Welstand

SA ‘lag’ probleme weg

(Getty Images)

Die Tsjegge is in die eerste plek, daarna volg Portugal, Ierland en België. SA staan op nommer 19. (Netwerk24)

Maar wag ’n bietjie: Ons behaal die hoogste tellings vir “affiliatiewe” en “selfversterkende” humor, wat as die twee positiefste humorstyle beskou word.

In gewone taal: Ons maak graag grappies onder mekaar en in tye van krisisse kan ons vir onsself en ons omstandighede lag.

Ander lande wat lief is vir korswel, sluit in Ierland, Portugal, Mexiko en Denemarke.

Dié tipe humor help veral in situasies wat ongemaklik kan wees, soos mense wat mekaar die eerste keer ontmoet. Volgens die studie help selfversterkende humor as sielkundige buffer om in stresvolle tye optimisties te bly.

Die Filippyne volg op Suid-Afrika en daarna die VSA, Brasilië en Ierland . . .

Leon Schuster, een van ons voorste komediante, reken min ander lande moet soveel uitdagings en traumas soos Suid-Afrika te bowe kom.

Dink maar aan ons misdaad en korrupsie. Hy vertel lag is die beste medisyne vir ’n land wat ’n vorm van depressie ervaar. En ja, dit werk ook in sy eie lewe om pyn hok te slaan.

“Ons lag om te oorleef . . . Komedie help om sin uit sinneloosheid te maak. En belangriker, om ons frustrasies te verwoord sonder om te skree (wel meesal),” skryf Sarah Mitchell in ’n artikel “Why South Africans will Always Show up for Comedy” (computicket.com).

Vir die Amerikaanse skrywer en humoris Mark Twain was lag die mens se grootste wapen.

Dr. Marlize Heppell, sielkundige van Klerksdorp, stem saam.

“Humor is een van die beste streshanteringsmeganismes. Dit maak enige sosiale interaksie beter en help om met ’n ligter gemoed na probleme te kyk – veral as jy oorweldig voel deur stres en perspektief verloor.

“Wanneer jy negatief raak, probeer gerus lág. Dit stel goedvoelhormone vry. Ons humorsin hou ons veerkragtig en help dat ons die groter prentjie sien,” glo sy.

Die Amerikaanse digter Robert Frost het tereg gesê: “As ons nie kan lag nie, sal ons gek word.”