Welstand

Kankeroorwinnaars: Diagnose nie jou einde nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto:
Foto:

'n Borskankerdiagnose is baie oorweldigend. Vroegtydige sifting en diagnose van die siekte kan jou kans op oorlewing drasties verbeter. Die beste raad is altyd om diep asem te haal en om dit dag vir dag te vat en te fokus op jou nuwe reis. Gesond! het met drie kankeroorwinnaars gesels oor hul kankerreis.

Melany dankbaar sy is nog kankervry

Toe borskanker (medullêre karsinoom van die regterbors) in 2007 op 37-jarige ouderdom by Melany Meyer gediagnoseer word, was haar onmiddellike en grootste bekommernis haar twee kinders.

"My dogter was met my diagnose maar vyf en my seun een jaar oud. My man het in Angola gewerk en ek kon nie anders as om te wonder wat van my kinders gaan word nie. Ek het die dokter gevra om my man te bel en die nuus van my diagnose aan hom oor te dra.

"Ek het in daardie stadium reeds 'n baie nou band met Jesus gehad, maar het ook 'n warboel van emosies gehad. Ek moes in 'n kort rukkie se tyd sin probeer maak van wat besig was om met my te gebeur."

Op 12 Desember 2007 het sy 'n mastektomie gehad.

"Op 19 Desember keer my man terug en vind my met twee wonddreineringsbuise en 'n sakkie vir die dreineringsbuise wat ek sommer om my nek gehang het. Ek was bekommerd oor my huwelik. Hoe sou my man rea­geer wanneer hy my die eerste keer met net een bors sien? Dit was regtig 'n moeilike tyd.

"Ek is dankbaar. Ek het goeie ondersteuning gehad van my man, my ouers, vriende, familie, kollegas en my kerk.

"Ek het ook goeie ondersteuning van Reik Na Herstel ontvang, wat my van 'n tydelike borsprostese voorsien het. Ek het doelbewus gekies om positief te bly en myself verseker dat alles oukei sal wees."

Ongeveer 14 dae ná haar eerste chemosessie het haar hare begin uitval.

"Dit was baie moeilik. Ek het besluit om van 'n pruik en bandanas gebruik te maak om 'n bietjie gemakliker te voel. Ek het ook voorkomende bestraling gehad."

Sy het later limfedeem in haar regterarm ontwikkel en moes gebruik maak van 'n kompressiekous.

"In 2010 het ek 'n borsrekonstruksie gehad.

"Ek is dankbaar om te kan sê dat ek tans steeds kankervry is en die geleentheid het om my kinders te sien grootword. Ek gaan steeds vir my roetine-opvolgondersoeke. Al die eer aan Jesus!"

Zelda Claassen
Zelda Claassen

Zelda fokus op positiewe gedurende haar reis

Toe Zelda Claassen in 2012 'n knop in haar bors gevoel het, het sy haar bes gedoen om dit te ignoreer.

"Later, een oggend terwyl ek stort, voel ek 'n nog groter knop onder my arm en besluit daar en dan om liewer my huisdokter te gaan sien. Hy verwys my toe na 'n chirurg in George wat die nodige ondersoeke weer van sy kant af gedoen het."

Twee dae later kry sy bevestiging dat sy borskanker (duktale karsinoom, fase 3) het. Sy was 47 jaar oud.

Chirurgie het gevolg en die knop is uit haar bors verwyder, asook 'n paar limfkliere.

"Ek is ná die chirurgie na 'n onkoloog verwys wat op sy beurt my finale diagnose, asook 'n voorgestelde behandelingsplan, met my bespreek het. Ek moes chemo kry, gevolg deur 32 bestralingsessies."

Zelda sê sy was daarop voorbereid dat haar hare ná 14 dae van haar eerste chemo gaan begin uitval.

"En dit het net so gebeur! Om myself die trauma te spaar van 'n kussing vol hare elke oggend het ek alles afgeskeer. Dit het vir my gewerk.

"Ek het doelbewus besluit om op die positiewe te fokus. Ek het gekies om elke dag drie liter water te drink. Dit het my 'n bietjie beheer gegee. Ek is dankbaar ek het nooit siek geword van die chemo nie.

"Ek het deur my chemoterapie elke keer een dag ná chemo by die huis gebly, maar kon die volgende dag teruggaan werk toe. Ek was toe en is steeds 'n werkende vrou."

Zelda sê sy het ook moeite met haar voor­koms gedoen.

"Ek het die mooiste kopdoekies gedra. Dit het my ook baie gehelp.

"Ek het gekies om te aanvaar dat dit is wat dit is en bewustelik besluit dat ek hierdeur wou kom.

"Ek het geweet die lewe gaan voort.

"Die kankerdiagnose was vir my uiteinde­lik net nog 'n inskrywing in die boek van my lewe­, iets waarop ek kan terugkyk en sê: ‘Been there, done that.' "

Lizette De Kock
Lizette De Kock

Lizette soos 'n 'proteablom' ná diagnose

Toe borskanker (fase 3, HER2-positief) in 2021 op 37-jarige ouderdom by Lizette De Kock gediagnoseer is, en was sy nie ten volle opgevoed oor kanker nie.

Daar was ook geen geskiedenis van kanker in haar familie nie.

"My gedagtes was dat ek gaan sterf. Ek het 'n mastektomie, 16 rondes chemoterapie en 15 rondes bestraling ontvang.

"Ek het ná die tweede chemosessie my hare verloor.. Ek was verpletter, want elke vrou hou tog van haar hare."

Volgens haar het God engele op haar reis geplaas en nie een keer het sy die geleentheid gehad om te dink sy sal sterf nie.

"My chirurg het vir my gesê ons sal dit oorkom.

"By Cancercare het die onkologie- maatskaplike werker en die pasiëntberader my bemagtig om my eie sterk punte te vind, en maniere om my lewe soos normaal voort te sit, om my kankerdiagnose en -behandeling in my lewe te laat inpas en nie my lewe te wórd nie."

Sy sê sy is vandag beter en sterker, en verwys na haarself as 'n proteablom.

" 'n Protea brand in 'n veldbrand tot op die grond af, maar stel in die proses saad vry om weer uit te spruit. 'n Protea is 'n blom van krag, moed en veerkragtigheid.

"Ek is verbrand. Ek het 'n paar dinge tydens hierdie reis verloor, maar soos die protea het ek weer begin uitspruit.

"Jy is dapper. Glo dit!"

GEBORG

CancerCare

Die CancerCare-groep ondersteun vanjaar kanker-oorlewingsmaand. CancerCare is goed gevestig as 'n vooraanstaande verskaffer van holistiese onkologiebehandeling in Suid-Afrika. Hierdie multidissiplinêre spanne van radioloë, neurochirurge, pediatriese chirurge en ander gesondheidspersoneel is toegewyd om elke pasiënt te ondersteun. Stap gerus jou reis saam met hulle!

Gesond-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM