Celebs

Studie bekyk Nataniël

’n Fotosessie met SARIE, Februarie 2011, kort voor sy produksie 'Knowing your Microwave and other Magical Moments'.
’n Fotosessie met SARIE, Februarie 2011, kort voor sy produksie 'Knowing your Microwave and other Magical Moments'. ( Clinton Lubbe)

Hardus Ludick, ’n dosent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het sewe jaar met die werk van Nataniël gestap voor hy sy MA-graad in algemene taal- en literatuurwetenskap met die studie “Nataniël en sy stories: ’n Verkennende postuur-studie van Nataniël se verhaalkuns” kon voltooi.

“Ek is sedert 2023 ’n dosent in akademiese geletterdheid en geniet die stadsdorp-kenmerke van Potchefstroom, maar ek bly ’n plaaskind van die uitgestrekte mielielande van Bothaville en Sannieshof se songebakte grasvelde.”

Die saad vir sy studie oor Nataniël is reeds in 2019 geplant toe hy saam met dr. Janien Linde en prof. Phil van Schalkwyk ’n vertoning van Nataniël bygewoon het.

“Ons het besef dit is ’n heerlike studie-onderwerp en dr. Linde en prof. Van Schalkwyk het my studieleiers geword.”

Hy moes onder meer werk deur 336 stories, wat in daardie stadium gepubliseer was.

“Ek het byna in die magdom inligting verdrink.”

Sy steunpilare was vriende, sy ouers, Gerrie en Ilze Ludick van Bothaville, sy suster, Soané Ackerman, en haar man, Paul, van Pretoria.

“Ek geniet Nataniël se werk al sedert ek as tiener ’n DVD-opname van sy vertoning Cathedral by my klavieronderwyseres op Bothaville, tannie Edna Grové, geleen het. Ek het al Nataniël se boeke by die dorpsbiblioteek uitgeneem.”

Nataniël het hom gehelp om sekere inligting te kry.

“Maar ons het nie oor die studieveld self gesels nie. Ek het as akademikus die studie van Nataniël se werk benader.”

Die meestersgraad self het vier jaar geneem, hoewel hy reeds in 2016 as derdejaarstudent ’n skripsie oor Nataniël se stories gedoen het.

Sy meestersverhandeling verwys na Nataniël as “volkskrywer”.

“Hy is ’n grapjas en spekskieter, maar ook ’n narrepredikant. Daar is ’n les binne-in die lag.”

Ons verstáán Nataniël se stories, want hy verstaan ons, meen hy.

“Dis stories oor mense waarmee ons kan identifiseer.”

Hy noem dat Nataniël self erken hy skryf altyd met verbeelding.

“’n Gelykenis hoef nie waar te wees nie, solank dit vir ons iets leer wat wel die waarheid is.”

Hardus Ludick
Hardus Ludick (Foto: Verskaf)

Hardus het sy MA cum laude geslaag en boonop die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Marius Jooste-prys vir die beste verhandeling in Afrikaans ontvang. ’n Doktorsgraad wink reeds op sy horison.