Om vir kankerpasiënte of terminaal siek mense op hul laaste te sorg, is iets waarvoor nie almal kans sien nie, maar vir dié palliatiewe verpleegster is dit 'n lewenstaak, skryf Ernusta Maralack.
As daar een mens is wat alte goed verstaan waardeur kankerpasiënte en hul families gaan wanneer die pasiënt op hul sterfbed lê, is dit Cherry Armstrong (64), 'n palliatiewe verpleegster van Durban.
Cherry is al in haar beroep vir die afgelope 29 jaar en is ook 'n streskonsultant wat oor die jare met verskeie aspekte van kanker, tuberkulose (TB) en MIV/vigs gewerk het. Sy was ook al projekbestuurder vir verskeie onkologieproewe te make met die behandeling van verskeie kankers.
En, waarsku sy, bly eerder weg van "Dokter Google" af nadat jy of 'n geliefde 'n kankerdiagnose ontvang het. Dis beter dat jou onkoloog jou eerder lei oor jóú toestand.
Cherry het oor die jare paaie gestap met talle kankerpasiënte wat die stryd teen kanker verloor het en hul families. Sy het ook haar eksman bygestaan, wat weens kanker gesterf het.
So, Cherry weet hoe moeilik en verwarrend die reis kan wees ná 'n kankerdiagnose, daarom hoop sy haar boek boek, Cancer: Navigating the Journey, kan sowel kankerpasiënte as hul families praktiese leiding en advies gee in hierdie moeilike tyd. Haar boek is by alle goeie boekwinkels beskikbaar.
Die skryf van haar boek was egter nie 'n vinnige proses nie en dit het haar 15 jaar geneem om die boek te voltooi, vertel Cherry.
Dit was 'n proses van notas hiér maak en nog 'n paar gedagtes dáár neerskryf voordat haar boek in Oktober, wat gewoonlik die maand vir kankerbewusmaking is, die lig gesien het.
Die idee vir haar boek het gekom omdat sy in haar loopbaan gesien het hoe vrees mense heeltemal oorweldig nadat hulle 'n kankerdiagnose ontvang het; dat hulle dikwels nie weet wat hul kanker-reis gaan behels nie, en dalk nalaat om praktiese dinge (soos onder meer hul testament) gereed te kry.
Kry die praktiese dinge gereed
Dit klink dalk klinies en koud om die opstel of opdatering van testamente, die opdatering van begunstigdes of om seker te maak jy het versekering op jou skuld (soos lenings) uitgeneem, in so 'n emosioneel-senutergende tydperk as belangrik te beskou, maar dit kan jou geliefdes baie moeite spaar as jy die dag nie meer hier is nie, meen Cherry.
"Wanneer iemand met kanker gediagnoseer word, is daar soveel emosies wat jou oorval en die grootste hiervan is vrees. Jy het nie die nodige kennis nie en weet nie waarheen om te gaan van daardie punt af nie.
"Ek het oor die jare geleer daar is 'n ontbrekende skakel van die diagnose af tot die prosesse (soos onder meer chemoterapie) wat daarna volg," sê Cherry.
En, waarsku sy, bly eerder weg van "Dokter Google" af nadat jy of 'n geliefde 'n kankerdiagnose ontvang het. Dis beter dat jou onkoloog jou eerder lei oor jóú toestand.
Cherry raai geliefdes van die kankerpasiënt aan om ook kalm te probeer bly ná die diagnose, al pak die vrees jóú ook beet in daardie stadium.
"Vriende is só belangrik, want hulle kan jou help om net eenvoudig asem te haal deur alles. Jy en jou maat móét ook op dieselfde bladsy wees oor die pad of benadering vorentoe en hoe jy hierdie reis gaan bestuur," sê Cherry.
Behalwe vrees is die ander emosie wat dikwels in kankergevalle opkom woede en daarna aanvaarding.
Aanvaarding is belangrik
Dis juis wanneer die kankerpasiënt sy of haar diagnose of lot aanvaar in terminale gevalle, dat die palliatiewe proses hierna iets moois en vol lig kan word, vreemd soos dit mag klink, meen Cherry.
"In palliatiewe gevalle is dit belangrik om te weet dat daar geen behandeling meer is nie - die dood is onvermydelik. Palliatiewe sorg gaan nie daaroor om die dood te bespoedig óf om die lewe te verleng nie. Dit gaan daaroor om die pasiënt se pyn te bestuur en hulle gemaklik te maak," verduidelik Cherry.
Families moet in hierdie tye ook eerlike gesprekke hê oor of hulle wel in staat is om na 'n terminale kankerpasiënt te kan omsien, en of hulle van 'n hospies se dienste gebruik moet maak.
Cherry se ma was ook 'n verpleegster en sy moes gereeld na haar sibbe kyk. Die passie vir haar medemens en om haar gemeenskap te dien het tóé al in haar begin brand.
So, haar pad na wat sy vandag doen, was natuurlik en 'n roeping.
"Mense wat in die eindfase van hul lewe is, het teen dan al gewoonlik hul lot aanvaar en het vrede. Die belangrike ding dan is om seker te maak jy maak vrede met alles en almal en dat jou sake (trusts, testamente, ensovoorts) in orde is. Daar ís lig in die dood en dit sien ek in die kalmte en aanvaarding in my pasiënte," voeg Cherry teer by.
Cherry sien ook nie die dood as hierdie skrikwekkende plek om te wees nie - veel eerder as 'n ander dimensie waarheen mense beweeg.
Sy het ook al geleer dat onafgehandelde sake mense op hul sterfbed gewoonlik die meeste pla, daarom raai sy elkeen aan om ontslae te raak van enige skuldgevoelens. "Laat skuldgevoelens gaan, want dit affekteer jou as mens."
Laaste advies
Volgens haar het dokters eenvoudig nie genoeg tyd om al die vrae van elke pasiënt te beantwoord nie, en dis waar haar boek kan help.
"Die boek is op 'n praktiese wyse geskryf en saamgestel. Dis ook nie so medies geskryf dat jy dit nie sal verstaan nie. Dis 'n boek wat jy kan optel en neersit. Jy kan reguit gaan na die hoofstuk wat handel oor die fase waarin jý is en waaroor jy vrae het," verduidelik Cherry.
Kanker is 'n siekte wat vrees inboesem en vir sommige mense is dit beter om nie te weet of dáárdie diagnose te kry nie, wanneer hulle voel iets is nie heeltemal pluis met hul liggame nie.
Cherry waarsku hierteen.
"Die grootste ding is om as jy 'n knop in jou bors voel (borskanker) en iets vreemds in jou urine opmerk (prostaatkanker), mediese hulp te kry. Hoe langer jy dinge net so los, hoe erger gaan die uitkoms wees. Maak eerder seker dat alles wel oukei is," beveel Cherry aan.





















