vorm daarvan, soos Trump s'n," reken Eva Ullmann, Duitse humorafrigter en skrywer van Humor ist Chefsache (rofweg vertaal Humor is 'n bestuurskwessie).

Die kultuur van humor en lag in die raadsaal is egter besig om te verander. Die besef dat humor ingespan kan word nie net om ander in die verleentheid te stel nie, maar ook om hulle goed te laat lyk, is nog maar 'n nuwe ontwikkeling.

Mense in leierskapsposisies vrees steeds as hulle dit só gebruik, sal hulle 'n gek van hulself maak en nie ernstig opgeneem word nie, sê sy.

Ons eie Pemmy Majodina, minister van water en sanitasie, het vroeër vanjaar onbedoeld die ster by die inhuldiging van die nuwe kabinetslede geword - en die hele land in 'n skaterlag verenig.

Pemmy se tong het gestruikel oor die woord "conscientiously" (pligsgetrou) en 'n roetine-spiets in 'n komiese hoogtepunt verander.

Haar dapper pogings en aansteeklike lag "het nie net die politieke proses vermenslik nie, maar ook die belangrikheid van humor en kameraadskap in hoëdruk-omgewings getoon, veral in 'n regering van nasionale eenheid . . .," volgens IOL (iol.co.za). Daar het jy dit.

Dus help professore Jennifer Aaker en Naomi Bagdonas van die wêreld se mees gedrewe sakelui om meer humor en lighartigheid by hul werk en hul lewe te voeg.

Hulle bied die gewilde kursus "Humor: Serious Business" by die Stanford-universiteit se sakeskool aan. En het 'n hele boek geskryf oor hoe humor en lag jou 'n beter baas en meer doeltreffende werker kan maak.

Die titel is gewigtig: Humor, Seriously: Why Humor Is a Secret Weapon in Business and Life (And how anyone can harness it. Even you).

Leiers wat humor as vaardigheid bemeester het, trek mense aan, volgens hulle.

Deur jou sin vir humor in te span kan jy spanlede motiveer, verenig en inspireer. Werknemers beskou jou as meer toeganklik. En navorsing toon toeganklike bestuurders kan werknemerbetrokkenheid met tot 30 persent verhoog.

Spanne waar humor 'n rol speel, kommunikeer en presteer oor die algemeen beter.

Dis Lizz se ervaring ook.

"Ek is nou 53 jaar in die vermaaklikheidsbedryf en was al by talle groot korporatiewe geleenthede as seremoniemeester, gasspreker of kunstenaar.

"Ek kan vir jou sê en ek praat as buitestander: Base wat met humor die septer swaai, is meer suksesvol, geliefd en gewild. Humor help byvoorbeeld om die bitter pil te versuiker as moeilike situasies en onderwerpe aangeroer word."

Sy noem egter dit moet omsigtig gebruik word. Wat vir een mens en kultuur snaaks is, is dalk vir die volgende een afstootlik.

Wyle Madeleine Albright, eertydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, was iemand wat die krag van humor (weliswaar soms met 'n steek) geken het.

Dae ná 'n Russiese afluisterapparaat (bug) in 1999 in die staatsdepartement se hoofkwartier ontdek is, het sy 'n yslike kewer-borsspeld vir haar ontmoeting met 'n Russiese eweknie gedra.

Sy het glo inderdaad gereeld haar versameling borsspelde gebruik om subtiele boodskappe oor te dra.

Nou lag ons eie pres. Cyril Ramaphosa graag, maar dit laat jou nie juis meer toegeneë voel teenoor hom nie.

"Cyril is soms snaaks, hy was die eerste ruk vir mense nogal innemend. Hy kan vir homself lag en dit ontwapen jou," volgens Kurt. Hy reken egter Cyril het te veel beloftes gemaak wat nie nagekom is nie.

"Om saam met iemand te lag is 'n klein bietjie vertroue nodig. Ons het daai vertroue verloor. ‘Basta, ek wil nie meer lag nie.'"

Lag en die wêreld lag saam . . . Wel, soms . . .

Komediante vertel gereeld 'n gehoor wat lekker lag, het 'n soort magiese krag. Hoe dit hulle vlerke gee en 'n goeie vertoning verhef tot een wat uitstekend is.

"As iemand in die gehoor hardop lag, daardie diep-uit-die-maag lag, soek ek daai een en speel vir hom. Hy's die energie in die vertrek en dryf die res van die gehoor," deel Kurt sy "geheime Ninja-wapen".

Voor iemand hartlik begin lag, is daar 'n hoorbare intrek van asem, sê Margit. Op die verhoog zoem sy dáárop in . . . en kry die gehoor se ritme.

"En dan begin jy saam met hulle asemhaal. Magic!"

"Think funny" is die woorde op die Laugh Floor se muur in die fliek Monsters, Inc.

Vreesbevange kinders se gille word snags vir hul energie geoes. Dan volg die besef dat lag 'n beter bron van energie is - en inderdaad tien keer meer krag as 'n gil produseer.

In die slottoneel word die Scare Floor dus deur die Laugh Floor vervang en die fokus is nou om die kinders te laat lag.

Hoekom verskaf 'n laggie, giggel, hie-hie of grinnik meer energie in die Monster- én mens-wêreld?

Dalk omdat negatiewe emosies in ons gedagtes bly broei en knoei, maar positiewe emosies is sterker, lig ons op en gee ons vlerke.

* Die Amerikaanse presidentsverkiesing het op 5 November plaasgevind. Dié SARIE was reeds gedruk.

Bykomende bronne: inc.com, dw.com, theconversation.com

SPELETJIES VANDAG

CTA