Leef

Tennislegende in nuwe kankerstryd

Martina en Chris omhels mekaar ná 1978 se Wimbledon-eindstryd waarin Martina geseëvier het.
Martina en Chris omhels mekaar ná 1978 se Wimbledon-eindstryd waarin Martina geseëvier het. (Getty Images)

Maar Chris Evert se groot stryd speel nie nou op die baan af nie.

Die Amerikaanse tennislegende het onlangs bekendgemaak dat haar ovariale kanker die derde keer terug is. Evert (71) het in Junie bevestig sy is reeds geopereer en sou met chemoterapie begin.

“Ek het nog altyd geglo dis belangrik om openlik en eerlik oor my gesondheid te praat,” het sy gesê. “Die kanker is meedoënloos, maar ek sal optimisties en vasberade bly.”

Sy het nie vanjaar Wimbledon bygewoon nie en ook eers haar professionele verpligtinge, onder meer as tenniskommentator, laat vaar terwyl sy op haar behandeling fokus.

“Chrissie” se loopbaan was merkwaardig: Sy het meer as 90 persent van haar enkelspel-wedstryde gewen, en vir 260 weke was sy die wêreld se nommereen-vrouespeler.

Die Evert-Navratilova-stryd was een van die bekendstes in die sport se geskiedenis. Op die baan was sy en Martina Navratilova gedugte teenstanders, maar weg van die baan hegte vriendinne – nog meer so toe albei later teen kanker geveg het.

Evert het vir miljoene gewys hoe fokus op die baan lyk. Nou herinner sy vroue om na hul liggaam te luister en die nodige vrae te vra.

“Word jou eie kampvegter,” sê sy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM