Welstand

Só kan mans mondgesondheid prioriteit maak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Baie mans het, vergeleke met vroue, nie goeie mondgesondheidgewoontes nie en gaan nie gereeld tandarts toe nie.

Dit is die bevinding van 'n studie wat onlangs in die Journal of Dentistry gepubliseer is.

Alhoewel dit nie akkuraat is om te sê dat álle mans met mondgesondheid sukkel nie, is daar sekere faktore wat daartoe kan bydra dat mans meerkwessies met mondgesondheid het as vroue, sê Dirna Grobbelaar, mondhigiëne-adviseur vir Ivohealth en lid van die Mondhigiënistevereniging van Suid-Afrika (Ohasa.

Een van die redes is dat mans meer reaktief as proaktief is wanneer dit kom by die versorging van hul tande en tandvleis, sê sy. Dit kan lei tot tandprobleme wat eintlik maklik voorkom sou kon word.

"Mans is gemiddeld minder geneig as vroue om die tandarts gereeld te besoek. Gereelde tandheelkundige besoeke is belangrik vir voorkomende sorg, soos skoonmaak en ondersoeke wat kan help om mondgesondheidsprobleme vroegtydig op te spoor en te takel," sê Grobbelaar.

"Wanneer tandheelkundige sorg nagelaat word, kan 'n mens meer geneig wees om mondgesondheidskwessies te ontwikkel wat mettertyd ernstiger kan raak."

Lewenstylkeuses is nog 'n faktor, sê sy. Mans wat byvoorbeeld baie rook en tabak gebruik, loop 'n groter risiko om verskeie mond­gesondheidsprobleme te ondervind, waaronder tandvleissiekte en mondkanker.

Sekere samelewingsverwagtinge en stereotipes kan ook mans se gedrag beïnvloed wanneer dit by mondgesondheid kom.

Mans is moontlik minder geneig om op selfversorging te fokus en vroeë hulp vir tandheelkun­dige probleme te soek weens 'n besorgdheid dat hulle kwesbaar kan voorkom. Dit kan daartoe lei dat mondgesondheidskwessies eers later aandag kry en dit kan die probleem vererger.

En dan is daar algemene mondgesondheidsorg.

"Vergeleke met vroue is mans geneig om minder tussen hul tande te vlos, nie so gereeld tande te borsel nie en nie ander mondgesondheidsprodukte soos tongskrapers en mondspoelmiddel te gebruik nie," sê Grobbelaar.

Gelukkig is dit nooit te laat om na jou mondgesondheid te begin omsien nie en mans het baie maniere om proaktief te raak om hul glimlag te beskerm.

Borsel behoorlik

Die eerste stap is om jou tande deeglik te borsel, twee keer per dag en vir minstens twee minute op 'n keer.

Grobbelaar sê om jou tande behoorlik te borsel is die belangrikste stap om toestande soos tandvleisontsteking (gingivitis) en tandbederf te voorkom.

Kies 'n gehalte-tandeborsel - óf 'n elektriese tandeborsel óf 'n gewone tandeborsel met sagte hare. As jy bloeding ervaar wanneer jy borsel, probeer 'n professionele gehalte-tandepasta.

Volgens dr. Stephne Fenwick, 'n tandarts en kliniese adviseur van Ivohealth, dink baie mense dat borsel genoeg is om die mond skoon te hou. Selfs wanneer dit vir 'n volle twee minute korrek gedoen word, sal borsel slegs ongeveer die helfte van die plaak op jou tande en tandvleis verwyder.

Fenwick beveel daaglikse interdentale skoonmaak aan om enige plaak te verwyder wat tussen die tande vasgevang is waar jou tandeborsel eenvoudig nie kan bykom nie.

Gelukkig is daar 'n magdom gereedskap beskikbaar om skoonmaak tussen jou tande eenvoudig en maklik te maak. Vlos is die algemeenste, en met die baie soorte wat beskikbaar is, is daar een vir elke voorkeur.

En moenie jou tong vergeet nie. Die tong se oppervlak het klein groewe waar bakterieë en plaak kan ophoop - almal moet daagliks hul tong skoonmaak met 'n tongskraper.

Gebruik mondspoelmiddel as 'n laaste stap.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM